Welwitschias behoort Rhinos te hanteer

Rugby
'n Naweek vol opwinding begin met vanaand se klubwedstryd tussen Wanderers en Unam.
Die Amerikaans-Mexikaanse rugbyfranchise San Clemente Rhinos behoort môre tydens hul eerste besoek aan Windhoek ’n omgekrapte verwelkoming van die Namibiese tuisspan te verwag.

Die Windhoek Draught Welwitschias is ondanks die onbekendheid van die opposisie vuur en vlam om hulle met nog ’n wenvertoning in die Hage Geingob-stadion te laat geld (afskoptyd 16:00), ondanks SA Rugby se onlangse bekendmaking dat die Rhinos se wedstryde nie meer vir ligapunte in die Mzansi-uitdaagreeks in aanmerking kom nie.

Teen druktyd was die Namibiese span nog nie aangekondig nie. Afrigter Chrysander Botha het wel dié week ’n paar nuwe gesigte op die oefenveld gehad benewens die kerngroep wat laas Saterdag in Harare die Goshawks met 31-28 verslaan het.

Spelers soos die toetsveteraansenter J.C. Greyling, klaarblyklik terug vir ’n aanslag op nog een Wêreldbeker, die Wits Universiteit se vleuel Gerswin Mouton en die Wanderers-slot Francois Jones was Woensdagaand op die oefenveld.

Botha sal wel op vaskopstut ’n verandering moes aanbring, waar Herman Coetzee gister saam met die junior span na die Rugby Afrika Onder 20 Barthés-toernooi in Nairobi vertrek het. Dié toernooi begin môre en is van groot belang vir die pyplyn van Namibiese rugby.

Die San Clemente Rhinos het sover twee wedstryde in die Kaap gespeel. Twee naweke gelede het hulle net-net (26-28) teen die Valke verloor, maar teen die Kenia Simbas het hulle heelwat beter gevaar en met 33-22 gewen.

AANDWEDSTRYD BY WANDERERS

Die bulstryd wat sonder uitsondering woed wanneer die paaie van FNB Wanderers en FNB Unam kruis, bied vanaand by Wanderers-veld ’n onmisbare geleentheid vir elkeen wat plaaslike klubrugby geniet.

Die twee finaliste van 2022 was ook beide laas naweek met groot verskille aan die wenkant op die openingsnaweek van die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga.

Unam, met ’n nuwe afrigter in Russel van Rooi en nuwe kaptein in die stut Graham April, het min ontsag getoon vir FNB Reho Falcon in hul wegholsege met 78-5 wat hulle tans boaan die puntelys plaas.

Tweede op punteverskil is Wanderers, die heersende titelhouer wat onder afrigter Dirk Human en kaptein Anton Steenkamp hul veldtog geopen het deur FNB Rehoboth in ’n wegwedstryd met volpunte (47-13) te oorskadu.

Vir die Wit Hingste het die slot Francois Jones gister vrystelling van die Welwitschias-groep gekry en neem in die beginspan by Johan Meyer oor. Op die bank keer Danie van der Merwe bo Louis Karsten terug as skrumskakel wat later ’n impak kan maak.

Gister het Unam nog gewag op bevestiging of die flank Peter Diergaardt van die Welwitschias vrygestel wou word vir hul klubwedstryd. Diergaardt het ook tevore vir Wanderers gespeel en sy werkverrigting sal ’n bonus vir die studentespan wees, wat tans sonder heelwat van hul ervare steunpilare moet klaarkom.

FNB Wanderers: 1 Christiaan Henning, 2 Darius von Solms, 3 Chris Swanepoel, 4 Brendon Nortje, 5 Francois Jones, 6 NG Swart, 7 Pierre Venter, 8 Anton Steenkamp (kaptein), 9 Reben Botha, 10 DJ Holtzhausen, 11 Warren Ludwig, 12. Kian Fransman, 13 Niel Holtzhausen, 14 Nandivatu Karuuombe, 15 Denzo Bruwer. Reserwes: Franko Pearson, Ignus Tripodi, WP Eloff, Sheron Rossouw, Danie van der Merwe, Kieron Diergaardt, Ryan Coetzee.

OP GROOTFONTEIN

FNB Grootfontein se ywerige losvoorspelers Marthinus Nekundi (beseerde kakebeen) en Pieter-Daan Kok, asook heelagter Luis Talaya is onbeskikbaar uit die span wat laas naweek ’n vyftigtal teen Suburbs in Khomasdal afgestaan het.

Hul opponent môre is Robbie Dickson se Trustco United, wat hul haker Gerhard Thirion van Welwitschias-diens teruggekry het en ook deur agtsteman Dean Blom versterk word.

FNB Grootfontein: 1 Henning Joubert, 2 Callie Swanepoel (kaptein), 3 Bernd Beddies, 4 Rheinhardt Carelse, 5 Morné Malan, 6 Hendrik van Zyl, 7 Oliver Mouton, 8 Tehan Martinson, 9 Cobus Enslin, 10 Ronald Deck, 11 Ian Malan, 12 Jay-Jay Liebenberg, 13 Buruxa Geiseb, 14 Isaiah Muhinda, 15 Lincoln Beukes. Reserwes: Jimmy Ikena, Riaan Potgieter, Kamaizemi Kahorere, Amutenya Amutenya, Christopher Deck, Zemuel Marais, Benjamin Boshoff.

Trustco United: 1 David Sheepa, 2 Gerhard Thirion, 3 Reghardt de Meyer, 4 Panduleni Ilonga, 5 Leon Mutonga, 6 Feddy Mazila, 7 Eloff du Plessis (kaptein), 8 Dean Blom, 9 Jahno du Plessis, 10 Hanreco van Zyl, 11 Doctor Andreas, 12 Reinold Benade, 13 Christo Gresse, 14 JD Nel, 15 Renier Benade. Reserwes: Mbbepaue Kauuova, Sammy Adriaans, Kristopher Peacock, Naudé Neethling, Moranzel Strauss, Edgar Beuthin.

OP REHOBOTH

FNB Western Suburbs se regtervleuel Dumarcho Hartung was giftig in laas naweek se oorwinning teen Grootfontein, maar het ’n stamp teen die nek gekry en het hom dus onttrek van môre se besoek aan FNB Rehoboth.

Die Khomasdallers se afrigter Jacky Bock was oorwegend tevrede met die twee bonuspunte wat sy span verdien het, hoewel hy glo die groen-en-wit streeptruie kan selfs groter skade aanrig indien hulle vir langer tye volgens hul potensiaal speel.

Nuwelinge soos die losskakel Romanzo Lento en slot Kennith Seibeb het hulle sommer dadelik tuisgemaak en is weer op hul pos op die Rooi Bulle by die horings te pak.

FNB Western Suburbs: 1 Hilwen Fourie, 2 Vernon Diergaardt (kaptein), 3 Andreas Shikoneni, 4 Diamando Tjombe, 5 Kennith Seibeb, 6 Richard Mapewa, 7 Viery Haufiku, 8 Vakomboka Kamboo, 9 Bronwon Willemse, 10 Romanzo Lento, 11 Gino Wilson, 12 Dylan Isaaks, 13 Morgan Esterhuizen, 14 Jayden Links, 15 Ricardo Swartz. Reserwes: Ouaphee Muhuura, Victor Augustinus, Fidel Micolleney, Tuapeua Angula, Daniel September, Erick Shivute, Willon du Plessis.

OP WALVISBAAI

FNB Kudus het laas naweek ’n bloedneus gekry teen Trustco United gekry (21-26), maar terug op Walvisbaai behoort hulle te veel skietgoed vir die onervare FNB Reho Falcon te hê.

Saterdag se wedstryde het almal die afskoptyd 15:45.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!