Toetsdebuut wink vir Manie Libbok
Rugby
Die Springbokke sal Frankryk nie sonder ’n betroubare stelskopper in hul 23-tal pak nie.
Manie Libbok se teenwoordigheid in die Bok-kamp in Toulon en nie by die Suid-Afrikaanse A-span in Cork nie, is ’n sterk boodskap deur die nasionale keurders dat hy in die beginspan of op die plaasvervangersbank vir Suid-Afrika in Saterdag se toets teen Frankryk in Marseille sal wees.
Deon Davids het op Maandag se nuuskonferensie in Toulon bevestig dat hulle aan dié kwelpunt ná die nederlaag van 16-19 teen Ierland aandag gee.
“Ons het die stelskopwerk-situasie bespreek,” sê Davids.
“Dis deel van ons weeklikse hersieningprosesse soos in die geval met die ander afdelings is. Dis iets waarna ons kyk en waaroor ons gepraat het.
“En ja, ons sal tot ’n slotsom kom hoe ons dit gaan hanteer. Ons hoofafrigter, Jacques Nienaber, sal Dinsdag meer inligting daaroor gee.”
In Dublin kon Suid-Afrika nooit telborddruk bou nie, ondanks die oorheersing wat hy vir die grootste gedeeltes van die toets gehad het.
Die Suid-Afrikaners het wel net sewe punte met stelskoppe verbrou, maar het in die afwesigheid van Handré Pollard verkies om met strafskoppe meestal eerder kantlyn toe te skop.
Die wankelrige stelskopwerk van die Suid-Afrikaners het boonop agterna soos ’n seer duim in Dublin uitgestaan aangesien die Bokke nie die telbord aan die rol met hul lynstaan-rolmale kon kry nie.
Libbok kan die oplossing bied.
Hy is die voorste stelskopper in die Bokke se toergroep. Hy het ook vanjaar die Stormers tot die Verenigde Rugbykampioenskap-titel geskop. Dit maak net sin om hom in die afwesigheid van die beseerde Pollard minstens in die 23-tal teen Frankryk te betrek.
Stelskopwerk is deurslaggewend in November se toetse waarvan die naelskraapse oorwinning van Frankryk oor die Wallabies ’n bewys is. Die Hane het met 30-29 gewen.
Nienaber behoort dus Dinsdag Libbok se naam in sy 23-tal uit te lees.
Dit was egter voor verlede Saterdag se toets in die Aviva-stadion interessant om te sien dat Faf de Klerk en Cheslin Kolbe saam aan hul stelskoppe geoefen het.
De Klerk het al gereeld vir sy voormalige Engelse klubspan, Sale Sharks, die stelskopwerk met sukses hanteer. Ná die goeie impak wat hy verlede naweek gehad het, kan die Bokke hom tot die beginspan bevorder en selfs aanvanklik vra om die stelskopwerk te behartig met Libbok as die versekeringspolis op die bank.
De Klerk het in Dublin vir ’n slag weer soos van ouds met woema teen Ierland gespeel. Hy het die tempo beslis in Dublin verhoog toe hy Jaden Hendrikse, wat ’n goeie Rugbykampioenskap beleef het, vervang het.
Kolbe en Damian Willemse het die stelskoppe in Dublin hanteer, maar albei se lyftaal het boekdele gespreek toe hulle vir hul stelskoppe aanlê.
Libbok sal die Bokke meer waarde bied as net sy akkurate stelskopwerk.
Hy kry goeie afstand met sy kantlynskoppe, kan met albei voete skop en kan in die laaste paar minute van ’n toets ook met sy aanvallende spel geleenthede vir sy buite-agterspelers skep. Die enigste tekortkoming in sy spel is dat hy nie so fisiek soos Willemse is of soos hy kan verdedig nie.
Nienaber sal Dinsdag meer duidelikheid gee oor hoe hulle beplan om Libbok Saterdag op toetsvlak los te laat. Hy kondig sy 23-tal by die Bokke se pragtige hotel in die buitewyke van Toulon aan.
• Ná die nederlaag teen Ierland het Rassie Erasmus nie soos aanvanklik beplan saam met die Suid-Afrikaanse A-span na Cork gereis vir Donderdag se kragmeting daar met Munster nie.
Erasmus is eerder in Toulon saam met die Bokke waar hy Nienaber in die voorbereiding vir Saterdag se verwagte rillerstryd bystaan. Mzwandile Stick rig die SA A-span in Erasmus se afwesigheid af.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie