• Tuisblad
  • Sport
  • Vroue-Eagles smaak soete, historiese sege teen aartsvyand

Vroue-Eagles smaak soete, historiese sege teen aartsvyand

Krieket
Sportredaksie
In ’n uiters spannende kragmeting het Namibië se Capricorn Vroue-Eagles gister op merkwaardige wyse kop gehou en vir die eerste keer in die geskiedenis ’n internasionale krieketwedstryd in enige formaat teen die Zimbabwiese vrouespan gewen.

Die oorwinning dien as ’n beloning vir die harde werk agter die skerms wat afrigter Francois van der Merwe en sy spelersgroep die afgelope maande gedoen het – en wek ook behoorlik aptyt op vir die res van die week se Capricorn driehoekige T20-reeks in Windhoek, met Uganda as die derde deelnemer.

Zimbabwe is ’n jarelange gevestigde toetsspelende lid van die Internasionale Krieketraad en selfs vir die Namibiese mans kon oor die jare selde die Zimbabwiërs se oorheersing afskud.

Die kolfvernuf van die speler van die wedstryd, Arrasta Diergaardt, met ’n onoorwonne vyftigtal, was gister goud werd vir Namibië.

“Ons mikpunt is om in die eindstryd te haal. Ons mikpunt was van die begin af om nie net kompeterend teen Zimbabwe te wees nie, maar om hulle te klop,” het die Eagles-kaptein Irené van Zyl agterna gesê.

“Ons wou wys dat ons die afgelope maande werklik baie hard gewerk het. Vandag se oorwinning wys dat die verskil tussen ons en hulle op die wêreldranglys bloot ’n nommer is.

“Dit was ’n baie spannende wedstryd. Ek is baie trots op die meisies.

“Arrasta is reeds sedert die onlangse Richelieu-franchisereeks uitstekend op dreef, met goeie prestasies om haar vertoningsvlak hoër te lig. Sy het koel gebly onder druk, saam met Yasmeen, en dis presies wat jy van jou topkolwers verwag en wat afrigter Francois van ons wil hê.

“Dis maar net die eerste wedstryd, maar dis ’n goeie begin.”

Die Namibiërs (131/3 in 19.4 boulbeurte) het gister by CCD Tigers se veld in Pionierspark hul geskiedkundige eerste oorwinning met sewe paaltjies teen Zimbabwe (130/3 in 20) behaal.

Hoewel die Capricorn Eagles met 320 internasionale T20-wedstryde (T20i) op hul getuigskrif teen Zimbabwe se 149 kon spog, het Chipo Mugeri-Tiripano gister byna vrou-alleen die gasheer se toernooi op ’n vals noot laat begin.

Mugeri-Tiripano op nommer drie het haar 80 lopies met tien viere en twee sesse afgerond.

Die besoekers het ná tien boulbeurte 55 lopies vir die verlies van een paaltjie gehad terwyl die Eagles op 53/1 gestaan het. Die 75 wat die gaste in die laaste tien boulbeurte geslaan het, kan wel ’n bron van kommer vir die Namibiese boulers wat net twee paaltjies in dié tydperk kon bewerkstellig.

Met slegs 18 balle oor het die gasheer (103/3) 28 lopies teen 9.33 per bb benodig om die knoop deur te haak. Met 12 balle oor (116/3) 15 lopies teen 7.5 en in die laaste boulbeurt moes Arrasta Diergaardt en Green (121/3) tien aanteken om 131 vir ’n sege te bereik.

Diergaardt was teen dié tyd goed ingegrawe en behaal met slegs twee aflewerings oor vir haar span met ’n sierlike ses die onvergeetlike oorwinning om haar pragbeurt met 62 lopies af te sluit. Sy is as speler van die wedstryd aangewys.

Zimbabwe se lopies

1 Sharne Mayers (4 lopies, 14 balle, gevang Adri van der Merwe, geboul Suné Wittmann)

2 Chipo Mugeri-Tiripano (80, 59 b, 10x4, 2x6, uitgehardloop Wittmann)

3 Mary-Anne Musonda (14, 26 b, gevang Irené van Zyl, geboul Kayleen Green)

4 Modester Mupachikwa (12*, 14b)

5 Kelis Ndlovu (7, 10 b)

Ekstras 13 (3 foutballe, 5 wydlopers)

Val van paaltjies: 1/34 (Mayers, 6.5 bb), 2/93 (Musonda, 15.2), 3/112 (Mugeri-Tiripano, 16.6).

Wittmann (1/19 in 3 bb teen 6.33) en Green (1/27 in 4 tn 6.75) het die Eagles sal paaltjies geoes.

Die Eagles se telkaart

1 Suné Wittmann (10, 6 b, 2x4, geboul Michelle Mavunga)

2 Arrasta Diergaardt (62*, 60 b, 2x4, 3x6)

3 Yasmeen Khan (36, 34 b, 4x4, gevang Ndlovu, geboul Mavunga)

4 Wilka Mwatile (13, 12 b, 1x4, 1x6, gevang Musonda, geboul Anesu Mushangwe)

5 Green (2*, 6 b).

Ekstras 8 (4 wydlopers).

Val van paaltjies: 1/23 (Wittmann, 2.3), 2/85 (Khan, 14.2), 3/103 (Mwatile, 16.4).

Vir Zimbabwe het Mavunga uiters suinig geboul om 2/10 in 4 bb te oes. Mushangwe dra met 1/23 in 4 by, maar dit is Marange (0/13 in 4) met twee leë bb wat die Eagles se vordering gerem het.

Vir Zimbabwe is M. Mupachikwa met 541 ranglyspunte die 22ste beste kolwer op die ICC se T20-wêreldranglys, Mary Musonda 57ste met 359 en P. Marange 100ste (laaste) met 222.

Namibië se Adri van der Merwe 71ste (292), Yasmeen Khan 87ste (248), Kayleen Green 90ste (240) en Suné Wittmann 91ste (238) pronk ook op die ICC T20i-ranglys.

Net die boulers Marange 50ste (443) en Nomvelo Sibanda 73ste (343) verskyn op die ICC T20i-ranglys van die twee spanne.

Kelis Ndlovu (16 jaar) en Michelle Mavunga (17) het gister hul T20i-buiging vir Zimbabwe gemaak.

Die Eaglespan in kolf-volgorde met aantal T20i’s in hakies: Suné Wittmann (29), Arrasta Diergaardt (28), Yasmeen Khan (37), Kayleen Green (37), Adri van der Merwe (37), W. Mwatile (30), Irené van Zyl (26), Didi Foerster (28), Merczerly Gorases (9), Sylvia Shihepo (36) en Victoria Hamunyela (23).

• VANDAG se twee wedstryde by CCD-veld: Namibië teen Uganda 09:30; Uganda teen Zimbabwe 14:30. Die finaal is op Dinsdag 26 April.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!