Uis Fly-In bied kompetisie aan

Andrew Poolman
Die jaarlikse Uis Brandberg Fly-In word van môre tot Sondag by die vliegveld van Uis aangebied, met die prysuitdeling wat vir Saterdagaand bestem is.

Plaaslike vlieëniers van ligte vliegtuie sien jaarliks uit na die byeenkoms, wat soos altyd ’n element van kompetisie bevat om die geleentheid soveel as moontlik pret vir deelnemers en toeskouers te maak.

Die beheerliggaam Lisama (Light Sport and Amateur-built Aircraft Association of Namibia) onder die voorsitterskap van Matthias Röttcher hanteer die reëlings, in oorleg met die direktoraat van burgerlugvaart.

Volgens hom is 24 vliegtuie, almal van Namibië, vir deelname aan vandeesweek se Fly-In geregistreer, waarvan 13 vir die kompetisie ingeskryf het.

“Ons weet ook dat sommige vlieëniers soms ook uit die bloute op Uis opdaag ... soms van Suid-Afrika, of soos in die geval van Dirk Reich van Switserland wat ’n redelik gereelde besoeker is en ook in 2021 die kompetisie gewen het,” sê Röttcher.

Hy sê die inskrywings het reeds gesluit en laat inskrywings word eintlik nie aangemoedig nie, omdat dit sake vir die organiseerders bemoeilik.

“Ons het waardering vir die noodsaaklike bystand van ons borge wat die meeste van die koste help dek, insluitend vir die teenwoordigheid van mediese personeel en brandweer, die oprigting van tente en om die aanloopbaan te laat skraap.”

DIE KOMPETISIE

Alle deelnemende vlieëniers moet môre ’n inligtingsessie oor die program bywoon. Die kompetisie het basies drie elemente:

1 Cross-country

Die vlieëniers se taak is om volgens aanwysings vanaf Uis na spesifieke plekke en terug te vlieg. Spoorsnytoestelle word gebruik om elke deelnemer se werklike vliegkoers te monitor in dié presisie-oefening. Elke vliegtuig se spoedvermoë bepaal die bestemde tyd wanneer dit terug op Uis behoort te wees nadat dit by bepaalde punte (“deur die hek”) aangedoen het. Elke vlieg-ekskursie behoort meestal tussen 40 minute en ’n uur te duur.

2 Spot landing

’n Aantal lyne word op die landingsbaan aangebring en afhangend van waar die vliegtuig se wiele grondvat, word gemeet hoe ver die vlieënier van die ideale kol geland het. Hierdie item is uiteraard meer as die vorige een op toeskouers ingestel. Elke deelnemer kry vier pogings en op in die meeste gevalle behoort drie vliegtuie gelykertyd in die lug te wees.

3 Precision flying exercise

Nog ’n oefening wat vir toeskouers toeganklik is. Vlieëniers word met behlp van spoorsnytoestelle beoordeel op hul navigering rondom drie bakens aangebring op koppies in die omgewing.

Toeskouers is welkom. ’n Biertent sal ingerig wees en braaivleis en pannekoek is van die items op die spyskaart.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!