Varsitybeker-reeks swakker as in verlede? Watwou!
Rugby
Rugbyskrywers verskil van siening oor die vlak van vanjaar se studentereeks.
Vanjaar se Varsitybeker-reeks was nie van dieselfde gehalte as vorige jare se toernooie nie, skryf Jody Hendricks verlede week in sy rubriek Skrumtyd.
Ek stem egter nie daarmee saam nie. Inteendeel – ek glo dit was die beste aflewering van die toernooi nóg. Die reeks het die afgelope week tot ’n einde gekom en die publiek is getrakteer met kookwaterrugby. Daar was geen tekort aan vermaak, fanatiese studente, sewepunt-drieë en geesdrif nie.
Elke Maandag stroom duisende studente na hul tuisvelde (of kroeë as dit ’n wedstryd weg van die huis af is) om hul universiteit te ondersteun. Natuurlik stop die ondersteuning nie daar nie. Die reeks word gevolg deur talle rugby-liefhebbers, skoolkinders, en die tannies en ooms van die dorp wil ook graag hul tuisspan sien speel.
Vanjaar was die wedstryde se tempo hoog en die spanne is goed afgerig. Wanneer het ons al ’n Varsitybeker-reeks gesien waar enige van die topses-spanne nog kon kwalifiseer vir ’n plek in die halfeindronde met een rondomtalie-wedstryd oor? Dit is ongekend. Vroeër was daar enkele spanne wat oorheers het en wedstryde was soms eensydig. Dít is nou iets van die verlede.
Boonop is dit die eerste keer in ses jaar dat nie Maties of Tuks met die beker wegstap nie. Dit is die eerste keer in sewe jaar dat nie een van dié twee die eindstryd kon haal nie. Die NWU-Arende en Ikeys het die afgelope Maandag gesorg vir baie opwinding in die eindstryd wat die Arende gewen het.
Dan praat ons nie eens van Tuks wat gerelegeer is na die Skild-afdeling nie. Soos Melusi Mthethwa, die Ixias-breier, ’n ruk gelede gesê het: “Onthou net, ons speel in die Varsitybeker, nie in die Matie-of-Tuks-beker nie.”
BEKER VS SKILD
Die spanne in die Skild-reeks het ’n goeie platform om op voort te bou.
Ek glo ook nie daar moet onnodig aan die huidige struktuur getorring word of ontslae geraak word van die Skild-afdeling sodat al die spelers saam om die beker meeding soos voorgestel is in Skrumtyd nie. Soos met alles in die lewe ervaar die Varsity-kompetisie ook uitdagings, maar relevant sal dit beslis bly.
Ixias (7de op die beker-puntelys) het Maandag bewys dat dié afdeling dalk net bo die meeste Skild-spanne se vuurmaakplek is. Hulle het die Madibaz (2de op die Skild-puntelys) met 91-10 afgeransel.
Die spanne in die Skild-reeks het ’n goeie platform om op voort te bou en dit bied aan hulle die geleentheid om mededingende rugby te speel.
Sou hulle teen die Beker-spanne te staan kom, twyfel ek of dit hulle enigsins goed sal doen. Verbeel jou om weekliks ’n 50-tal teen jou te kry. Buiten die spelers, sal die skare dit ook nie geniet nie en hulle sal dalk doodeenvoudig wegbly. Dit sal beslis nie die rugbykultuur ’n guns bewys nie.
BOK-VOORUITSIGTE?
Laastens skryf Hendricks dat daar nie enige spelers is wat binnekort aan die Springbok-deur sal klop nie. Daarmee kan ’n mens dalk saamstem, bloot omdat die Bokke so ’n gevestigde span het. Maar wie sou kon raai dat spelers soos Kurt-Lee Arendse (Beker-reeks) en Herschel Jantjies (Skild-reeks) hul Springbok-kleure sou kry gegrond op hul dae by die Universiteit van die Wes-Kaapland? Albei spelers het binne drie jaar ná die Varsity-kompetisie vir die Bokke uitgedraf.
Goed, nie een speler uit vanjaar se Varsitybeker sal saam met die Bokke na Frankryk reis vir die Wêreldbeker nie. Maar kom ons kyk van 2024 af wanneer die Bokke weer van vooraf aan hul span begin bou.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie