• Tuisblad
  • Sport
  • Tonga kies Fekitoa, Piutau en ‘verstote’ Folau

Tonga kies Fekitoa, Piutau en ‘verstote’ Folau

Rugby
Israel Folau maak sy terugkeer tot internasionale rugby saam met Tonga drie jaar nadat hyweens sy omstrede uitlatings op sosiale media sy kontrak met die Wallabies kwyt is.

Die 33-jarige buiteagterspeler is Vrydag in Tonga se groep ingesluit vir die Pasifiese Nasiesbeker-reeks in Julie en ’n uitspeelwedstryd om kwalifisering vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk.

Folau, ’n stoere Christen, en Rugby Australië (RA) se paadjies het in 2019 geskei weens sy uitlatings op sosiale media dat “dronklappe, gay mense, egbrekers, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodsdienaars” vir die hel bestem is.

Hy het RA van onregmatige afdanking beskuldig en die beheerliggaam vir A$14 miljoen gedagvaar. Die saak is buite die hof geskik.

Folau het einde verlede jaar na Japan verhuis om sy rugbyloopbaan voort te sit nadat hy vir ’n wyle na rugbyliga teruggekeer het.

NUWE REËL

Folau slaan nou munt uit ’n nuwe reël van Wêreldrugby wat sedert 1 Januarie van krag geword het en wat toetsspelers toelaat om ’n tweede land te verteenwoordig waarvoor hy ingevolge geboortereg kwalifiseer, mits hy vir drie jaar nie toetsrugby gespeel het nie.

Die gewese All Black-agterspelers Charles Piutau en Malakai Fekitoa is die ander twee prominente sterre wat onderskeidelik in 2015 en 2017 laas vir Nieu-Seeland gespeel het en wat nou in die Tonga-afrigter Toutai Kefu se nasionale groep ingesluit is.

Tonga kom in die Pasifiese Nasiesbeker-reeks te staan teen die gasheer, Fidji, asook Samoa en ’n Australiese A-span. Die toernooi word van 2 tot 16 Julie beslis.

Die span speel dan ’n week later teen die wenner van die Asiatiese Rugbykampioenskap in een toets om te bepaal wie saam met Suid-Afrika, Ierland, Skotland en ’n kwalifiseerder uit Europa in groep B in die Wêreldbekertoernooi sal meeding.

TONGA SE GROEP vir die Pasifiese Nasiebeker en Wêreldbeker-kwalifisering:

Loskopstutte: Siegfried Fisiihoi, Tau Kolomatangi, David Lolohea

Hakers: Sam Moli, Siua Maile, Jay Fonokalafi

Vaskopstutte: Siate Tokolahi, Ben Tameifuna, Joe ‘Apikotoa

Slotte: Sam Lousi, Leva Fifita, Veikoso Poloniati.

Losvoorspelers: Tanginoa Halaifonua, Viliami Taulani, Lotu Inisi, Solomone Funaki, Sione Tu’ipulotu.

Skrumskakels: Sonatane Takulua, Augustine Pulu, Manu Paea

Losskakels: William Havili, James Faiva.

Senters: Malakai Fekitoa, Afusipa Taumoepeau, Fetuli Paea, Fine Inisi

Vleuels en heelagters: Solomone Kata, Charles Piutau, Tima Fainga’anuku, Israel Folau, Anzelo Tuitavuki.

– Bygewerk van Netwerk 24 en Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer