Swakopmund verwelkom wêreldklas fikses

Triathlon
Andrew Poolman
Die onvoorspelbaarheid van ’n goed gebalanseerde internasionale triathlon behoort môre se Afrikabeker-byeenkoms op Swakopmund een van die gedenkwaardige sportgeleenthede van die jaar op Namibiese bodem te maak.

Die Namibiese Triathlonfederasie se aanbieding van een van die spogbyeenkomste van Wêreldtriathlon, met Prosperity Health en RMB as die hoofborge, is ’n pluimpie vir die organiseerders.

Die eerste resiese van die dag kort ná 08:00 is die Namibiese nasionale kampioenskap in alle ouderdomsgroepe vir beide geslagte, waarin vele van die land se bestes reeds in aksie sal wees.

Vanaf 11:00 volg die Afrikabeker vir juniors (16-19 jaar), wat eweneens ’n hewige kompetisie tussen die ontluikende geslag in die sport sal lewer. Maja Brinkmann en Chloe Rossouw verteenwoordig Namibië hier teen meestal Suid-Afrikaanse opponente.

In die elite mansresies is sommige wedders se geld op die 34-jarige Richard Murray. Die gewese Suid-Afrikaner wat sedert Maart verlede jaar Nederland verteenwoordig, kon laas naweek net ’n sewende eindposisie by die Afrikabeker-byeenkoms in Nelson Mandela-baai behaal, maar met sy vertoningslys in die sport sal hy die hoogste gerekende man op die wêreldranglys (tans 52ste) op Swakopmund wees.

Murray, wat by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro vierde was nadat hy vroeër daardie jaar sy sleutelbeen gebreek het, is steeds in staat om jonger manne van oor die wêreld heen ’n ding of twee te wys.

Met 36 atlete van 18 nasies in die mansresies, lê ’n stryd tot die bitter einde egter voor vir die professionele deelnemers vir wie elke uitslag se punte op die wêreldranglys tot hul doelwitte van vordering en kwalifisering vir wêreldbyeenkomste bydra.

Ander elite mans wie se wenkanse baie hoog gereken word, sluit in Ayan Beisenbeyev van Kazakstan, James Edgar van Ierland (derde laas naweek in Qheberha), Genta Uchida van Japan, Emil Holm van Denemarke en Tyler Smith van Bermuda.

By die elite vroue (19 inskrywings uit tien lande) is veral die drie Nederlanders gedug: Barbara de Koning was die wenner in Qheberha laas naweek; Rachel Klamer (wat met Richard Murray getroud is) was vierde en Rani Skrabanja was sewende.

Nog elite vroue wie se bewegings fyn dopgehou sal word, is die Suid-Afrikaners Vicky van der Merwe en Hanna Newman, asook Romana Gajdosova van Slowakye. Namibië se enigste verteenwoordiger Anri Krugel sal op sterk ondersteuning kan reken.

BELEEF DIT

Die NTV-produksiespan is oorgehaal om in sy regstreekse uitsending reg aan die internasionale geleentheid te laat geskied. Die uitsending kan vanaf 07:30 regstreeks gevolg word, wanneer die nommers op die lywe aangebring en inspeksies op die fietse uitgevoer word, tot ná afloop van die elite mans- en elite vroueresiese laatmiddag.

Die uitsending sal op die Facebook-bladsye van Republikein, Namibian Sun en Sport Wrap wees, asook die YouTube-kanaal van Namibia Media Holdings of die webblad oneuptwo.com, wat oorwegend die hoogste beskikbare resolusies aan kykers bied.

DIE ROETE

In elke resies sal die driekampatlete eerste die Atlantiese Oseaan antikloksgewys in die Mole in ’n driehoekige uitleg van 375 meter aandurf. Die Super Sprint-groepe doen een rondte en die Sprint-groepe twee keer (750 m).

Die fietsryskof deur Swakopmundse strate is op ’n tegniese en opwindende roete van 5 kilometer, ook in die omgewing van die Mole. Die Super Sprint-deelnemers doen twee rondtes (totaal 10 km) en in die Sprint-afdeling vier rondtes (totaal 20 km).

Die hardloopskof oor 1.25 km bevat ook ’n paar draaie. Die Super Sprint-atlete doen twee rondtes (2.5 km) en die Sprint vier rondtes (5 km).

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!