Viertal juniors takel Afrika-uitdaging

Gholf
Andrew Poolman
Ná twee afwesige jare waarin die toernooi weens die pandemie nie aangebied is nie, maak Namibië sy terugkeer tot die Afrika junior gholfuitdaagtoernooi wat van 26 Maart tot 1 April in Egipte voorlê.

Die Namibiese Junior Gholfstigting het onlangs sy nasionale span aangekondig wat binnekort na die toernooi by Egipte se grootste gholfbaan (27 putjies), die Palm Hills-klub naby Kaïro, gaan meeding.

Willie Els (Walvisbaai-klub) en Charlie Lohman (Omeya) is die twee oorblywende spanlede van 2019 en word aangevul deur Todd Parker (Omeya) en Wensly Haseb (Tsumeb).

Die seuns sal deur Jaco van Reenen as spankaptein vergesel word.

Die Namibiese span is gekies op grond van drie toernooie as proewe in Januarie en Februarie – op Omeya, Rössmund by Swakopmund en Tsumeb, met die beste vier uit ses baanrondtetellings wat in ag geneem is.

Die kompetisie in Egipte sal besonder straf wees – veral uit die geledere van Suid-Afrika wat nog elke jaar sonder uitsondering eerste in beide die seuns- en meisiesafdelings geëindig het.

Die toptwee spanne sal kwalifiseer om in Julie aan die Wêreldd Junior Gholfkampioenskap in Tokio deel te neem.

Die tweede plekke in die Afrika-seunstoernooie is sover gewoonlik tussen Uganda, Marokko en Zambië afgewissel.

Namibië se vorige beste prestasie was ’n sewende plek (uit 13 lande) in 2019 toe die toernooi in Botswana aangebied is.

• Op dieselfde dag as die aankondiging is die Junior gholfstigting se algemene jaarvergadering ook afgehandel en ’n nuwe komitee verkies. Mnr. Grant Mather is as president verkies en neem oor by me. Adri Pienaar, wat ná agt jaar uitgetree het, maar steeds as ’n ex officio-komiteelid tot die oorgang bydra.

Me. Jax Coetzee en mnr. Jean-Paul Schmidt (tesourier) is ook deel van die topbestuur. Die Junior Gholfstigting beoog ’n paar geleenthede om die nodige geld vir die seuns se toer in te samel.

• Dit is ook bevestig dat Charlie Lohmann Namibië se genooide verteenwoordiger sal wees wat van 11 tot 13 Julie aan die Royal & Ancient Junior Ope by Monifieth-baan in Skotland gaan deelneem.

Dié toernooi is net oop vir o.16-spelers ouer as 12 jaar. Die formaat van die toernooi is 54 putjies houespel, met die afsnypunt dat net die top-80 individue (of dié wat gesamentlik 80ste is) ná die eerste 36 putjies sal voortspeel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer