• Tuisblad
  • Sport
  • Warner laat Aussie-beamptes skarrel met Bali-praatjies
David Warner Sondag saam met sy dogter ná afloop van Australië se eerste toets teen die Proteas in Brisbane. Foto Getty Images
David Warner Sondag saam met sy dogter ná afloop van Australië se eerste toets teen die Proteas in Brisbane. Foto Getty Images

Warner laat Aussie-beamptes skarrel met Bali-praatjies

Krieket
Die Australiese aanvangskolwer David Warner het spanbeamptes Dinsdag laat skarrel toe hy op sosiale media die indruk geskep het dat hy – in die aanloop tot die tweede kriekettoets teen Suid-Afrika – op die eiland Bali vakansie hou.

Warner het eers ’n foto van hom en sy kinders op ’n vliegtuig geplaas met die onderskrif “Bali, hier kom ons”. Later het hy nog ’n foto geplaas van ’n bekende strandkroeg in Bali, wat uitkyk oor die see.

Australiese joernaliste, wat dié plasings gesien het, wou toe op ’n nuuskonferensie met Daniel Vettori, Australië se boulafrigter, weet of ’n Indonesiese vakansie die ideale voorbereiding vir die “Kerstoets” in Melbourne is. Nog meer so omdat Warner slegs drie lopies in die eerste toets in Brisbane kon aanteken.

Vettori het net gegrynslag en gevra: “Is dit waar?”

’n Ander spanbeampte het vinnig ingespring en gesê hy twyfel of dit waar is, maar dat hy sou uitvind.

Warner het wel later die storie in die kiem gesmoor toe hy laat blyk het dat hy net die draak gesteek het met sy volgelinge op Instagram.

“Vir dié van julle wat bekommerd is, ek wandel tans op Coogee-strand en gaan daarna kruideniersware koop,” het hy geskryf met verwysing na die strand naby sy huis in Sydney.

Die Australiese span sal eers later in die week weer saamtrek om met hul voorbereiding te begin vir die MCG-toets, wat op 26 Desember begin.

Die 36-jarige Warner sal in Melbourne in sy 100ste toets speel en gegewe sy swak kolfpeil in dié formaat die laaste paar jaar, doen heelwat gerugte die ronde dat hy ná die Nuwejaarstoets in Sydney sy uittrede uit toetskrieket kan aankondig.

Die Australiese keurders sê egter Warner is steeds deel van hul planne vir die toer na Indië en Februarie en glo hy sal in die volgende twee toetse teen die Proteas weer die lopies begin opstapel.

James Erskine, Warner se bestuurder, het ook ontken dat die Sydney-toets, wat op 4 Januarie op die SCG begin, sy kliënt se laaste sal wees.

“Hy het verskeie belange buite krieket, maar daar was nog geen sprake van uittrede nie,” het Erskine gesê.

– Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!