Volschenk se jonges toets Aussies se senuwees

Krieket
Australië, die tweede mees suksesvolle land op dié vlak ná Indië, is gister tot in die diep water gesleep.
Tielman Van Lill
’n Waarskuwing aan die volgende teenstanders Sri Lanka en Zimbabwe was duidelik toe Namibië se o.19-span gister in Kimberley hardnekkig vasgebyt het om teen alle verwagtinge in ’n spannende wedstryd teen Australië met net vier paaltjies te verloor.

In ’n jaagtog na ’n klein totaal sou die Aussies gewis spoke gesien het van vorige “skandes” waarin onder meer Suid-Afrika en Sri Lanka by die ICC Onder 19 Wêreldbeker teen die woestynland se jongmanne verloor het.

Die Walvis Bay Salt Eagles se doelwit bly staan – om as een van die topdrie in die groep te eindig en dus in die supersesfase mee te ding.

Namibië (91 almal uit in 33.1 boulbeurte) se eerste wedstryd gister in Kimberley was ’n vuurdoop, maar Australië het toe ook eers ses paaltjies verloor voordat hy met groot verligting die wenlopie gekry het.

Die bedrewe viertal Australiese snelboulers Callum Vidler (4 paaltjies vir 17 in 8.1 boulbeurte), Tom Straker (3/16 in 8), Mahli Beardman (2/15 in 8) en Charlie Anderson (0/13 in 5) het uiteindelik ’n deurslaggewende invloed uitgeoefen.

Australië het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen. Die boulduo Anderson en Vidler se akkuraatheid en beweging van die blad af het deurgaans probleme ingehou. Vidler boul Hansie de Villiers vir een lopie en betrap JW Visagie been voor paaltjie vir nul (telling 6/2 in 5.2 boulbeurte).

Gerhard van Rensburg het hom probeer ingrawe en het 32 aflewerings getrotseer voor hy vir twee lopies uitgevang is (telling 32/3 in 12.3 bb).

Met Zacheo van Vuuren se verskyning op nommer vier voor die penne saam met Van Rensburg, het Namibië se telling skielik lewe begin kry. Van Vuuren het oordeelkundig en met vernuf gekolf (tempo bykans 62 persent) vir 29 van 47 balle, met vyf viere.

Van Vuuren se einde het gekom toe hy in die glippe uitgevang is (45/4 ná 16.5 bb). Die TV-kykweer het laat blyk dat geen sigbare gedeelte van die bouler, Tom Straker, se voet agter die boullyn was nie, maar die hersiening van die oënskynlike foutbal het nietemin in die Aussies se guns geëindig.

Namibië se kaptein Alexander Volschenk het hardnekkig vasgeskop, maar Ryan Moffett (3 van 6 balle) en Jack Brassell (1 van 7 b) se kolfbeurte saam met hul kaptein was kortstondig (50/6 in 19.3).

Volschenk het onmiddellik ’n vier en ’n ses geslaan toe die enigste draaibouler Rafael Macmillan die naatbouler begin aflos het. Die kaptein se vertrek vir 21 van 45 b) het Namibië op 90/9 geplaas.

Saam met hom het die stertkantkolwers Henry van Wyk (7), PD Blignaut (1), Hanro Badenhorst (11 nie uit nie van 17 balle, 1x4) en Junior Kariata (1) ook elke moontlike lopie uit die gesoute Australiese boulaanval probeer wurg.

TEIKEN NET-NET TE KLEIN

As regterarm naatbouler het Brassell eerste vir Namibië toegeslaan toe hy Australië se aanvangskolwer, Sam Konstas vir een lopie in die derde boulbeurt skoongeboul het. Sy inswaaier het die wegpen getref toe Konstas hom misgis en die bal met rus gelaat het.

Harry Dixon (16), Harjas Singh (4), Ryan Hicks (8) en Corey Wasley (4) het kort ná mekaar gevolg en op 57/5 was die Aussies inderdaad kwesbaar.

Die Aussies se kaptein, Hugh Weibgen, het op nommer drie kopgehou vir die deurslaggewende 39 nie uit nie (43 b, 4x4) saam met Rafael Macmillan (16) vir hul openingsege in Groep C.

Brassell (3/28 in 8), Hanro Badenhorst (2/29 in 6) en die draaibouler Henry van Wyk (1/6 in 1) het paaltjies vir Namibië geneem.

Ryan Moffett het twee vangskote raakgevat, terwyl Gerhard van Rensburg ook ’n vangkans (Wasley) op eerste glip raakgevat het wat tussen paaltjiewagter JW Visagie se handskoene deur geseil het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!