’n Ware legende ontmoet ’n vaalseun met blou klere, het JJ Smit gister geskryf toe hy hierdie foto van sy ontmoeting met ’n plaaslike figuur by die Namibiërs se hotel in Port Moresby geplaas het. Die Eagles begin speel môre daar in ’n eendagreeks teen Papoea-Nieu-Guinee en die VSA. Foto Instagram
’n Ware legende ontmoet ’n vaalseun met blou klere, het JJ Smit gister geskryf toe hy hierdie foto van sy ontmoeting met ’n plaaslike figuur by die Namibiërs se hotel in Port Moresby geplaas het. Die Eagles begin speel môre daar in ’n eendagreeks teen Papoea-Nieu-Guinee en die VSA. Foto Instagram

WB-groep wemel met vyf linkerarm-snellers

Krieket
Andrew Poolman
Hoë verwagtinge sal van die Namibiese krieketspan gekoester word om volgende maand in Australië soortgelyke hoogtes te bereik as tydens hul T20 Wêreldbeker debuutverskyning ’n jaar gelede in die Emirate.

Die Eagles se uitmuntende prestasie om die Supertwaalffase te haal en ’n hoogs kompeterende aanslag te handhaaf, het die krieketwêreld behoorlik laat kennis neem en opponente se ontleding sal gevolglik selfs beter voorbereid wees.

Krieket Namibië het gister sy 16-tal Eagles vir die Wêreldbeker aangekondig waarin Namibië vir die eerste rondte in Geelong naby Melbourne gebaseer sal wees. Groepwedstryde teen Sri Lanka (pas gekroonde kampioen van Asië), Nederland en die Verenigde Arabiese Emirate opgeweeg sal word. Twee van dié groep sal na die Supertwaalf vorder.

Gerhard Erasmus lei opnuut ’n ervre en gevestigde groep, met David Wiese as die mees prominente internasionale profiel.

Ná die uittrede van Craig Williams is drie WB-nuwelinge in die groep ingesluit, naamlik Tangeni Lungameni (30), die aanvangskolwer Divan la Cock (190) en paaltjiewagter-kolwer Lo-han Louwrens (23).

Lungameni se insluiting maak hom die vyfde linkerarm-naatbouler in die groep, nadat die viertal Ruben Trumpelmann, Jan Frylinck, JJ Smit en Michael van Lingen reeds verlede jaar as ’n kombinasie gebruik was en vir ’n paar uitsonderlike voetnotas gesorg het.

Wat die regterarm mediumsnel opsies betref, sal die veelsydige Wiese (tans in aksie vir die Sr. Lucia Kings in die Karibbiese Premierliga) opnuut sentraal in die Namibiese aanslag wees, terwyl Ben Shikongo en Karl Birkenstock ook sal hoop om enige speelkans behoorlik aan te gryp.

Namibië se afrigtingsgroep het opnuut ’n sterk Suid-Afrikaanse geur met Pierre de Bruyn (hoofafrigter) en Albie Morkel (hulpafrigter) wat hul suksesvolle vennootskap hervat – dié keer met die byvoeging van Morné Morkel as boulkonsultant. Beide die Morkel-broers het uitstaande loopbane as professionele spelers en as Proteas gehad en Albie is tevore vir ’n hoogs waardevolle rol uitgesonder om te verseker dat die Namibiërs met kalmte en fokus op die veld gaan.

Die Eagles sal voor die toernooi se afskop twee amptelike opwarmwedstryde speel, naamlik ’n aandwedstryd teen Ierland op die MCG in Melbourne op 11 Oktober, gevolg deur ’n ontmoeting met Zimbabwe twee dae later.

Hul groep A-wedstryde volg hierna teen Sri Lanka (16 Oktober in Geelong), Nederland op 18 Oktober en die VAE twee dae later.

DIE EAGLES VIR DIE WÊRELDBEKER:

Gerhard Erasmus (kaptein), JJ Smit (onderkaptein), Stephen Baard, Karl Birkenstock, Jan Frylinck, Divan la Cock, Nicol Loftie-Eaton, Lo-han Louwrens, Zane Green, Tangeni Lungameni, Bernard Scholtz, Ben Shikongo, Ruben Trumpelmann, Michael van Lingen, David Wiese, Pikky ya France.

Bestuurspan: Pierre de Bruyn (hoofafrigter), Albie Morkel (hulpafrigter), Polly Negongo (spanbestuurder), Hestelle Haccou (logistieke bestuurder), Riaan Minnie (prestasie-ontleder), dr. Rudie van Vuuren (spandokter), Kara Scheepers (fisioterapeut), Wesley Vries (mediaskakelbeampte).

Kommentaar

Republikein 2024-12-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 40° Rundu: 20° | 39° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 22° | 36° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 23° | 33° Gobabis: 24° | 34° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 18° | 32° Aranos: 21° | 36° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 17° | 31° Oranjemund: 15° | 22° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 24° | 41° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 19° | 38° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 23° | 36° Maputo: 24° | 41° Windhoek: 23° | 33° Cape Town: 16° | 21° Durban: 19° | 24° Johannesburg: 23° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 23° | 38° Harare: 21° | 36° #REF! #REF!