Max Verstappen vier gister sy sege by Suzuka. Foto AFP
Max Verstappen vier gister sy sege by Suzuka. Foto AFP

Verstappen en Red Bull seëvier in Japan

Formule 1
Tielman Van Lill
Max Verstappen se oorwinning in die Japannese Grand Prix het Red Bull gister gehelp om die Formule 1-vervaardigerstitel te beklink en het terselfdertyd sy kans om sy derde F1-titel te verower, ’n reusehupstoot gegee.

Verstappen, wat die wedren voor die McLaren-jaers Lando Norris en Oscar Piastri voltooi het, kan volgende maand in die Katarrese GP die wêreldtitel beklink.

Die Nederlander se sege op die Suzuka-renbaan was ondanks sy spanmaat, Sergio Pérez, se onttrekking genoeg vir Red Bull om sy tweede vervaardigerstitel opeenvolgens te verower.

“Julle het ’n vuurpyl van ’n renmotor gebou,” het Verstappen aan sy span oor die radio gesê nadat hy oor die wenstreep gejaag het.

Mercedes, Verstappen en Red Bull se naaste teenstanders, was nie in staat om by te hou nie. Lewis Hamilton het vyfde geëindig en George Russell sewende. Charles Leclerc van Ferrari was vierde en sy spanmaat, Carlos Sainz, sesde.

Verstappen was terug op sy asemrowende beste nadat hy verlede week die Singapoerse GP in ’n teleurstellende vyfde plek voltooi het. Hy het ’n dubbele aanslag van McLaren afgeweer en op die eerste draai die voortou by Norris geneem.

Die Nederlander het aanvanklik regs getrek om Piastri uit te druk voordat hy links beweeg het om Norris te verhoed om die voortou te neem.

Die veiligheidsmotor het kort daarna verskyn omrede Valtteri Bottas en Zhou Guanyu van Alfa Romeo hul motors aan die begin van die wedren beskadig het.

Pérez het vir homself moeilikheid geskep toe hy weens ’n veiligheidsmotor-oortreding met vyf sekondes gestraf is. Die Mexikaan het hom ’n paar rondtes daarna aan die wedren onttrek en aan sy span gesê “die motor voel nie reg nie”. Hy het later teruggekeer om te verseker dat hy nie sy straf van vyf sekondes in die volgende wedren hoef uit te dien nie.

Russell en Hamilton het Leclerc probeer inhaal, maar Sainz het homself laat geld en laat in die wedren vir Russell verbygesteek.

Bottas en Lance Stroll (Aston Martin), asook Alex Albon en Logan Sargeant (albei Williams) kon nie die wedren voltooi nie.

– Netwerk24/AFP

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!