Topvier klubs vergroot hul voorsprong
Klubrugby
Unam het nie ongeskonde afgekom van sy swaarverdiende tuissege teen Rehoboth nie.
FNB Rehoboth se hardnekkige weerstand op die tuisveld van FNB Universiteit van Namibië was die naaste wat enige van die vooraf buiteperde Saterdag aan ’n verrassing in die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga kon kom.
Op Walvisbaai het FNB Kudus die maksimum van ses ligapunte bygevoeg om sy voorlopersposisie met ’n enkele punt bo FNB Wanderers te behou. Die Walvisbaaiers het sewe drieë teen hul besoekers Trustco United ingeryg (Otis Finck se berig binne in Sport Wrap).
By die Unam-stadion het die studentespan swarigheid beleef om aan die gang te kom teen die vasberade aanslag van Rehoboth wat nie ’n tree vir die hoër gerekende span teruggestaan het nie.
Selfs die terugkeer van Unam se viertal triomfantelike lede van die nasionale toergroep wat pas in Frankryk vir die 2023 Wêreldbeker gekwalifiseer het, het die tuisspan aanvanklik min gebaat.
Die Unam-flank en kaptein vir die dag, Prince !Gaoseb, stutte Desiderius Sethie en Jason Benade en heelagter Lorenzo Louis het almal goeie spel gelewer, hoewel die agtsteman Oderich Mouton met sy woelige lopies en hoë werkverrigting steeds die afgelope weke die studente se uitstaande speler bly.
Net soos die vorige naweek het die wedstryd nog skaars begin, toe daar ’n lang onderbreking vir ’n besering aan Unam se kant was. Teen Kudus was dit die stut Simon Kanime wat met harsingskudding afgehelp moes word en dié keer is die slot Simon Haitembu vroeg af met ’n gebreekte enkel.
Die Unam-agterlyn was sonder Lesley Klim (steeds beseer), Alcino Izaacs (sukkel nog om in Windhoek te kom van Frankryk af), Camlo Martin (werkverpligtinge) of Delron Brandt (onbeskikbaar om persoonlike redes) en voorlangs is die haker Jeandre Cloete (enkel), losvoorspelers Berry Gande (bobeenspier) en Peter Diergaardt ook nog beseer.
Om tot die gesukkel by te dra, het losskakel Henrique Olivier met ’n lastige windjie van voor in die eerste helfte selde behoorlike afstand met sy lynskoppe gekry.
’n Paar vreemde opsies en hanteerfoute aan beide kante het enige belowende opbouwerk in die eerste helfte gekelder en bygedra dat die rustydtelling net 3-0 in Unam se guns was, met een strafdoel deur linkervleuel Aljarreau Zaahl.
Vir Rehoboth het losskakel Geraldo Beukes een vroeë strafskop misgeskop en sy tweede poging teen die regterpaal vas gestuur. Beukes het sake egter begin regstel toe hy vier minute ná rustyd sy voorspelers se opbouwerk afgerond het deur van naby die doellyn vir ’n onverdoelde drie oor te beur (3-5).
Goeie aanvalskanse aan beide kante het steeds in die water beland met opwindende bewegings wat die spel van een kant na die ander gevoer het.
Ná ’n uur het Lorenzo Louis met ’n strafdoel Unam se voorsprong herstel (6-5) en kort daarna is Rehoboth se flank Chase Diergaardt koelkas toe gejaag omdat hy Unam se skrumskakel Cameron Klassen (opgestuur in JC Winkler se plek) ná ’n vinnige tikskoppie gekeer het terwyl hy onkant was.
Unam het hierdie voordeel aangegryp en die reserwevaskopstut Graham April ná 64 minute van ’n lynstaandryf af vir ’n onverdoelde drie oorgewerk (11-5) – voordat April later ook ’n geel kaart gekry het met ses minute speeltyd oor.
Nog ’n Louis-strafdoel het Unam se voorsprong tot agt punte gerek, maar Rehoboth se flank Chester Diergaardt het seker gemaak sy span kry ’n verloorbonuspunt toe hy in die doodsnikke ’n drie gaan druk het wat vleuel Elmarco Beukes nie kon verdoel nie.
WANDERERS BLY TWEEDE
FNB Wanderers het ’n suksesvolle naweek beleef deur met volpunte van sy oorwinning met 49-21 in ’n wegwedstryd teen Grootfontein terug te keer.
Die noordespan, wat geen ligapunt kon byvoeg nie, bly sesde van die agt spanne is nou ’n volle tien ligapunte agter die vierde posisie, waarin Western Suburbs (24) ook ’n kussing van sewe punte voor Rehoboth handhaaf.
Drie van Wanderers se drieë is deur linkervleuel Nandivatu Karuuombe gedruk, met die ander vier driedrukkers losskakel André van der Berg, skrumskakel Jacques Theron en die reserwestut Iyambo Tshuuya.
Die Wit Hingste was rustyd met 24-7 voor en kon dus op die dag sonder te erge skade die geel kaarte vir slot Le Beau du Preez en haker Obert Nortjé bekostig wat deur skeidsregter Oscar Lambert toegeken is.
BONUSPUNT VIR SUBURBS
FNB Western Suburbs was rustyd reeds met 14-3 in beheer van sake, voor hy sy wegwedstryd teen Reho Falcon met 30-10 gewen het.
Senter Dylan Izaaks (2), vleuel en kaptein Gino Wilson en agtsteman Tjingairi Katjivi het die Khomasdallers se vier drieë gedruk. Heelagter Ricardo Swartz het met twee doelskoppe en twee strafdoele getref.
Reho Falcon se heelagter Enrique Husselman het die tuisspan se enigste drie gedruk, terwyl losskakel Franklin Busch met ’n skepdoel van hom laat kennis neem het.
• Die huidige puntestand ná tien wedstryde elk: 1 Kudus (45 punte), 2 Wanderers (44), 3 Unam (36), 4 Western Suburbs (34), 5 Rehoboth (27), 6 Grootfontein (24), 7 Trustco United (7), 8 Reho Falcon (4).
• Komende Saterdag (tuisspanne eerste): Reho Falcon tn Kudus; Western Suburbs tn Wanderers; Grootfontein tn Rehoboth; United tn Unam.
• Bly op die hoogte van die tellings, puntetabel, nuus en komende wedstryde by www.fnbrugby.my.na.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie