Toerspan na Suid-Amerika voor ’n vuurproef

Rugby
Die afwesigheid van Cliven Loubser weens 'n besering was gister een van die opvallende verrassings.
Andrew Poolman
Losskakel Cliven Loubser en steelkantflank Janco Venter is twee van die mees ervare weglatings – beide vanweë kniebeserings – uit die nasionale rugbygroep wat Sondag na Suid-Amerika vertrek.

Afrigter Allister Coetzee se spelersgroep van 35 bevat nietemin genoeg goeie opsies vir Namibië om hoopvol oor goeie uitslae tydens die Wêreldrugby Nasiebekertoernooi te wees. Die wedstryde in Montevideo is teen Argentinië-A (29 Julie) en teen Uruguay (5 Augustus), asook ’n week later in Santiago teen Chili.

Die 26-jarige Loubser (232 punte in 24 toetse sedert 2017) se teëspoed by die onlangse Windhoek-oefenkamp skep die geleentheid vir twee nuwelinge om hul kleim af te steek.

Coetzee het gister gesê Loubser het nie betyds volkome herstel nie die besluit is geneem om nie ’n kans te waag in die pylvak na die Wêreldbeker nie.

“Die manne wat agterbly, sal ’n oefenprogram van (die krag- en kondisioneringsafrigter) Sergio de la Harpe volg,” het Coetzee gesê.

Die losskakel PW Steenkamp kan ook as ’n ongelukkige weglating geag word. Tiaan Swanepoel (27, Goue Leeus) is vir die eerste keer deur Namibië nader geroep, terwyl Van der Berg (Wanderers) laas November sy toetsdebuut teen Spanje gemaak het toe hy as heelagter opgestuur is. Op die toer na Amsterdam het Namibië teen Spanje verloor (15-34), maar ’n week later het die dramatiese wendrie deur Helarius Kisting in beseringstyd die land se eerste sukses in ’n toets teen Kanada verseker (43-37). Dit was Namibië se mees onlangse toets.

Hoewel Janco Venter teen Spanje in sy 33ste toets die veld met ’n kniebesering verlaat het, het hy hom daarna by Griekwas aangesluit en twee Curriebeker-wedstryde gespeel. Die Namibiese staatmaker (28) in twee Wêreldbekers is egter nie meer by Griekwas gekontrakteer nie en het na verneem word ook nog las van ’n kniebesering.

Nog ’n posisie waarin die keuses druk bespreek sal word, is die ses stutte. Aranos Coetzee (35) is op die herstelpad ná ’n bobeenbesering vir die Cheetahs en met die waarde van sy ondervinding noodsaaklik vir die Wêreldbeker, sal sy speeltyd op die toer sekerlik bestuur word. André Rademeyer, Nelius Theron, Herschell van Wyk en Herman Coetzee het nie die paal gehaal nie en Varsitybeker-stutte soos Zéan Augustyn (CUT, tevore Shimlas) en Gerhard Visser (Shimlas) was nie na die kampe genooi nie.

Aranos en die ander vyf – insluitend die nuwelinge Herman Agenbag (23, Dallas Jackals) en Haitembu Shikufa (25, Luiperds) sal in Suid-Amerika aan ’n vuurproef blootgestel word.

Haker Gihard Visagie (Nantes), slot Tiaan de Klerk (op pad na die Pumas) en die senter Jay-Cee Nel (Griekwas) is die ander drie nuwelinge op hul eerste toer met Namibië.

Stutte: Herman Agenbag, Jason Benade, Aranos Coetzee, Desiderius Sethie, Haitembu Shikufa, Casper Viviers.

Hakers: Gihard Visagie, Torsten van Jaarsveld, Louis van der Westhuizen.

Locks: Tiaan de Klerk, Adriaan Ludick, Ruan Ludick, Mahepisa Tjeriko, Tjiuee Uanivi, PJ van Lill.

Losvoorspelers: Adriaan Booysen, Wian Conradie, Richard Hardwick, Max Katjijeko, Prince !Gaoseb, Johan Retief, Johan Luttig.

Skrumskakels: Helarius Kisting, Damian Stevens, Jacques Theron.

Losskakels: Tiaan Swanepoel, André van der Berg.

Senters: Danco Burger (ook losskakel), Johan Deysel (kaptein), Le Roux Malan, Jay-Cee Nel (ook heelagter).

Vleuels en heelagters: JC Greyling, Gerswin Mouton, Chad Plato, Divan Rossouw.

KLUBRUGBY

Drie deurslaggewende wedstryde in die NRU premierliga wag môre.

By Unam: FNB Unam tn FNB Rehoboth, 15:45 – regstreeks op NTV en FB (Republikein en Sport Wrap)

By Dr. Lemmer-skoolveld: FNB Reho Falcon tn FNB Western Suburbs, 15:45

Op Walvisbaai: FNB Kudus v FNB Grootfontein, 15:45 – regstreeks op FB (Erongo) en https://oneuptwo.com/

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!