Terugkeer na SA rugbyweke is aan

Skolerugby
'n Opwindende nuwe tydvak van geleenthede lê vir Namibiese skolerugby voor.
Andrew Poolman
Die deur is weer oop vir Namibië se beste skolerugbyspelers van 2022 om hulself teen die provinsiale krag in Suid-Afrika te gaan toets – ná die vorige twee jare waarin die wêreldwye pandemie sulke toere onmoontlik gemaak het.

Vir die herstel van die land se pyplyn vir die ontwikkeling van sy rugbytalent ná die twee verlore jare behoort hierdie nuus as uiters welkom ontvang te word.

Namibië het vir die eerste keer sedert 2019 weer die uitnodigings ontvang na die o.16 Grant Khomo-week wat vanjaar op Kimberley aangebied word (26 tot 30 Junie, by die Hoërskool Diamantveld), kort daarna gevolg deur die SA o.18 Akademieweek op Wellington (by die velde van Hoërskool Hugenote, 3 tot 9 Julie).

Die o.13 Cravenweek vir Laerskole is van 26 Junie tot 1 Julie by Jeppe High School in Johannesburg geskeduleer.

PROEWE

Nasionale proewe in al hierdie ouderdomsgroepe word op Woensdag 25 en Donderdag 26 Mei gespeel. Die o.16- en o.18-spelers sal by die Hage Geingob-stadion proewe speel, terwyl die laerskoolseuns se spankeuse by Trustco United se B-veld (ook bekend as Windhoek Gimnasium se atletiekstadion) uitgepluis sal word.

In elke ouderdomsgroep word die spanne in streekverband ingedeel, naamlik Erongo, Hardap, ||Kharas, Khomas en Noorde – asook die beste van die res wat vanuit die Presidentspan (o.13), die o.16 Sollie Duiker- of o.18 Hage Geingobspan hul kleim kan afsteek.

Die afrigtingspanne vir hierdie nasionale spanne onder die vaandel van die Namibiese Skolesportunie (NSSU) behoort ook ná vergaderings vandeesweek bevestig te word.

Volgens die voorlopige skedule behoort die Namibiese o.16’s op die openingsdag teen Grens-platteland te staan te kom, terwyl die o.18 Akademiespan eerste opgeweeg word teen die uitsoekspan van die SA LSEN (gekies by die Rugbyweek vir Spesiale Onderrigbehoeftes).

• Met Namibië se laaste deelname aan die o.18 Akademieweek drie jaar gelede was WJ Otto die kaptein van die span wat eers teen die Leeus-akademiespan verloor (19-22) en daarna met oorwinnings teen Griekwas (39-17) en Zimbabwe (201-5) reggeruk het.

LIGASEISOEN SKUIF LATER

Op grond van die huidig beskikbare datums van wanneer die staatskole heropen, sal die Namibiese Hoërskolerugbyvereniging (Nassra) se liga op Saterdag 23 Julie afskop en tot op 3 September oor ’n enkelrondte beslis word.

Die voorlopige beplanning is dat die kwarteindstryde op 9 en 10 September gespeel sal word, die halfeindstryd ’n week later en die eindstryde op 23 en 24 September.

Afhangend van ministeriële goedkeuring van die nasionale kalender vir skole mag speling van hoogstens ’n week plaasvind, sê een van die skolerugby-administrateurs.

“Hoewel hierdie tydvak ’n afwyking van ons gebruiklike rugbyseisoen is wat in Augustus geëindig het, behoort sake in 2023 na normaal terug te keer.

“Tot nou het ons 30 skole landwyd wat vir die liga ingeskryf het, met altesame 65 spanne in die ouderdomsgroepe vanaf onder 14 tot o.19.”

PREMIERLIGA KRIMP

Volgens die beskikbare inligting het sewe skole aangedui dat hulle vanjaar met hul eerste spanne in die o.19 premierliga gaan meeding – naamlik Dr. Lemmer (Rehoboth), Moria (Outjo), PSG Pro-Ed (Swakopmund), Windhoek Afrikaanse Privaatskool, PSG Walvisbaai Privaat Hoërskool, Curro Windhoek Gimnasium en Samsung Windhoek Hoërskool.

Die opvallende weglatings op hierdie lys van die onlangse jare is Tsumeb Gimnasium en Elnatan Privaatskool van Stampriet.

Ter verduideliking het mnr. Wouter Niehaus van Tsumeb Gimnasium aan die koerant gesê dié twee verafgeleë plattelandse skole moes oordeelkundig sommetjies maak oor die verliese wat hul gemeenskappe tydens die Covid-19-pandemie gely het.

“Die nuwe sport- en akademiese kalender skep oorvleueling met eksamentye, wat een van die oorwegings was.

“Nog ’n hoofrede is die kolossale onkoste wat die heen en weer reise vir ons skole inhou. Om op een naweek ’n o.15- en o.19-rugbyspan en ’n netbalspan na drie verskillende plekke te moet stuur, skep vir ons logistieke probleme. En jy wil nie weet hoeveel dit kos as ons spanne dalk deurdring om op opeenvolgende naweke vir die kwarteind-, halfeind- en eindstryd Windhoek toe te moet ry nie.

“Ons wil nie dinge halfhartig aanpak nie. Tsumeb Gimnasium sal dus eerder vanjaar interskole-sportdae teen spesifieke skole reël, as om hom tot die liga te verbind.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!