Surén ry jong Switsers onder stof

Bergfietsry
Andrew Poolman
Die Namibiese o.16-kampioen Roger Surén het uitmuntend sy stempel afgedruk toe hy Sondag met Switserland se bestes in die o.17-ouderdomsresies by die Argovia Vittoria-Fischer Cup-bergfietsbyeenkoms afgereken het.

Surén se oorwinning teen alle verwagtinge in was die hoogtepunt van die klein Namibiese spannetjie se deelname aan die Switserse bekerreeksbyeenkoms.

Hans du Toit, die nasionale fietsry-afrigter, is in sy noppies met die vordering van een van die belowende vooruitsigte vir die reeds gedugte Namibiese produksie van mededingende bergfietsryers.

“Die top agt van Switserland was almal in Roger se resies. Daar was omtrent 26 ryers in sy resies en hy het in die heel agterste ry weggespring.

“Ná die eerste baanrondte het hy saam met die eerste vyf gery en ná die tweede rondte was hy een van die drie aan die voorpunt. Roger het hierna weggebreek.

“Op sy derde en laaste rondte het hy wel ’n foutjie begaan en van die baan af in ’n waterkanaal beland, maar gelukkig het dit hom nie te veel tyd gekos nie en hy het met omtrent 15 sekondes gewen.

“In die junior mansresies was Kevin Lowe derde en Daniel Hahn negende – dus beide onder die toptien.

“Monique du Plessis het in haar eerste kompeterende blootstelling op hierdie hoë vlak ook baie goed gery en sterk geëindig (18de). Sy het onder andere vir Alessandra Keller (Switserland, gewese o.23-wêreldkampioen) in haar resies gehad, wat tans omtrent tweede in die Wêreldbekerreeks geplaas is.

“Dit was ’n absolute ongelooflike dag met ons vier ryers wat nie net kom deelneem het nie, maar die Switsers om plekke op die podium kom uitdaag het.”

Nog ’n Namibiër, Hugo Hahn, het die sewe baanrondtes in die elite mansresies in die 13de posisie afgesluit, ná een uur 32 minute 11 sekondes. Die ouer Hahn-broer woon die afgelope maande ’n oefengeleentheid by die Wêreldfietsrysentrum by.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer