Kevin Lowe en Daniel Hahn is twee van die beste junior mansbergfietsryers in Afrika. Foto verskaf
Kevin Lowe en Daniel Hahn is twee van die beste junior mansbergfietsryers in Afrika. Foto verskaf

Tiener-ysters deins nie terug vir Dash

Bergfietsry
Die uitdaging is nie te groot vir die volgende geslag Namibiese brekers in die sport nie.
Tielman Van Lill
Die tienerjarige bergfietsryers Daniel Hahn (17), Kevin Lowe (17) en Ethan L’Estrange (18) sê die ikoniese jaarlikse Nedbank Desert Dash ultrawedren oor 394 kilometer deur die oudste woestyn in die wêreld is een wat elke fietsryer op sy wenslysie moet hê.

Hahn het verlede jaar sy Dash-buiging in ’n viermanspan saam met Lowe, Cobus Smit en Fanie Steenkamp gemaak en die podium gehaal (tweede). Hy sê dié prestasie is nog nie voldoende nie en hul Cymot-span mik vanjaar vir die eerste plek in dieselfde afdeling.

“Vanjaar is ons hoofdoelwit om te wen, maar tog doen ons dit ook om pret te hê, te lag oor hoe moeg ons is. Die belangrikste is om die tyd op die fiets te geniet,” het Hahn vertel.

Hy ry vanjaar die Dash saam met Lowe, Bergran Jensen (19, ook ’n uitstaande jong vooruitsig) en Casper Kruger, ’n Suid-Afrikaner.

Lowe sê as ’n span gaan hulle die Dash met volle toewyding pak en hopelik kan hulle die eerste viermanspan oor die wenstreep wees.

“Ons weet dit gaan nie maklik wees nie. Verlede jaar was die doel net om die wenstreep te bereik en soveel ondervinding as moontlik op te doen. Ons het nie verwag om tweede oor die eindstreep te ry nie,” het hy gesê.

L’Estrange is ook geen vreemdeling in die Dash nie en sê hy sal sy vorige ervaring tot sy voordeel inspan. Hy het in 2021 saam met Heiko von Ludwiger asook die pa-en-seun Brian en Adrian Key die Dash gepak.

“Aangesien ek tevore die Dash gery het, is ek deeglik bewus wat die sleutelfaktore is om te verseker dat my ren goed verloop.

“Ek oefen ongeveer nege ure per week wat twee intensiewe oefensessies behels met een of twee uithouritte oor naweke. Die mees uitdagende faktor vir my is om voortdurend gemotiveerd te bly, te oefen, fiks en gefokus vir die wedren te wees,” het L’Estrange verduidelik.

Vanjaar gooi L’Estrange sy gewig saam met Anton Engling, Oskar Roeber en JG van der Westhuizen in.

TER NAGEDAGTENIS

Die 25-jarige Maruen Kleopas van Physically Active Youth (PAY) se span sal sy derde verskyning by die Dash maak. Hy is saam met Simon Kaita, Tuhafeni Hamundjebo en Melki Hamukoto ingeskryf.

Hy sê die Dash is ’n uitmergelende kompetisie wat fietsryers geestelik en fisiek beproef.

“Die Dash is vir enige fietsryer die ideale manier om die jaar af te sluit. Ons wil graag die wedren wen ter nagedagtenis aan Hella Rust, ons oorlede afrigter wat ’n enorme bydrae tot fietsry in Namibië gelewer het. Ons wil ook pret hê, maar wen wil ons wen,” het Kleopas gesê.

Selma Kaulinge, Nedbank se kommunikasiebestuurder, het dié junior fietsryers geprys.

“Die toenemende aantal junior inskrywings wat ons oor die jare vir die Dash ontvang het, is bloot een rede waarom Nedbank sal voortgaan om in fietsry te belê.

“Wie sou kon raai dat spanne wat meestal net uit tieners bestaan, in harmonie kan saamwerk om een van die langste eendaagse bergfietskompetisies suksesvol te voltooi?

“Om die Dash te ry, is nie ’n maklike taak nie. Om te sien hoeveel moeite ons junior ryers deur die jaar doen om seker te maak hulle voltooi die Dash, wys ons net hoe vasberade die jeug is.

“Nedbank is geëerd om een van die grootste bydraers tot fietsry in Namibië te wees en ons sal voortgaan om in die lieflike sport te belê. Ons wil fietsry tot nuwe hoogtes voer en wil Namibië se talent erken word as van die beste op die Afrika-kontinent en uiteindelik die wêreld,” het sy afgesluit.

Die Dash se wegspring is op 9 Desember vanaf die Grove-inkoopsentrum in Windhoek na Swakopmund, waar dit die Saterdagmiddag by die Platz Am Meer-kompleks eindig.

Die Nedbank Desert Dash word ook deur Indongo Toyota, Maerua en Grove SuperSpar asook Hollard ondersteun.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!