Wag-’n-Bietjie eindig boaan
Skolesport
Windhoek Hoërskool se onlangse interhuis-atletiekkampioenskap was die 65ste jaarlikse weergawe van dié spoggeleentheid – maar ook die eerste hervatting sedert 2019, met twee jare waarin dit weens Covid-19 nie aangebied is nie. WHS wys graag hoe dinge gedoen behoort te word wanneer dit by sportgeleenthede kom en die opgewondenheid was opnuut tasbaar in die FNB Vegkopstadion vir die tweedaagse geleentheid. Elke leerling in die skool, van graad 8 tot 12 was in een van die drie interhuisspanne ingedeel. Die vooraf aktiwiteite wat ook punte vir die spanne ingebring het, het weggespring met ’n afloswedloop vanaf die middestad tot by die skool. ’n Swemkompetisie was ook ingesluit, met ’n toegekende lorrie in die kleure van elke span wat die deelnemers na die munisipale swembad in Olympia vervoer het. Ná afloop van die atletiekkompetisie is die trofee aan die wenspan van Wag-’n-Bietjie (1298 punte) toegeken, wat Swarthaak (1097) en Kanniedood (1061) uitgestof het. Die Swarthaak-span het met beide die Sangbeker en die Dekorprys weggestap. Die wenspan het ook die meeste van die inviduele uitblinkers opgelewer: Beste prestasie deur ’n seunsatleet: Pieter-Jan Strydom (Wag-’n-Bietjie) Beste prestasie deur ’n meisiesatleet: Zanel Theron (Wag-’n-Bietjie) Junior victrix ludorum: Azaniah Buys 1923 punte (Kanniedood) Senior victrix ludorum: Zanel Theron 1979 punte (Wag-’n-Bietjie) Junior victor : Pieter-Jan Strydom 1627 punte (Wag-’n-Bietjie) Senior victor ludorum: Alex Beukes 2091 punte (Swarthaak) Die skoolhoof, mnr. Hawie Engels, sê die sang en die gees van opgewondenheid onder die leerders was die belangrikste. “Sport, atletiek en ons huiskompetisie is elemente wat bydra tot die holistiese ontwikkeling van ons kinders.”
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie