Superliga se afrigters soek kontinuïteit

Skolerugby
Die heersende titelhouer WAP bevind hom in die voorste posisie.
Andrew Poolman
Volpunte vir die drie groot rugbyskole van die hoofstad is die uiteinde van die eerste volle naweek van wedstryde in die Standard Bank Onder 19 Superliga.

Nadat Samsung Windhoek Hoërskool in die vorige naweek se enigste wedstryd die vroeë voortou geneem het deur sy wegwedstryd teen Dr. Lemmer met 29-14 te wen, het sy ander twee uitdagers van die hoofstad ook oorwinnings behaal om te verseker dat net punteverskille hulle tans in die boonste plekke onderskei.

Die heersende titelhouer van 2019, KMC One Construction Windhoek Affies, het op sy tuisveld in Pionierspark ’n oorheersende sege met 43-3 teen Dr. Lemmer ingeryg.

Vyf van WAP se sewe drieë is in die tweede helfte gedruk, nadat hulle rustyd met net 12-0 voor was. Die samespel tussen voor- en agterspelers het in die tweede helfte heelwat beter begin vertoon, hoewel die lynstane nie deurentyd vlot verloop het nie.

In ’n onderhoud ná die eindfluitjie het Affies se afrigter Johan Zaayman gesê die regte soort energie het in die vorige week op die oefenveld begin terugkeer.

“Ek het in die eerste helfte meer van my spelers verwag en het dit ook rustyd vir hulle gesê. Dit het daarna darem heelwat beter begin lyk.”

Zaayman sê sy senior spelers het hul kant gebring, soos die sterk en ervare senter Jonathan Hanekom, wat vanjaar ook vir die Namibië o.19-toer gekies was.

“In die middelveld is hy ’n yster en hy rig skade aan. Hy organiseer ook ons spel goed.

“Behalwe vir sy geel kaart het SG Maritz (flank) ’n goeie tweede helfte gehad, nadat Heinrich Geldenhuys (agtsteman) van vroeg af goed gevaar het op die verdediging. Fanus Jurgens het ’n verskil gemaak toe hy as skrumskakel opgestuur is – net soos Van der Merwe Tromp as die plaasvervanger losskakel.”

Oor sy vooruitskouing van die seisoen sê Zaayman: “Ons weet daar is geen span in hierdie liga vir wie jy kan geringskat nie. Dis gewoonlik jou uitslae in wegwedstryde wat uiteindelik bepalend is. Vir ons lê wegwedstryde teen Walvisbaai en Moria en Pro-Ed voor, wat die spanne van buite Windhoek betref.”

GIMNASIUM

Schoemans-groep Windhoek Gimnasium moes op hul reis na Outjo met tye hard werk om die Bere van OK Foods Moria met 29-24 onder te kry, hoewel die noordespan ’n welverdiende verloorbonuspunt bygevoeg het.

Gimnasium se driedrukkers was die flank Jorick Muir, haker Henre Schrader, flank Dirk Theunissen, heelagter Divan Steyn en senter Stefan Gildenhuys. Losskakel JW Visagie het met twee doelskoppe geslaag.

Die Outjo-span se flank Kevin Germishuys het twee drieë gedruk, terwyl linkervleuel Tolley Tjipute 14 punte met vier strafdoele en een doelskop aangeteken het.

Moria se nuwe hoofafrigter, Pieter-Willem Esterhuizen, sê: “Moria het nie goed gespeel in die eerste helfte nie; ons het Windhoek Gim te veel balbesit gegee en hulle was rustyd 24-6 voor.

“Ons plaasvervangers het ’n verskil gemaak. Ons het teruggekom in die tweede helfte en baie goeie gestrukteerde rugby gespeel. Ons flank Stian Burger se skouer het uitgehaak en hy moes doktersbehandeling kry.”

Gimnasium se afrigter Janneman Brand sê: “Dit was ’n ’n lekker openingswedstryd waarin eers ons, en daarna Moria, in die twee helftes hul kanse aangegryp het. Ons is dankbaar om die knoop te kon deurhaak. Daar is nog heelwat werk wat voorlê, maar ons sien uit daarna.”

PRO-ED

In die groot derby by die kus het PSG Pro-Ed Akademie naelskraaps met twee punte teen PSH Walvisbaai Privaat Hoërskool oorleef (17-15).

Beide spanne het twee drieë gedruk en ’n strafdoel behaal, met net ’n enkele doelskop die verskil op die telbord.

Vir Pro-Ed het losskakel Maughan Jarman die skopwerk beharig. Linkervleuel Marc Holloway en loskopstut Devon Burger elkeen ’n drie gedruk.

Die Walvisbaai Naartjies se kaptein en losskakel Krynauw Bouwer het al sy span se punte aangeteken.

Mnr. Thys Saunders, wat vanjaar as hoofafrigter van Pro-Ed oorgeneem het, sê: “Ons was kort voor rustyd reeds met 17-0 voor, voordat Walvisbaai stelselmatig teruggeveg en die uitslag tot op die einde in die weegskaal geplaas het.

“Ek sal net graag ’n meer konstante vertoning van my span wil sien – net ’n goeie eerste of tweede helfte gaan nie noodwendig goed genoeg wees om ver te kom in die liga nie.

“Dit was ’n tipiese harde derby waarin beide spanne goed ingeklim het. Ons skrums was stewig, maar ons het ’n klompie lynstane verloor en sal daarop moet verbeter.”

• Komende Saterdag se bepalings in die o.19 Superliga: WHS tn WBPHS (13:00 by Vegkop); Dr. Lemmer tn Whk Gimnasium (11:30 op Rehoboth); Moria tn Pro-Ed (12:00 op Outjo). Afnaweek vir Windhoek Affies.

• Bly by https://rugby.my.na op die hoogte van sake.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!