Twee skorsings tref beleërde Duiker

Skolesport
Cossasa en die NSSU het die prominente sportadministrateur gister hangende 'n ondersoek geskors.
Andrew Poolman
Die jarelange administratiewe houvas wat mnr. Solomon (Solly) Duiker sedert 2007 as nasionale koördineerder van die Namibiese Skolesportunie (NSSU) uitgeoefen het, is gister verbreek toe dié organisasie se nasionale bestuur hom ná ’n virtuele vergadering die vorige aand van sy voorlopige skorsing ingelig het.

Terselfdertyd is ook bevestig dat die Konfederasie van Skolesportverenigings van Suider-Afrika (Cossasa) Duiker ook intussen geskors het.

Sy posisie het onhoudbaar geword in die nadraai van vandeesmaand se omstrede NSSU-toer na Potchefstroom vir die mislukte Cossasa Balspele, toe die Namibiërs met spanne in ses sportkodes die enigste was wat daar opgedaag het.

Minstens vier klagte om mee te begin is reeds deur die NSSU teen Duiker geformuleer, terwyl Cossasa ook drie onvleiende aanklagte teen hom lys.

Cossasa se brief is deur die sekretaris-generaal Arthur Maposa van Zimbabwe onderteken en stel dit aan Duiker dat hy sy magte as president oorskrei en die grondwet oortree het deur (a) Cossasa-geld te onttrek sonder die vereiste tweede handtekening en ongemagtigde betalings gedoen het; en (b) die uitvoerende bestuur mislei het oor die afgelope mislukte Spele op Potchefstroom, wat vir die organisasie openbare verleentheid veroorsaak het.

Klagte C hou verband met sy “twyfelagtige verhouding”met Ussasa, ’n Suid-Afrikaanse skolesportbeheerliggaam wat volgens alle aanduidinge reeds in 2005 ontbind is.

“Jy word gevolglik versoek om binne 72 uur alle Cossasa-dokumente by die NSSU-kantoor in te handig en jou daarvan te weerhou om met die finansiële ondersoek in te meng,”skryf Maposa.

NSSU-KLAGSKRIF

Die NSSU se voorsitter, mnr. Teofilus Nuugulu, en verteenwoordigers van elk van die 14 streke was Dinsdagaand in ’n virtuele vergadering om Duiker te bespreek.

Gister moes Duiker sy kantoorsleutels en alle NSSU-eiendom terugbesorg.

Die aanvanklike vier klagte (meer kan later bygevoeg word namate die ondersoek vorder) is soos volg:

1. Vals inligting is aan die NSSU se nasionale raad voorgehou rakende Cossasa se gereedheid om die Spele aan te bied en die aantal lande wat sal deelneem;

2. Duiker het die NSSU glo daartoe verbind om vir maaltye en verblyf vir atlete en beamptes te betaal aan onerkende entiteite (in Suid-Afrika).

3. Sy voorlegging van Cossasa se uitnodiging aan die NSSU, hoewel die aangeduide ondertekenaar nie kennis dra dat hy so ’n brief goedgekeur het nie.

4. Die toekenning aan net ’n enkele verskaffer vir die nasionale spandrag vir die Cossasa-spele.

DEKADES

Hoewel die reaksies op gister se nuus in sosiale media ooglopend aandui dat Duiker in die proses meer vyande as vriende gemaak het, was hy reeds sedert Mei 2007 die NSSU se nasionale koördineerder.

Die oudonderwyser van Walvisbaai is destyds op ’n driejaarkontrak aangestel. Hy is egter reeds sedert 1988 by skolesport betrokke; het die eerste NSSU-grondwet vir sy ontstaan in 1991 help skryf en was reeds vanaf die heel eerste Cossasa-sportbyeenkoms in 1999 by dié organisasie se reëlings betrokke.

• Gister se volledige NSSU-nuuskonferensie is op gistermiddag se daaglikse regstreekse programuitsending van Sport Wrap op Facebook te sien.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!