Van der Berg se rol in Wanderers-seisoen vereer

Rugby
Die klub het vanjaar ongekende sukses gevier.
Andrew Poolman
Die losskakel André van der Berg is aangewys as sportman van die jaar – sowel as spelers se speler van die jaar – by FNB Wanderers Rugbyklub se jaareindfunksie ná die Wit Hingste se geskiedkundig suksesvolle 2022-seisoen.

Die klub het nie net die Namibië Rugbyunie se premier- en reserweligas met sy eerste en tweede manspanne gewen nie, maar ook die eerste NRU-15-vroueliga.

Van der Berg het ’n uitstekende seisoen beleef nadat hy vanaf die Noordwes-Universiteit se Pukke aangesluit het. Hy het 159 punte in ligawedstryde aangeteken, voordat hy nog ’n beslissende 16 punte in die tuissemifinaal teen FNB Rehoboth en 24 punte in die eindstryd teen FNB Unam bygedra het.

Van der Berg was afwesig by die toekennings, maar het ’n videoboodskap uit Madrid gestuur waarin hy sy dank uitspreek aan al sy Wanderers-spanmaats wat ’n rol gespeel het in sy insluiting vir die nasionale span se huidige Europese toer. Hy is Saterdag van die bank af vir sy debuut opgestuur.

Wanderers se agterlynspeler van die jaar is die regtervleuel Nandivatu Karuuombe, die voorste driedrukker in die eerste span met elf voordat hy nog twee in die eindstryd teen Unam aangeteken en sy uittrede aangekondig het om te gaan boer.

Die haker Obert Nortje is as die beste voorspeler vir die Wit Hingste vereer. Nortje was ’n lid van die nasionale toergroep wat in Frankryk kwalifisering vir die 2023 Wêreldbeker verwerf het, maar was weens persoonlike redes nie vir die huidige Europese toer beskikbaar nie.

VROUERUGBY

Mandie van Staden, wat vanjaar die nasionale 15-kaptein vir ’n Rugby Afrika-toernooi teen Suid-Afrika en Zimbabwe in Kaapstad was, is as Wanderers-rugby se sportvrou van die jaar vereer.

Shandre Jantjies is die junior sportvrou van die jaar, terwyl die veelsydige Suné Wittmann (beste opkomende speler) en Memory Tjivikua (mees toegewyde speler) ook raakgesien is.

Die Wanderers-vroue het Rehoboth in die eindstryd met 29-0 geklop (vier drieë teen nul).

ANDER TOEKENNINGS

Klubondersteuner van die jaar: Oom Apie Kotze.

Mees lojale speler: Jacques Theron.

Mees toegewyde speler: Driaan Vorster.

Mees bestendige speler: Bernie Hugo.

Beste opkomende speler: Le Beau du Preez.

Junior speler van die jaar: Iyambo Tshuuya.

Tweedespanspeler van die jaar: Dano Kotze.

Beste vordering in die tweedespan: Dandre Schreuder.

Klubspan van die jaar: Mans eerste span (NRU premierligawenners).

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 25° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 22° | 30° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 18° | 30° Tsumeb: 20° | 24° Otjiwarongo: 17° | 27° Omaruru: 19° | 30° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 19° | 29° Henties Bay: 17° | 18° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 19° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 18° Mbabane: 19° | 21° Maseru: 17° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 18° | 20° Maputo: 24° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 19° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!