Warriors tref Afcon met ’n hamerslag

Sokker
Andrew Poolman
Die ganse Namibië gons steeds oor die glorieryke oorwinning van sy sokkerspan wat sonder twyfel een van die vernaamste skokuitslae in die geskiedenis van die Afrika Nasiebeker-toernooi (Afcon) gelewer het.

Dinsdagaand se triomf met 1-0 teen Tunisië het nie net die vasteland se derde hoogste nasie op die Fifa-wêreldranglys gesink nie, maar die ewige onderpresteerder Namibië het nou ’n realistiese hoop dat hy inderdaad vir ’n plek in die Afcon-kwarteindronde kan meeding.

Trouens, genoeg doelkanse is geskep dat die vernedering heelwat groter kon gewees het vir Tunisië – ’n bulspan wat by die laaste Fifa Wêreldbeker in 2022 teen Denemarke gelykop gespeel en ook die uiteindelike finalis Frankryk verslaan het.

Namibië, 115de op die wêreldranglys, het in sy vorige nege wedstryde by Afcon-toernooie sedert 1998 net twee wedstryde gelykop gespeel en die res verloor.

Die Brave Warriors het geskiedenis gemaak deur hul eerste oorwinning ooit by die Afcon ná 90 minute se sokker te behaal.

Deon Hotto se dramatiese laat wendoel in die 89ste minuut sal as een van die onvergeetlike hoogtepunte van Namibiese sportgeskiedenis voortleef.

Bethuel Muzeu het van die linkerkantlyn af ’n lang dwarsskop tot in die Tunisiese doelgebied ingestuur. Hotto, ’n bekroonde uitblinker vir die Suid-Afrikaanse spogklub Orlando Pirates, het vorentoe gestorm en met ’n kopstoot die desperate doelwagter Bechir Ben Said geklop.

Kaptein Peter Shalulile se manne het die eerste helfte oorheers en vyf doelkanse geskep teenoor Tunisië se twee, hoewel die Noord-Afrikane meer balbesit gehad het. Nogtans is geen hiervan afgerond nie en die eerste helfte het doelloos geëindig.

Tunisië het die tweede helfte se eerste 15 minute meer aanvallend begin. Lloyd Kazapua, wat uitstekend op dreef was in een van sy beste vertonings vir die Brave Warriors, het ’n paar fantastiese stukkies keerwerk gelewer.

Benewens sy wendoel het Hotto ’n tweede “doel” behaal, wat egter naelskraap weens onkantspel nie toegeken is nie, ’n beslissing wat deur die TV-skeidsregter bevestig is.

REAKSIE

President Hage Geingob was ná die eindfluitjie vooraan die bewonderaars, met ’n twiet van lofprysing: “Eersteklas sokker deur ’n eersteklas span. Ek is vandag die heel gelukkigste Namibiër!”

Collin Benjamin (45), die jongste van die 16 afrigters in die toernooi, het gesê sy span het ’n meer skeppende vertoning gelewer en het verdien om te wen.

“Dis ’n ekstatiese gevoel wat ek nie eintlik kan beskryf nie. Ek is so trots om hierdie spelers se afrigter te wees.

“Ons is nooit ’n kans gegun nie, maar ons het ons praatwerk op die veld gedoen. Ons hoop ons sal aanhou hard werk en goeie resultate in die toernooi behaal,” het hy gesê.

“Vanaand sal ons uiteraard feesvier, maar môre is dit terug na normale besigheid, om deeglik voor te berei om ons landgenote opnuut trots te maak.”

Die ervare plaaslike klubafrigter Woody Jacobs was hoogs beïndruk en het aan ons kollega Limba Pupetami gesê dit was een van die beste vertonings nóg onder Benjamin se leierskap.

“Hierdie vertoning oortref selfs die oorwinning teen Kameroen tyden ons kwalifisering. Die spankeuse was goed gebalanseerd en gedurende die hele wedstryd het die Brave Warriors nooit gelyk of hulle aan die verloorkant is nie.

“Vir die eerste keer in ’n lang tyd het ons in beheer van ons balbesit, met een aanval op die volgende. Op die verdediging het ons kalm en georganiseerd gelyk. Ek kan nie met een speler fout vind nie; elkeen het sy 100 persent gegee. Ek moet elkeen gelukwens wat voor of agter die skerms betrokke is.”

STAND VAN SAKE

Die nederlaag het die mylpaal van Tunisië se kaptein Youssef Msakni bederf, wat in sy agtste Afcon-toernooi en in sy 100ste internasionale wedstryd gespeel het.

Tunisië en Suid-Afrika het hulle aangesluit by Ghana as voormalige Afrika-kampioene wat hul openingswedstryd verloor het, terwyl Algerië, Kameroen, Egipte en Nigerië almal tot gelykopuitslae beperk is in wedstryde wat hulle volgens die verwagtinge moes gewen het.

Namibië se volgende wedstryd teen sy buurspan, Suid-Afrika, lê Sondagaand voor. Bafana Bafana het hul openingswedstryd in groep E met 0-2 teen Mali verloor, nadat Percy Tau ’n strafdoelkans bo-oor die doelkas geskop het.

Mali is gevolglik boaan groep E, danksy een doel meer as Namibië. Mali se beginspan het geen speler van ’n binnelandse klub ingesluit nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!