Stuart McCloskey (links) en James Hume (regs) vorm ’n gedugte senterpaar vir Ulster. Hier is hulle in posisie om Tim Nanai-Williams van Toulouse vroeër vanjaar in ’n Europese Kampioenebeker-stryd vas te vat. Foto Getty Images
Stuart McCloskey (links) en James Hume (regs) vorm ’n gedugte senterpaar vir Ulster. Hier is hulle in posisie om Tim Nanai-Williams van Toulouse vroeër vanjaar in ’n Europese Kampioenebeker-stryd vas te vat. Foto Getty Images

Ulster-senterpaar spel gevaar vir Stormers

Rugby
Stephen Nell
Terwyl vooraf baie gepraat word oor die tweestryd tussen die agtstemanne Evan Roos (Stormers) en Duane Vermeulen (Ulster) in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-halfeindstryd in Kaapstad, gaan ’n ewe groot stryd in die middelveld woed.

Dís waar ’n onbeproefde Stormers-kombinasie – vermoedelik Juan de Jongh en Ruhan Nel – teen die gedugte senterpaar van Stuart McCloskey en James Hume te staan gaan kom. De Jongh sal hom straks in die Stormers se beginspan bevind weens beserings aan Damian Willemse en Rikus Pretorius.

Hume het die afgelope naweek in Ulster se kwarteindstryd-sege oor Munster ’n drie gedruk en ’n skeppende rol in nóg twee gespeel. Hy is ook ’n gerekende verdediger.

Trouens, Ulster se afrigter, Dan McFarland, waarsku die Stormers dat hy ’n speler van “wêreldgehalte” in daardie aspek is.

“Dis ’n term wat ek selde gebruik,” sê McFarland. “Sy voetwerk is baie goed, hy’s ’n sterk baldraer en hy het goeie vaartversnelling, maar sy verdediging, vir ’n senter, is van wêreldgehalte. Buitesenter is een van die moeilikste posisies om in te verdedig. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Hy maak nog foute, omdat hy jonk is, maar sy vermoë om spel te skep, is regtig uitstekend.

“Die spelafdeling waaraan hy werk en skaafwerk kort, is sy balverspreiding, sy vermoë om die bal te skuif. Ons het vinnige vleuels, wat die bal in volle vaart moet kry. James moet oor die vermoë beskik om die bal te skuif. Hy het dit Vrydag (teen Munster) gedoen.”

McCloskey en Hume het mekaar baie goed aangevul in die gemaklike oorwinning van 36-17 oor ’n sterbelaaide Munster-span.

Die Stormers het op hul beurt goed gevaar om vir Edinburgh met 28-17 te klop, veral as in ag geneem word dat hulle nie ’n spesialis-senter op die plaasvervangersbank gehad het nie en Pretorius in die derde minuut reeds beseer is. Gevolglik moes die bloedjong losskakel Sacha Mngomezulu binnesenter speel.

Gegewe wat teen Edinburgh gebeur het, sal dit interessant wees om te sien of John Dobson, die Stormers se afrigter, dapper genoeg sal wees om weer net twee agterspelers op die plaasvervangersbank te kies. Dit sal geensins verbaas nie as hy vandeesweek besluit om die senter Cornel Smit op die bank te kies.

’n Groot motivering vir Ulster in Saterdag se stryd is dat hulle 16 jaar laas ’n trofee kon wen.

“Dis lekker om wedstryde te wen, maar sukses in toernooie is wat tel,” sê McFarland.

“Al die rugby eis ’n fisieke tol, maar sielkundig is daar nie ’n probleem nie. Dit is ’n halfeindstryd en wie wil nou ’n halfeindstryd verloor?”

Ulster gaan intussen weer sonder sy voorkeurheelagter, Mike Lowry, moet regkom. Lowry het ’n besering aan sy gesig opgedoen toe hy die Haaie se Aphelele Fassi geduik het in hul laaste ligawedstryd. Stewart Moore, ’n senter wat in ’n heelagter omskep is, gaan waarskynlik soos in die halfeindstryd teen Munster weer in die laaste vesting diens doen.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!