Vreeslose Stormers kraai oor ‘beste nóg
Rugby
’n Tuishalfeindstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap. ’n Skitter-sege met 33-21 oor Jake White se Bulle – hul sesde agtereenvolgende wen oor hul aartsvyand in die VRK. En vir ’n slag weer bykans 45 000 toeskouers wat ’n rugby-bederf kon geniet. Dit is van die hope vreugde waaroor die Stormers al van Saterdagaand af met reg kan kraai.
En John Dobson, die Stormers-breier, hét.
“Binne die konteks van ons wedywering met die Bulle die laaste ruk was dit een van ons beste vertonings.
“Dit het selfs beter as die een in Desember gevoel (die Stormers het toe 37-27 gewen). Twee weke gelede was daar vrese dat die gety teen ons was en al die momentum by die Bulle. Ons het hierdie week egter baie selfvertroue gehad,” sê Dobson.
Waarskynlik die heel belangrikste, naas die sege en die tuishalfeind wat daarmee beklink is, is hoe die Kaapse span en sy individuele spelers onder die druk van die reuseskare gereageer het.
Dit was met plofkrag, riskante aanvallende spel, brutaal fisiek in die stryd voor en ewe veel met finesse agter. En dis waarom Dobson boaan die lys van uitblinkers moet verskyn.
Die Stormers se vreesloosheid om dinge te maak gebeur, het Dobson se styl van afrigting weerspieël. Op die grond en in fisieke botsings was die Stormers ystermanne. Vat maar net Deon Fourie en Steven Kitshoff se kundigheid om besit om te keer en só ook strafskoppe af te dwing.
Fourie het die Bulle in dié opsig gedril soos lanklaas gesien is.
Maar dit was eerder die Stormers se minagting vir “vrees om te verloor” wat uitgestaan het in hul strewe om met spoed op die bal te speel en op hul voete te bly, eerder as om bots-rugby te speel met fases van balopvat.
Dobson is die argitek hiearvan en dit het gewys in die spel van Manie Libbok, wat as losskakel die spilpunt van die Stormers se aanvallende spel was. Dit was besielend om te sien hoeveel keer Libbok die eerste ontvanger was en hoe hy as besluitnemer dinge kon maak gebeur. Hier en daar was daar blapse, maar hy genereer ongelooflike energie, en by sy opponente onsekerheid – die kwaliteit-elemente vir skeppende spel.
Die Stormers, en Dobson, het ook gewys dat aanval ’n ewe goeie manier van verdediging is – dus dat aanval ewe veel druk op opponente kan plaas as verdediging, wat al die 11de gebod in rugby geword het.
Die Bulle was hoofsaaklik die slagoffers van swak besluitneming en uitvoering. Dis nou behalwe vir die slae wat hulle by die afbreekpunte gekry het.
Hoewel hulle in elke faset geklop is, het die Bulle ook nie die geluksgodin aan hul kant gehad nie. Hul kaarte is aan die vooraand van die wedstryd deurmekaar gekrap toe Canan Moodie sy dyspier in hul kapteinsoefening beseer het. Dit het hulle genoop om vir Johan Goosen van losskakel heelagter toe te skuif. Kurt-Lee Arendse was gevolglik op vleuel, terwyl Chris Smith as losskakel begin het.
Moodie is in ’n klas van sy eie wanneer dit by mededinging om die hoë bal kom en die Bulle se taktiese skopplan is waarskynlik deur die onverwagse wending deurmekaargekrap.
White erken Moodie se onttrekking en Goosen se besering in die wedstryd het seergemaak: “Dis twee Bokke met die X-faktor. Ons het nie baie van daai soort spelers nie,” sê hy.
In die eerste helfte het hulle bloot net gesukkel om hul hande op die bal te kry. Die Stormers het die een aanval op die ander geloods en Libbok was onspeelbaar goed – met bal in die hand en sy stewel.
Die Bulle se taak is ook bemoeilik deur Cyle Brink wat deur die loop van die eerste helfte ’n geel kaart gekry het nadat hy vir Hacjivah Dayimani van die bal af gestamp het. Einste Brink het darem kort voor rustyd vergoed met ’n drie wat die Bulle vir eers in die wedstryd gehou het.
– Netwerk24/Rapport

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie