Walvis PHS genadeloos teen Dr. Lemmer

Skolerugby
'n Liplekker vooruitsig is komende naweek se botsing tussen spanne nommer een en twee, Gimnasium en WHS.
Andrew Poolman
PSG Walvisbaai Privaat Hoërskool se stewig geboude agtsteman en kaptein Krynauw Bouwer het hom nie laat keer naby die doellyn nie en het Saterdag vier drieë in die tuiswedstryd teen Dr. Lemmer van Rehoboth gedruk.

Die Walvisbaaiers het die grootste telling van die naweek se wedstryde in die Standard Bank o.19 Superliga gesorg deur die wedstryd met 48-19 te oorheers.

Benewens Bouwer se vier drieë het die slotte William Lottering en Matthew Quinn en sesflank Janco Bruyns ook die kusspan se oorheersing voorlangs in punte omskep.

Die losskakel Michael Koopman (vyf doelskoppe) het ook een strafdoel deur die pale gejaag.

“Ek dink die telling vlei ons ’n bietjie; Dr. Lemmer het beter gespeel as wat die telling aandui (rustyd 24-19) en het drie drieë gedruk.

“Ons het ’n paar houe gevat en was met tye gelukkig. Voorlangs het Krynauw Bouwer en Janco Bruyns hard gewerk om hierdie oorwinning te verseker,” sê WBPHS se afrigter, Henry Kemp.

GIM BLY BO

Skopwerk pale toe was maar moeilik op ’n winderige Affiespark Saterdagoggend, waar Windhoek Gimnasium se eerste span, die Schoemans-groep Leeus, ’n oortuigende oorwinning met twintig punte teen KMC One Construction Windhoek Affies behaal het (37-17, ses drieë teen drie).

Gimnasium, wat rustyd net met 13-10 voor was, het ’n beter afgeronde vertoning gelewer teen die titelhouer van 2018 en 2019 en het hul voorsprong boaan die puntelys behou.

Vir Gimmies het die flank Dirkie Theunissen drie identiese drieë aan die agterpunt van sy agttal se lynstaandrywe gedruk. Die haker Hendré Schrader het van ’n vinnige tikskop oorgeduik, terwyl slot Handre Visser sy vyf punte bygedra het nadat ’n agterspeler se skop afgestorm is.

Gim se agtsteman en kaptein Janneman Brand het die laaste sê gehad onmiddellik vanaf die afskop ná Visser se drie. Flank Ruan Agenbag het deurgebreek en skrumskakel Elzando van Wyk het sake verder gevoer voordat hy naby die kwartlyn grond toe gebring is. Die bal was egter vinnig beskikbaar vir Brand om die oorhoopse verdediging te klop.

Losskakel JW Visagie het net met twee doelskoppe en ’n strafdoel geslaag, op ’n dag waarop sy agttal veral vanaf lynstane vele aanvalsopsies uitgeoefen het.

Aan die kant van Windhoek Affies het losskakel Van der Merwe Tromp vir die eerste drie van die dag oorgeduik, maar het laat in die tweede helfte ’n geel kaart gekry toe hy op Gim se heelagter Divan Steyn geval het.

Sy broer Nico Tromp het ’n indrukwekkende drie gedruk waarin hy ’n losskrumbal op volspoed ontvang, een verdediger met ’n aftrap geklop het en saam met die volgende twee manne oor die doellyn is. Nog ’n drie deur Walter Otto en een doelskop deur heelagter Tewis Burger het egter Affies se aanslag voltooi.

Affies se gebruiklike kaptein Theunis van Wyk was afwesig ná ’n blindedermoperasie, met die flank Winslow Olivier wat die leierskap oorgeneem het.

“Affies is altyd ’n groot uitdaging. Al het hulle nie vandag hul beste span gehad nie, het hulle sake vir ons moeilik gemaak. Ons het ook nie ’n volledige reserwebank gehad nie, want ons tweede span het op Walvisbaai gaan speel,” het Gim-kaptein Janneman Brand agterna gesê.

WHS NOG TWEEDE

Samsung WHS se linkervleuel en kaptein Quirione Majiedt was afwesig, maar sy plaasvervanger Jurgen Meyer en die sterk binnesenter Ray-Eez Feris het drieë gedruk in Saterdag se suksesvolle besoek aan Pro-Ed Akademie.

WHS het die wedstryd met 20-12 beklink, met die wenspan se ander tien punte van die skopskoen van hul agtsteman en kaptein vir die dag, Joe Losper (twee strafdoele, twee doelskoppe).

• Komende Saterdag se bepalings in die Standard Bank o.19 Superliga: WHS teen Gimnasium by Vegkop; Dr. Lemmer teen Pro-Ed op Rehoboth; OK Foods Moria Bere teen Windhoek Affies op Outjo.

Kommentaar

Republikein 2024-11-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 21° | 38° Eenhana: 21° | 29° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 22° | 28° Tsumeb: 22° | 32° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 34° Keetmanshoop: 20° | 35° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 17° | 28° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 23° | 36° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 17° | 32° Maseru: 15° | 30° Antananarivo: 14° | 33° Lilongwe: 20° | 31° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 17° | 22° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 35° Harare: 18° | 31° #REF! #REF!