Verwarring oor rugbytrui opgeklaar

Nooit deur All Blacks geteken
Die verwagting dat Le Roux Malan 'n getekende All Black-trui sou ontvang, was 'n misverstand.
Kristien Kruger
Nuusredaksie – Die berigte wat wyd versprei is van ’n getekende All Black-trui wat aan die Namibiese rugbyspeler Le Roux Malan geskenk sou word ná sy besering tydens die span se wedstryd teen New Seeland by vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi, was ongelukkig net ’n misverstand.

Só ’n trui is nooit aan Malan oorhandig nie en die Namibiese Rugby-unie (NRU) het bevestig die All Blacks het wel ’n nommer 12-trui aan Malan geskenk, maar dié trui is nie deur die hele span geteken nie.

Malan het die besering in die 17de minuut van die Groep A-wedstryd teen Nieu-Seeland opgedoen. Hy het sy fibula gebreek en die sindesmose in sy enkel geskeur en die dokters moes dié ligamente met titaandrade vasheg. Hy is tydens die wedstryd van die veld afgery.

“My linkervoet het gegly en ek dink my regtervoet was al in die grond vasgesteek, so toe ek daardie aanvanklike kontak met Beauden [Barrett] gemaak het, het dit net basies gebreek. Dit is ’n fratsbesering,” het Malan destyds gesê.

Verskeie mediaplatforms soos Fox Sports, Reuters, Planet Rugby en vele ander media het op hul aanlyn platfroms berig oor Malan se besering en die All Blacks se uitstekende gebaar om ’n nommer 12-trui – dieselfde posisie wat Malan vir die Welwitschias speel – aan hom te skenk. Die hele span sou glo die trui teken.

Die All Blacks se bestuur het egter die NRU verseker daar was nooit ’n getekende trui nie. Hulle geskenk was die (ongetekende) nommer 12-trui wat reeds ná die wedstryd op 15 September aan die NRU se bestuur gegee is om aan Malan te oorhandig.

Hoewel ’n getekende trui nie aan Malan oorhandig is nie, kan die All Black-span se goeie sportmangees nie betwyfel word nie.

Die Nieu-Seelandse senter Anton Lienert-Brown het selfs twee dae later Malan in die hospitaal besoek.

“Die beste ding van my hersteltydperk in die hospitaal was die besoek van die All Black-senter Anton Lienert-Brown.

“Dit het vir my baie beteken dat hy kom inloer het, want dit wys jou net weer ons is almal mense,” het Malan volgens ’n berig in Rapport op 1 Oktober gesê.

Malan se herstelproses sal sowat vier tot ses maande duur.

“Ek is nie spyt oor die besering nie, want dis iets waarmee ek kan saamleef. Ek is darem net 24 en sal nog ’n rugbyloopbaan hê.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!