• Tuisblad
  • Sport
  • Stonehouse: ‘Ruan het wedstryd van sy lewe gespeel’
Ruan Pienaar vier die eindfluitjie en die Cheetahs se Curriebeker-triomf, met ’n teleurgestelde Wian van Niekerk van die Pumas in die agtergrond. Foto Gallo Images
Ruan Pienaar vier die eindfluitjie en die Cheetahs se Curriebeker-triomf, met ’n teleurgestelde Wian van Niekerk van die Pumas in die agtergrond. Foto Gallo Images

Stonehouse: ‘Ruan het wedstryd van sy lewe gespeel’

Curriebeker-eindstryd
Marnus Kok
Ruan Pienaar en die Vrystaat-Cheetahs se verdediging is die vernaamste redes waarom die Pumas in die Curriebeker-eindstryd vasgeval het, sê Jimmy Stonehouse, afrigter van die Laevelders.

Die Cheetahs het Saterdag die Pumas, verlede jaar se Curriebeker-kampioen, met 25-17 in die eindstryd in Bloemfontein geklop.

“In die eerste plek, geluk aan die Cheetahs met die oorwinning. Ek dink hulle het ons onder druk geplaas, amper sê ek met hul onkant-verdediging, met hul opskietverdediging,” het Stonehouse ná die wedstryd op ’n mediakonferensie in die Toyota-stadion gesê.

“Dis sleg vir ons om te verloor. Daar is sekere dinge wat hulle goed gedoen het. Ek dink Ruan Pienaar (losskakel van die Cheetahs) het een van sy beste wedstryde nog gespeel. Dis nie vir ons lekker nie, maar daar moet ook ’n verloorder wees – dis die lewe.”

Die Pumas, wat bekend is as ’n span wat die bal kan rondgooi en opwindende hardlooprugby opdis, is min beweegruimte gegun. Hulle het gesukkel om aan die gang te kom en kon die meeste kere wanneer hulle in die Cheetahs se kwartgebied was dit nie in punte omskep nie.

“Ons skrum, hulle loskop gly, maar jy kry ’n strafskop teen jou. Dit is daardie beslissings wat net so wel na die ander kant toe kon gegaan het. Maar as dit nie in jou guns is nie, kom jy nie op die voorvoet nie,” het Stonehouse gesê.

“Hul verdediging het ons regtig onder druk gesit. Ek dink hulle was goed daarmee. Ons kon nie uit ons kwartgebied kom soos wat ons graag wou nie. Dit is waar ek dink die wedstryd in hul guns geswaai het.”

Oor die algemeen het die Pumas stewig in die vaste fasette vertoon. Tog was daar klein jakkalsies wat hulle op die dag duur te staan gekom het – soos ’n skewe lynstaan-ingooi hier en ’n afskop wat direk uit is daar.

Stonehouse het gesê die Pumas se dissipline was nie goed genoeg nie. Volgens statistieke op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se webblad het die span van Mpumalanga agt strafskoppe afgestaan.

“Ons het te veel strafskoppe afgestaan en dit het ons onder geweldige druk geplaas. Ons het probeer om terug te veg, maar ons kon dit nie in punte omskep nie,” het Stonehouse bygevoeg.

“Maar alle krediet aan hulle. Hulle het ons onder baie druk geplaas. Dis ’n welverdiende oorwinning.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!