Uit die skadu van Mboma

Atletiek
Tielman van Luill
Die 19-jarige Beatrice Masilingi, een van Namibië se Olimpiese 200 meter-finaliste in Tokio verlede jaar, het Sondag in Switserland haar eerste tree uit die skaduwee van haar gewese oefenmaat Christine Mboma gegee.

Sy het by die Résisprint International-byeenkoms in La Chaux-de-Fonds, Switserland, die 200 m in 22.29 sekondes teen minderwaardige teenstand gewen.

Dit was die eerste keer sedert 2021 dat Masilingi nie teen Mboma in dieselfde wedloop meegeding het nie.

Die 22.29 is haar beste tyd sover vir die 2022-seisoen en bemoedigend nadat sy Aprilmaand in Gaborone tydens die 100 ’n dyspierbesering opgedoen het.

Sy het wel op 2 April by die Alabama Universiteit se UAB Spring Invitational-byeenkoms in Tuscaloosa, VSA, 22.56 aangeteken.

Masilingi bedreig nog nie naby haar persoonlike beste tyd van 22.18 laasjaar nie, wat in Augustus by die o.20-wêreldkampioenskap in Nairobi opgestel is. Sy was toe tweede ná Mboma wat die goud met 21.84 verseker het. Neëntien dae tevore het sy ’n sesde plek in die Olimpiese 200-finaal in Tokio met 22.28 behaal, met Mboma tweede in 21.81.

DIE VERLOOP

Toe die twee atlete by afrigter Henk Botha begin oefen het, was Masilingi die ster-naelloopatleet op die voorgrond.

Mboma het toe nog aan die 800 en 1 500 m en soms die verspring deelgeneem. Mboma het wel in Maart 2020 vir een 200-naelloop in Swakopmund aangetree en derde in 25.05 geëindig, met Masilingi eerste in 24.09.

Mboma het in 2020 vir ses 400-naellope in die wegspringblokke gesak en drie daarvan gewen, terwyl sy in die ander drie tweede was waar Masilingi haar geklop het.

Haar beste tyd Desember 2020 in Windhoek was 51.57 met Masilingi eerste in 51.07. Masilingi het agt dae tevore in Pretoria opnuut die kalklig gesteel met ’n oorwinning in 50.44, terwyl Mboma die 800 in 2 minute 08.78 s gewen het wat niks aardskuddend was nie.

Met die 200 het Masilingi aan agt byeenkomste deelgeneem, al agt gewen en 22.71 as persoonlike beste tyd in Pretoria opgestel. Sy het ook in die 100 uitgeblink, met sewe uit sewe oorwinnings.

Met die Jeugkampioenskap in Windhoek (Desember 2020) het Masilingi in 11.38 goud vir ’n persoonlike beste opgeraap en Globine Mayova se sewe jaar ou senior Namibiese rekord geëwenaar.

Masilingi het ook Mayova se senior Namibiese 200-rekord (23.34 in Maart 2013) in Pretoria met ’n wettige wind tot 22.94 verbeter en dit in Nairobi met 22.72 uitgewis.

Sy het ook Tjipekapora Herunga se senior Namibiese 400-rekord van 51.24 (4 Mei 2012) binne twee maande met 50.99, 50.44 en 50.42 herskryf.

’n Ster is gebore.

Dit was toe. In 2021 het alles verander toe Botha besluit het om Mboma intensief vir die 400 te brei. Met haar eerste byeenkoms in Lusaka, storm sy met ’n nuwe senior Namibiese rekord (49.24) vir goud oor die wenstreep en begin die atletiekwêreld wakker skud. Masilingi eindig tweede in 49.53 en word vir die eerste keer deur die beskeie en teruggetrokke Mboma oorskadu.

Dit was tot Wêreldatletiek (WA) laas Julie afgekondig het beide mag weens natuurlike hoë testostoroonvlakke nie meer aan die 400 deelneem nie.

Dit was kort nadat Mboma in Bydgoszcz, Pole, die wêreld se aandag met ’n wegholtyd van 48.54 gesteel het.

Skielik was Masilingi nie meer die middelpunt van aandag nie en moes van toe af in die skaduwee van Mboma sien en klaarkom.

Masilingi was wel toe nog baas in die 200, maar toe WA sy besluit bekend maak, het Botha noodgedwonge beide vir die 200 en die Olimpiese Spele begin slyp.

Mboma het die 200 soos ’n tornado getref. Sy het een oorwinning na die ander met nasionale en Afrika-rekords ingeryg. Sy verower die o.20-wêreldtitel, wen ’n silwermedalje by die Tokio Spele en word as die Diamantligakampioen met ’n skitterende o.20-wêreldrekord (21.78) bekroon. En elke keer moes Masilingi aan die agterste speen suig.

OMSTREDE 2022

Mboma tref die 100 opnuut soos ’n orkaan. Sy hardloop een persoonlike beste na die ander en nael Masilingi se senior Namibiese 100-rekord (11.20) met 10.97 in Gaborone aan flarde.

Binne ’n oogwink is beide atlete egter beseer en beland in Pretoria waar die saadjies klaarblyklik geplant is om Botha opsy te skuif. Masilingi is verstaanbaar die kwesbaarste en veroorsaak pandemonium toe sy besluit om Pretoria hul basis met ’n nuwe afrigter te maak.

Mboma was egter nooit deel van die besluit wat klaarblyklik namens haar deur Agnew en die NSA aangekondig is nie.

Masilingi se onlangse verandering na Hennie Kriel as afrigter het die aandag op haar, die Suid-Afrikaanse Newton Sports Agency (NSA) en haar NSA-agent, Bradley Agnew, gevestig.

Die hele Namibië wens die tienerster sterkte en sukses vir die toekoms toe. Haar terugkeer laas Sondag is hopelik die begin van groot prestasies op die tartanbaan.

HUL VOORUITGANG

100m Masilingi: 11.93 (2019), 11.38 (2020), 11.20 (2021), 11.24 (2022).

100m Mboma: 11.25, 11.15, 11.03, 10.97 (alles 2022).

200m Masilingi: 25.06 (2018), 23.76 (2019), 22.94 (2020), 22.18 (2021), 22.29 (2022).

200m Mboma: 25.05 (2020), 21.78 (2021), 21.87 (2022).

400m Masilingi: 52.33 (2019), 50.42 (2020), 49.53 (2021).

400m Mboma: 51.57 (2020), 49.24, 49.22, 48.54 (alles in 2021).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!