Vroue draai in Nederland voor WB-uitdaging

Mengo lei Namibië vir oulaas
Die Wêreldbeker van 5 tot 12 Februarie in Pretoria snel vinnig nader.
Tielman Van Lill
Die MTC senior nasionale vrouehokkiespan het Saterdag na Nederland vertrek waar die twaalf Namibiërs vir die volgende twee weke teen hul Nederlandse eweknieë vir die komende Binnenshuise Wêreldbeker in Suid-Afrika gaan slyp.

Die span wat ook deur Namdia, NamibRe en Standard Bank geborg word, sal van 5 tot 11 Februarie in Pretoria hul status as die beste in Afrika wil onderstreep. Die Namibiese vroue is die heersende binnenshuise Afrika-kampioen.

Hulle het Desembermaand in Egipte ook die Afrika-titel as beste vyf-aan-’n-kantspan teen gedugte teenstand ingepalm. Met dié prestasie in die sakkie, het Namibië ook vir dié kode se eerste Wêreldbeker in Januarie 2024 in Muskat, Oman, gekwalifiseer.

In Pretoria sal hulle sal in groep B teen België, Kanada, Kazakstan, Oekraïne en die Tsjeggiese Republiek meeding.

Die gasheerland se Proteas is in groep A met Australië, Nederland, Nieu-Seeland, Oostenryk en die Verenigde State van Amerika in hul pad.

Maggy Mengo, kaptein van Namibië, het verlede jaar September haar laaste toets op Namibiese bodem vir haar land gespeel. Haar uittrede sal ná meer as 100 toetse by die Wêreldbeker in Pretoria ’n werlikheid word.

Sy het aan Republikein gesê: “Ons jaar het vyfuur soggens met ’n strawwe oefenprogram tot laat in die aande afgeskop. Die span is ná die afgelope twee weke baie opgewonde om in Nederland te gaan oefen voor ons van daar direk na Pretoria sal vertrek.

“Ons is gereed om vir die wêreldtitel te veg en Namibië met trots op die internasionale verhoog te verteenwoordig. Daar was ’n paar swakpunte in ons mondering waaraan die span die afgelope maande ná die laaste toetse teen die Proteas gewerk het.

“Om teen Nederland te gaan slyp wat beslis die gunsteling is om die Wêreldbeker te wen, is ’n bonus vir ons. Namibië het die afgelope paar jaar beslis die gaping tussen ons en die toplande laat krimp.”

Nadat sy self as jong speler in dié Europese land kamp opgeslaan het, ken sydie Nederlanders baie goed. “Hulle is ongelooflik kompeterend en sal beslis nie sag met ons te werk gaan nie.

“My naderende uittrede bring gemengde gevoelens na vore. Dit was ’n ongelooflike reis waartydens ek baie geleer het en wat my as mens en sportvrou gevorm het. Ook weg van die baan het die sport ’n groot deel van my as mens gesmee.

“Ek is verheug en dankbaar dat ek my land meer as 100 keer op die hokkieveld kon verteenwoordig waar ek regtig alles vir my land en die embleem op my bors gegee het. Dit sal emosioneel vir my by die Wêreldbeker wees wanneer ek vir die laaste keer die nasionale lied as speler sal sing.

“Hokkie het vir my baie beteken. Die sport het vir my ongelooflik baie deure oopgemaak en my gebring waar ek vandag is. Ek was bevoorreg om hokkie professioneel in Nederland te speel waar ek kon studeer en bietjie werk ook.

“Potensiële jong spelers moet besef daar is baie geleenthede in hokkie. Moenie moed opgee nie. Dit vat baie toewyding, harde werk, dissipline en jy moet gefokus bly. Daar is dae wat die afrigter op jou skree en persoonlike of ander omstandighede jou uitdaag, maar moenie ophou speel nie. Gaan vir jou droom en maak dit ’n werklikheid.

“Ek wil ons borge uit my hart bedank wat vir jare lank by hokkie betrokke was, asook die borge wat ons tans ondersteun om by die Wêreldbeker in aksie te kan wees. Ons gaan julle trots maak en nóg borge na hokkie lok.

“Baie dankie aan ons regering vir hul ondersteuning. Baie dankie MTC, Namdia, NamibRe en Standard Bank vir jul vertroue in ons.”

Die MTC Namibiese vrouespan vir die Wêreldbeker: Maggy Mengo (kaptein), Sunelle Ludwig (onderkaptein), Petro Stoffberg, Berencia Diamond (doelwagters), Gillian Hermanus, Jivanka Kruger, Kaela Schimming, Caitlin Gillies, Azaylee Philander, Jaime Gillies, Armin van Staden en Danja Meyer.

Die span word deur Erwin Handura (hoofafrigter), Kagiso Mosiane (hulpafrigter), Kimberly Le Roux (bestuurder), Manuel Carballo (sportsielkundige), Maryke Short (video-ontleder) en Henriette Kruger (assistent-bestuurder) vergesel.

By die Namibiese mans- en vrouespanne se afskeid by die ministerie van sport verlede week het die president van die Namibiese Hokkie-unie, mnr. Reagon Graig, gesê beide spanne is ten volle daarop ingestel om die beste moontlike eindposisie by die Wêreldbeker te verseker.

DJ Strauss en sy Namibiese manspan is saam met Oostenryk, Nederland, België, Kazakstan en Nie-Seeland gegroepeer wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!