Troefkaarte kan premierliga se kampioen bepaal

Krieket
Tussen die twee finaliste is nege spelers uit weens nasionale verpligtinge – wat ruimte skep vir onverwagse uitskieters om na vore te tree.
Tielman van Lill
Ceiling Centre WHS Old Boys en Samsung Wanderers sal môre in Krieket Namibië se premierligafinaal (50 boulbeurte) by die Wanderers-veld in Pionierspark sonder hul nasionale spelers die wa deur die drif moet trek.

Die Namibiese Eagles het gister na die Verenigde Arabiese Emirate vertrek, waar hulle vanaf Sondag vyf eendagwedstryde teen Oman en die gasheerspan in ’n ICC-reeks sal speel.

Wanderers en Old Boys het onderskeidelik eerste en tweede op die puntelys geëindig en ook sonder moeite hul semifinale teen Trustco United en CCD Tigers gewen.

Wanderers was die enigste onoorwonne span, met ’n oorwinning in Pionierspark en ’n dramatiese gelykopwedstryd by Vegkop in sy twee ontmoetings met die ligbloues dié seisoen.

As houers van die trofee sal Old Boys egter môre sonder die nasionale spankaptein Gerhard Erasmus, Craig Williams, Ruben Trumpelmann, Zane Green en Tangeni Lungameni moet klaarkom. Spelers soos Dian Jacobs, Dirk Theunissen en Wesley Anderson van hul tweede span kan die nodige plekke volstaan.

Wanderers moet op sy beurt plaasvervangers vir Bernard Scholtz, Jan Frylinck, JJ Smit en Karl Birkenstock aanwys. In die Wit Hingste se tweedespan is egter ’n hele klomp gesoute spelers wat geen span in die steek sal laat nie, soos Colin Schoonbee, Dewald Nell, Ewald Steenkamp, Gerhard Lotter, LP van der Westhuizen en Wessel Myburgh.

JP Kotzé, kaptein van Old Boys wie se 259 lopies dié seisoen net deur Williams (3390 oortref word, het aan Republikein gesê: “Natuurlik sien ons uit na die finaal. Ons het ’n lekker jong span met verskeie o.19-spelers wat inkom.

“Ons het ’n baie goeie seisoen agter die rug en sal graag die seisoen met ’n beker wil afsluit. Die kompetisie tussen ons en Wanderers was deurentyd tops en gebalanseerd. Dis net jammer die nasionale spelers is nie beskikbaar nie.

“Old Boys het ’n goeie mengsel van ervare seniors en junior spelers in die span. Ek glo ons sal as ’n span weer kan kliek en hopelik bietjie silwerware klubhuis toe bring.”

Nicolaas Scholtz, kaptein van Wanderers, het gesê: “Ons het lekker voorberei en sien uit na Saterdag. Ons het niks om te verloor nie, so ons gaan net speel en die wedstryd geniet. Gelukkig het ons ’n sterk spelerspoel en ek weet die manne wat gaan instaan, sal hul kant bring.

“Ons het ’n klein verrassinkie vir Saterdag, maar ek gaan nie sy naam nou noem nie.

“Van ons kant af wens ons die nasionale span sterkte en net die beste toe in die Emirate.”

’n Moontlike Old Boysspan: Gerhard Janse van Rensburg, Wesley Anderson, Dylan Leicher, JP Kotzé (kaptein), Malan Kruger, Zhivago Groenewald, Donovan Zealand, Dirk Theunissen, Dian Jacobs, Henry van Wyk, Melrich Robyn.

Wanderers se moontlike elftal: Niko Davin, JC Balt, Wessel Myburgh, Louis-Petrus van der Westhuizen, Michau du Preez, Colin Schoonbee, Louis Peters, Nicolaas Scholtz (kaptein), Ruben Claassen, Danie van Schoor, Dewald Nell.

VORIGE EINDSTRYD

Old Boys het in Maart 2021 die eendagpremierligatitel teen Wanderers vir die tweede jaar in ’n ry gewen. Die gasheer het eerste gekolf, maar kon net 149 in 49.1 boulbeurte opstel.

JJ Smit met 66 was die tuisspan se voorste lopiemaker, gevolg deur Jan Frylinck met 26.

Ruben Trumpelmann (3), Divan la Cock (3), Tangeni Lungameni (2), Craig Williams (1) en Mauritius Ngupita (1) het die paaltjies laat kantel.

Die aanvangspaar van Williams (68) en Wimpie Viljoen (63*) het dié eindstryd aan die kraag beetgekry en saam met Gerhard Erasmus (9*) en elf ekstras binne 28.5 boulbeurte die wentelling van 151/1 bereik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!