Sternagel weer reg vir aksie

Motorsport
Tielman Van Lill
Die vierde byeenkoms van die Namibiese Motorsportfederasie se nasionale langbaankampioenskap het Saterdag by die Tony Rust-renbaan vir opwindende renne tussen Richard Slamet, Mark Sternagel en Alan Martin in die Superkar-afdeling gesorg.

Hoewel Martin op 25 Junie tydens die derde been by dieselfde venue ’n benoude oomblik beleef het toe sy remme op topspoed onklaar geraak het, was hy Saterdag terug op die baan.

Toe Martin in die pylvak wou rem, was daar geen remme nie en moes hy die handrem gebruik. Sy Golf 5 het die veiligheidsreling van bande getref, deur die lug gevlieg, verskeie kere getol en buite die baan tot stilstand gekom. Die eindresultaat was ’n gebreekte rib en verskeie kneusplekke en sy kar was buite aksie.

Sternagel, eintlik by uitstek ’n motocross-motorfietsjaer, het verlede jaar Augustus by die Phakisa-baan by Welkom tydens ’n MX-byeenkoms ’n fratsongeluk gehad waar hy sy been, regterskouer en sleutelbeen gebreek het. Hy is die volgende dag geopereer en was onder die indruk dat hy sommer in ’n japtrap weer sou kon jaag.

Maar sy been, wat met penne geheg was, wou nie aangroei nie en hy was gou weer onder die mes. Sternagel se voorland was twee maande in ’n rolstoel terwyl die been eenvoudig sy eie kop gevolg het.

Die herstelproses was stadig, maar Sternagel het vroeër vanjaar besluit om intussen sy frustrasie met langbaanrenne te verlig en hy het uitstekend in sy blitsige BMW gevaar. Hy het Saterdag sy eie nasionale baanrekord verbeter.

Sternagel het aan Republikein gesê: “Dit was ’n suksesvolle dag op die baan. Die eerste resies het sonder probleme geëindig, maar in die tweede resies het ek ’n pap wiel gekry en moes terug kuipe toe.

“In die tweede ren het ek my nasionale baanrekord van 63.72 sekondes wat ek Saterdag in die eerste ren behaal het, tot 63.57 verbeter.

“Ek sal Saterdag by die Gallina-baan vir die eerste keer ná bykans ’n jaar weer vir die eerste keer aan ’n MX-byeenkoms deelneem. Ek sal in die Ope-klas jaag en aan die einde van die dag die King of the Dirt-kompetisie saam met die topjaers van die dag aandurf.”

Saterdag se uitslae

Superkarre: 1 Richard Slamet, 2 Mark Sternagel, 3 Allan Martin.

Clubmans-klas B: Michel Rust.

Klas D: 1 Ewald Bisschoff, 2 Wayne Rust, 3 Michael Strydom.

Klas X: Hein Bisschoff.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!