United-triomf sluit dramatiese seisoen af

Klubrugby
Rugbyklubs oor die land heen het Saterdag bevrediging uit die eindstryde geput.
Andrew Poolman
Die jeugdigheid van die twee wedstrydgroepe in die finaal van die Namibië Rugbyunie (NRU) se premierliga en hul blootstelling aan ’n drukkoker-atmosfeer soos afgelope Saterdag was ’n belowende teken vir die vooruitsigte van die plaaslike spel.

Beide Trustco United en FNB Wanderers wemel met belowende spelers in hul vroeë 20’s of selfs jonger, terwyl beide die hoofstad se oudste rugbyklubs ook gerekende afrigters aan die stuur het om hulle in hul ontwikkeling op die regte koers te hou.

United se Filistyne sal vir die komende jaar die mantel as kampioene dra ná hul hoogs dramatiese triomf met 30-29, wat net soos in hul semifinaal teen FNB Kudus twee naweke tevore met ’n lang strafdoel deur hul heelagter Renier Benade beklink is.

Wanderers se kaptein Anton Steenkamp het agterna gesê hulle moet die teleurstelling maar op die ken vat.

Die Wit Hingste het in die ligaseisoen geen wedstryd verloor nie, maar as jy nie die finaal kan wen nie, word al die goeie werk ongedaan gemaak wat die rekordboeke betref, het hy gesê.

Volgens hom het die blou truie daarin geslaag om die voordeel wat Wanderers uit sy skrums en lynstane wou trek, te neutraliseer.

United se vorige triomf was ook in ’n Wêreldbeker-jaar, 2019, toe hulle die eindstryd ewe dramaties in die doodsnikke teen FNB Unam weggeraap het.

’n Wedstrydverslag van die ¬premierliga-finaal verskyn binne in Sport Wrap.

RESERWELIGA

FNB Grootfontein se tweede span het ewe veel van ’n wipplank-eindstryd teen FNB Kudus II van Walvisbaai met 45-42 gewen. Kudus het rustyd met 28-19 voorgeloop.

Aan Grootfontein se kant het flank Wikus Jacobs, skrumskakel Sunday Haitembu (2), vleuels Luis Talaya en AJ Vercuil, agtsteman Amutenya Amutenya, stut Renard Hattingh en haker Jimmy Ikena hul drieë ingeryg, met Vercuil wat die skopwerk hanter het.

Kudus se driedrukkers was die vleuels Jayden Bussel en Aston Mukwiilongo, senter Michael Tjazerua, skrumskakel Franklin Busch, plaasvervangersenter Darren Beukes en reserwevleuel Ronaldo Diergaardt. Losskakel Scott Winborn het met elk van sy ses doelskoppe geslaag.

EERSTELIGA

In nog ’n hoogtepunt vir rugby op die platteland het die Etosha Leeus hul herlewing gevier deur die NRU se eersteliga-eindstryd met 48-24 teen Mariental te wen, nadat die noordespan rustyd reeds met 19-5 voorgeloop het.

Vir die Etosha Leeus was die vleuels Giovanni Rittmann en Corné du Plessis, senters Siegfried Potgieter (2) en Divan Steyn, asook losvoorspelers Charlton Somseb en Nguvitja Tjaronda (2) sy driedrukkers. Heelagter George Turner het die skoppunte bygevoeg.

Mariental het eers op 5-43, met skaars tien minute oor, begin wakker skrik, maar het uiteindelik met drieë deur senter CJ Agenbag, flank Dano Kotze en slot Tony Isaacks (2) geantwoord. Hul skopper was die losskakel en kaptein Dion Venter.

VROUELIGA

Die blitsige heelagter Ivonne Kooper, met vyf drieë, was onkeerbaar in die Unam Steenbokkies se puik oorwinning met 47-3 teen die United Gemsbokkies ter afsluiting van die vroueliga vir spanne van 15 aan ’n kant.

Die stut Kayla Martin en skrumskakel Veripamue Kamburona was die studenteklub se ander driedrukkers, terwyl die vleuel Fiola Vliete met ses van haar sewe doelskoppogings akkuraat was.

Unam (rustyd 26-0) het met 47-0 voorgeloop voor Michelle Slinger (losskakel) se strafdoel die nulletjie vir United uitgevee het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!