Stormers is ‘Jan en Alleman se span’
Rugby
’n Span vir Jan en Alleman. Só het John Dobson sy Stormers verklaar nadat ’n rekordskare van 47 261 toeskouers kom kyk het hoe hulle vir Connacht in hul Verenigde Rugbykampioenskap-halfeindstryd in die DHL-stadion klop.
Tot voor Saterdag was die grootste bywoningsyfer dié seisoen die 45 436 mense wat in Oktober verlede jaar die Ierse derby tussen Leinster en Munster in Dublin gekyk het.
Selfs ’n groter skare word nou verwag wanneer die Stormers en Munster op 27 Mei in Kaapstad in die eindstryd speel.
“Hierdie span is uniek. Hy behoort aan die mense van oral oor die demografie heen, arm en ryk. Dít is die verbintenis wat vir ons só belangrik is,” sê Dobson, onder wie se afrigting die Stormers nou vir agtereenvolgende seisoene die eindstryd van die VRK gehaal het.
“Ons het voor die wedstryd in die kleedkamer gepraat oor hoe volgepak die wespaviljoen was, waar kaartjies R300 gekos het. Die mense het ook nie soos die soort gelyk wat van Clifton af kom nie. Dit was gewone mense wat ’n opoffering maak om daar te wees eerder as om as ’n familie elders heen te gaan.
“Daar is ’n polisiehoof by ’n tak op die Kaapse Vlaktes wat gesê het dat daar minder geslagsgeweld op ’n aand is wanneer die Stormers wen. Jy kan daarin lees wat jy wil. Dis uiters sterk.”
Dobson hoop om die Stormers in die komende jare as een van die voorste klubspanne in wêreldrugby te vestig.
“Indien die Wêreldklubkampioenskap-kompetisie in 2025 ’n werklikheid word, móét ons daar wees en ek dink ons is goed op pad,” sê hy.
“As ons ons voedingsbronne ontgin en met die passie en steun wat ons hier het, kan ons iets baie spesiaal skep.”
Hierdie span is uniek. Hy behoort aan die mense van oral oor die demografie heen, arm en ryk.
Die Stormers het dit dié seisoen ook die kwarteindronde van die Europese Kampioenebeker-reeks gehaal en Dobson meen hulle kan eersdaags die koopkrag hê om ook dáár onder die aanspraakmakers te tel. Mits die Westelike Provinsie se klubs dit goedkeur, sal ’n aandeel in die unie se sakevleuel binnekort verkoop word en sal geld na die beroepspan toe vloei.
“Daar gaan ’n ekwiteitstransaksie wees en Steven Kitshoff sal oor ’n paar jaar terugkeer en speel tot hy ouer as Brok Harris is! Ek dink ons beweeg in die regte rigting,” sê Dobson.
ADMINISTRATEUR
Intussen het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Sondag in ’n nuusverklaring ontken dat Chris Swift in Rian Oberholzer se plek as die nuwe administrateur van die WP Rugbyunie aangestel is.
Swift se betrokkenheid by die WP het deur die loop van verlede week rugbaar geraak en Rapport het Sondag berig dat hy inderdaad die nuwe administrateur is.
Saru sê egter ’n aankondiging sal gedoen word sodra sy uitvoerende raad ’n aanbeveling van die finansiële komitee deeglik bespreek het.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie