Vroue in Formule Een

Akademie wil ontwikkel en bemagtig
Ten spyte van daadwerklike pogings om vroue aan motorsport bloot te stel, sê Susie Wolff dit kan dalk dekades neem voor 'n vrou weer aan 'n F1-resies sal deelneem.
Iréne-Mari van der Walt
Die Brit Jessica Hawkins se verskyning in ’n Formule Een (F1)-masjien as ’n toetsdrywer vir die Aston Martin Aramco Cognizant F1-span, het vroue wat in motorsport belangstel se hoop vir ’n F1-vrouerenjaer in die nabye toekoms weer opnuut laat opvlam.

Sy is die eerste vrou agter die stuur van ’n F1-renmotor sedert Tatiana Calderon in 2018 as die Alfa Romeo F1-span se toetsdrywer benoem is.

Menige vroue het waarskynlik nog nooit van Hawkins of Calderon gehoor nie, en kan hulself nog minder indink dat hulle self agter die stuur van een van dié voertuie kan sit.

Toe ’n vriend onlangs opmerk dat hy net twee vroue ken wat enigsins in dié sport belangstel – en ek is een van die twee – het ek besef dit kan ’n intimiderende sport wees. Veral as jou pa jou nooit aan die skouer geklop het nie en gesê het: “Seun, ek dink dit is tyd dat ons oor die Brabhams en die remskoene praat.”

WAT IS FORMULE EEN?

Die woord “formule” verwys na riglyne waarvolgens dié enkelsitplek-renmotors ontwikkel moet word en die stel reëls wat renjaers en vervaardigers moet volg.

Jy mag verbaas wees om te leer dat daar Formule 1, 2, 3, 4 en selfs Formule E (vir elektriese motors) bestaan.

Tans is daar tien F1-spanne met twee renjaers per span wat elk probeer om die meeste punte te behaal – dus is dit altesaam 20 renjaers. Slegs die eerste tien renjaers in elke resies ontvang punte met ’n ekstra punt wat toegeken word aan die renjaer wat die vinnigste rondte om die baan gedurende die resies kan voltooi.

Twee wêreldtitels is ter sprake in F1 – die renjaerstitel en die vervaardigerstitel. Die renjaer wat die meeste punte teen die einde van die seisoen ophoop, stap weg met die renjaerstitel, asook die vervaardiger met die meeste punte.

Spanne soos Red Bull Oracle Racing, Mercedes AMG Petronas en McLaren Racing probeer almal om jaar na jaar die vinnigste motor volgens die “formule” te vervaardig.

Ywerige renjaers hoop weer om uit te blink sodat spanne met vinniger motors hulle opraap. Dit het tot gevolg dat vervaardigers voortdurend probeer om die beste motor te vervaardig om die beste renjaers na hulle spanne te lok en andersom.

’N F1-MASJIEN

Die kern van enige F1-masjien se sukses is afwaartse drukkrag (downforce).

Die druk word hoofsaaklik gegenereer deur die motor se skulpraamromp (monocoque) so na as moontlik aan die grond te sak – hoe laer die motor, hoe meer afwaartse druk. Té laag en die kwessie van bonsende suspensies (porpoising) vererger.

Afwaartse druk laat die motor aan die pad “vassuig”, wat beteken dat renjaers later in die draaie rem hoef te trap en vinniger uit draaie kan beweeg – hierdie is uiters belangrik waar die verskil tussen om te wen en te verloor millisekondes kan wees.

As die renmotor se suspensie erg bons op die pylvakke van ’n baan, is dit wanneer ’n motor te laag is en die afwaartse drukkrag vir nanosekondes op ’n slag verdwyn voor dit weer verskyn. Die algemeenste oorsaak hiervan is wanneer dele van die motor se onderstel teen die baan kap.

Die voortdurende verdwyning en herverskyning van hierdie druk veroorsaak dat die motor soos ’n wipplank wip – nie ’n aangename rit vir ’n renjaer nie en ’n vinnige manier om jou renmotor se werkverrigting ’n ernstige knou toe te dien.

F1-STRATEGIE

Strategie trek die verskeie toutjies van dié sport bymekaar. Daar word van renjaers vereis om minstens een keer in elke resies ’n kuipestop te voltooi om die tipe bande op hul motor te verander – ’n eenstop-resies is ’n strategiese prestasie.

In totaal is daar vyf soorte bande – ’n sagte, middelmatige en hardeband asook twee soorte band vir reëntoestande.

Sagte bande laat motors toe om ’n topspoed vinniger te bereik, maar disintegreer vinniger. Hoe meer skade ’n band opdoen, hoe stadiger sal die motor ry. Harder bande hou langer, maar is in die algemeen stadiger.

Dele van die motor, soos die bande of neus, kan tydens ’n kuipestop blitsvinnig vervang word. Indien meer ernstige skade aan ’n motor aangerig is, moet ’n drywer egter die resies verlaat en dus die punte wat hulle en hul vervaardiger kon verdien, verbeur.

Wanneer ’n groot ongeluk plaasvind, word ’n veiligheidsmotor uitgestuur en renjaers moet hul spoed verminder en agter die veiligheidsmotor bly. Baie spanne verkies om dan na die kuipe te gaan omdat die motors agter die veiligheidsmotor ophoop. Dit maak dit dan makliker vir die renjaers in die kuipe om talle van die ander renjaers in te haal en hul posisie te verbeter.

VROUE

Lella Lombardi is tans die enigste vrou wat nog in die geskiedenis punte in F1 kon verower toe sy in die 1975 Formule Een-resies ’n halwe punt op die telbord gesit het.

Lombardi het 12 Formule Een-resies in haar loopbaan begin – die 1975-seisoen het 14 F1-wedrenne gebied. Die McLaren-renjaer, Oscar Piastri – vir konteks – het reeds 16 Formule Een-wedrenne agter die rug ten spyte daarvan dat dit sy eerste seisoen in F1 is. Vanjaar se F1-kalendar het 23 wedrenne met net vyf wat oorbly. Piastri het ook eerste plek in die mees onlangse blitsren in Katar aangeteken – die eerste van sy loopbaan.

Voor Lombardi was Maria Teresa de Filippis die eerste vrou om aan F1 deel te neem toe sy in 1958 Maserati se 250F-enjin laat brul het. Sy het tiende oor die wenstreep gery nadat nege ander drywers nie daarin kon slaag om die resies te voltooi nie. Sy is teen die einde van die resies twee keer deur die voorlopers verbygesteek.

Die laaste vrou wat amptelik aan ’n F1-naweek deelgeneem het, was Susie Wolff, nou die uitvoerende direkteur van die Formule Akademie, toe sy in 2014 by Silverstone in Engeland aan ’n oefensessie vir die Williams F1-span deelgeneem het.

Wolff het in 2018 by Formule E aangesluit as Venturi Racing se spanhoof. Sy het in Augustus verlede jaar bekend gemaak dat sy Venturi en Formule E sou verlaat. Sy is in Maart vanjaar as uitvoerende direkteur van die Formule Akademie aangewys – ’n vrouereeks onder die F1-vaandel wat ten doel het om vroue in F1 te ontwikkel en te bemagtig.

Hoewel die Formule Akademie onlangs bekend gemaak het dat hulle by die 2024 F1-kalendar sal aansluit, sê Wolff dit kan tot ’n dekade neem voor ’n vrou weer aan ’n F1-resies sal deelneem.

Die jong Skotse Formule Akademie-renjaer Chloe Grant het egter in April vanjaar aan The Guardian gesê sy kry oorweldigende negatiewe reaksie van seuns en mans in die algemeen oor haar deelname in motorsport en haar F1-ambisies.

Sy het egter ander renjaers uitgesonder. “As ’n drywer respekteer ander drywers jou ... ek het nog net een man teëgekom wat nie daarvan gehou het om teen ’n vrou te verloor nie, maar hy ry nie meer nie,” het sy aan dié koerant se Giles Richards gesê.

Grant onthou haar ontmoeting met haar held, die Mercedes F1-span se Lewis Hamilton, vir sy goeie gesindheid.

“Ek was bevoorreg om hom in 2018 te ontmoet. Hy was laat vir ’n vergadering, maar het ’n halfuur met my gepraat en my soos ’n eweknie laat voel. Hy het met my gepraat soos ’n normale mens,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!