Voorry-kolos pak Bokke in Marseille

Rugby
Hendrik Cronjé
’n Reuse-uitdaging wag Saterdag in Marseille op Ox Nche, wat teen die Franse monsterstut, Uini Atonio (1,97 m en 147 kg), gaan skrum.

Atonio is deel van ’n onveranderde beginspan, maar die Franse afrigter, Fabien Galthié, het besluit om ses voorspelers en slegs twee agterspelers op sy bank vir die toets teen die Springbokke te kies.

Nche (1,76 m en 115 kg) sal hoop dat sy lengte en tegniek in sy guns tel teen Atonio, wat op 26 Maart 1990 in Timaru, Nieu-Seeland, gebore is.

Korter stutte soos Piet Bester en Frans Erasmus het al in die verlede gewys dat jou lengte in jou guns teen ’n langer teenstander kan tel.

Atonio speel al van 2011 af sy klubrugby vir die Franse klubspan La Rochelle. Hy het Samoa op o.20-vlak verteenwoordig, maar daarna gekwalifiseer om vir Frankryk sy senior rugby te speel.

Hy was vanjaar die vaskopstut in al vyf Frankryk se Sesnasies-kragmetings. Die Hane het al daardie wedstryde gewen. Hy word as die kragman in hul agttal beskou.

Sover vasgestel kan word, is hy naas die voormalige Fidjiaanse stut Bill Cavubati (165 kg), die swaarste toetsspeler nóg.

Voormalige Bok-stutte soos Os du Randt (1,90 m en 127 kg), Ollie le Roux (1,82 m en 122 kg) en Flippie van der Merwe (1,96 m en 133 kg) het nie in hul speeldae die skaal soos Atonio laat kreun nie.

Reuters berig intussen Galthie het op ’n nuuskonferensie in Parys gesê hy is baie tevrede met die span wat Australië geklop het.

“So ons vertrou hulle weer vir Saterdag,” het Galthie gesê.

“Selfs wanneer dinge moeilik gaan, en teen Australië het ons oomblikke gehad waar ons onder groot druk was, vind ons oplossings.”

Volgens hom het hulle die nodige skietgoed om nou ook met die Bokke af te reken.

Frankryk se bestuurder, Raphael Ibañez, wat Donderdag gevra is of ’n oorwinning oor die wêreldkampioen die Hane die gunstelinge vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi sal maak, het gesê: “Ons poog die afgelope drie jaar om onder die wêreld se voorste drie spanne te tel, maar ons laat graag die gunsteling-etiket vir die WB-toernooi aan ander lande oor.

“Suid-Afrika is ’n gedugte span, dis al wat ons vir nou kan sê.”

FRANKRYK (15-1):

Thomas Ramos, Damian Penaud, Gael Fickou, Jonathan Danty, Yoram Moefana, Romain Ntamack, Antoine Dupont (k), Gregory Alldritt, Charles Ollivon, Anthony Jelonch, Thibaud Flament, Cameron Woki, Uini Atonio, Julien Marchand, Cyril Baille.

Reserwes: Peato Mauvaka, Reda Wardi, Sipili Falatea, Romain Taofifenua, Bastien Chalureau, Sekou Macalou, Maxime Lucu, Matthieu Jalibert.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer