Taai vuurdoop vir Tsumeb Gimnasium

Skolerugby
Afrigter Johan Zaayman is verlig oor Windhoek Affies se volpunte in hul eerste wegwedstryd.
Andrew Poolman
Tsumeb Gimnasium se eerste rugbyspan, vanjaar geborg deur Compack, het ’n ongenadige herinsluiting tot die Standard Bank onder 19 premierliga – met twee wedstryde binne drie dae.

Die noordespan was nie in verlede jaar se liga betrokke nie, deels vanweë die finansiële effek wat die pandemie op die skoolgemeenskap gehad het.

Die maroen truie speel vanaand hul tweede ligawedstryd binne drie dae wanneer hulle Elnatan Privaatskool by die rugbyveld van Walvisbaai Privaatskool ontmoet. Dié spesiale reëling is tussen die twee skole getref omdat beide ook môreoggend by Pro-Ed Akademie se veld op Swakopmund aan die Napso-sewesproewe deelneem.

Windhoek Affies se eerste span, vanjaar geborg deur Autohaus, het Woensdagmiddag die eerste ligawedstryd van die seisoen op Tsumeb met 18-10 gewen.

Wouter Niehaus, wat vanjaar as afrigter van Tsumeb Gimnasium deur Francois van Zyl (kondisionering) bygestaan word, sê: “WAP het ’n bulspan, baie goed afgerig en afgerond. Maar ek is baie trots op die nuwe jongmanne van my. Ons laaste vorige Superliga-wedstryd was in 2019, so die ouens was maar op hul senuwees vir so ’n groot wedstryd voor hul eie mense en dit nogal teen Windhoek Affies (kampioene in 2018 en 2019, verslane finaliste in 2022).

“WAP het gewys hulle kan van enige plek op die veld aanval, maar Tsumeb het die eerste helfte baie goed verdedig om die telling rustyd tot net 3-5 te beperk.

“Nog ’n strafdoel het WAP met 8-3 voor geplaas en ’n tyd daarna het ons ’n misverstand by ’n lynstaan op ons doellyn gehad, waar die ingooi bo-oor die springer geseil en in die hande van die WAP-speler (agtsteman Ben Burger) beland het wat nie gekeer kon word nie.

“Sy drie is nie verdoel nie, maar WAP se ander drie het van ’n breekslag in die middelveld gekom (afgerond deur losskakel Van der Merwe Tromp).

“’n Tyd ná die terugslae was ons op die aanval in hul kwartgebied en het ’n tikskoppie geneem en ’n beweging uitgevoer van waar die stut Jurick van den Berg gaan druk het. Ons losskakel en kaptein SW Kuhn het verdoel, ná sy strafdoel in die eerste helfte.

“Dit was ’n harde, aanskoulike wedstryd wat in goeie gees afgehandel is. Ons het darem nie ernstige beserings opgedoen nie, hoewel ons weet Elnatan twee dae later sal ’n groot uitdaging wees. In die volgende skooltermyn sou ons ons vasgeloop met al die ryery indien WAP en Elnatan ons nie nou tegemoet gekom het nie.”

Benewens Ben Burger se drie het Van der Merwe Tromp as losskakel vir WAP 13 punte aangeteken (een drie, twee strafdoele, een doelskop).

Windhoek Affies se hoofafrigter Johan Zaayman, wie se vorige suksesse saam met Herman Lintvelt as hulpafrigter behaal is, begin ’n nuwe venootskap met JT Basson as die voorspeler-afrigter, ná laasgenoemde se aansluiting vanaf Windhoek Hoërskool.

Zaayman sê: “Wat kan ’n mens sê ná die eerste wedstryd? ’n Mens werk mos maar stelselmatig na wat jy wil bereik. So, nog glad nie tevrede met hoe ons gespeel het nie. Ons het bietjie gesukkel om ons balbesit te beskerm, maar nogtans, om ’n wegwedstryd met volpunte te wen, is altyd ’n pluspunt.

“Ek is bly ons is suksesvol oor die eerste hekkie. Dit was moeilike omstandighede, nadat seuns nog vroeg die oggend eksamen geskryf en daarna met die bus Tsumeb toe gery het.

“Ons het ses seuns in die Napso-toergroep wat vroeg in Junie Kaap toe toer waar hulle teen Paarl Gimnasium gaan speel, asook vyf seuns in die nasionale span (o.18 Akademieweek in Julie in Johannesburg).

“Hulle kan nou op hierdie take konsentreer en sodra hulle terug is, is die Internasionale Week (Momentum jeugrugby-uitnodigingstoernooi, met Gravity Sports as ondersteunende borg, 11 tot 15 Julie by WHS FNB Vegkopstadion).

“So daar is bietjie van’n blaaskans voor ons weer die liga aanvat.”

ELNATAN

Elnatan, wat ook sy terugkeer tot die o.19 premierliga maak, word deur Johan Adriaanse en Tinus Bothma afgerig.

Elnatan se kaptein, die flank Markus Meyer, is die Stampriet-skool se enigste o.18 Akademieweek-speler, met die stut W.R. Klein en haker Bothma op die nie-reisende kortlys.

“Ons plattelandse skole het mos nie die diepte van die Windhoek-skole nie, maar ons het ‘n paar lekker pêre van Mariental geleen en soos altyd sal ons onsself maar bietjie teësit,” sê Adriaanse.

“Tsumeb het nie ver verloor teen WAP nie, so hulle lyk gereed vir die besigheid ... maar ons ook.”

UITGESTEL

Die enigste van die geskeduleerde wedstryde van die openingsnaweek wat wel môre gespeel word, is PSG Walvisbaai Privaat Hoërskool se tuiswedstryd teen Schoemans-groep Windhoek Gimnasium (meer hieroor binne in Sport Wrap).

Die NTV-produksiespan bring regstreekse uitsending vanaf Walvisbaai op ons DStv-kanaal vanaf 11:50 (ook aanlyn op https://oneuptwo.com).

Samsung WHS teen PSG Pro-Ed Akademie, asook OK Foods Moria Privaatskool teen Elnatan is beide met twee weke tot 3 Junie uitgestel.

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!