Welwitschias sal moet raakvat

Rugby
Andrew Poolman
Hoogtepunte was maar min vir aanhangers van die Windhoek Draught Welwitschias in hul eerste vriendskaplike kontakwedstryd van hierdie Wêreldbekerjaar, toe die besoekende Airlink Pumas met 43-0 aan die wenkant was Woensdagaand in die Hage Geingob-stadion.

’n Bietjie geduld sal seker nie te veel gevra wees nie, maar ondersteuners hooop nietemin om môre ’n beter vertoning te sien in die herontmoeting om 16:00 tussen dié twee wedstrydgroepe, waarin die Airlink-trofee aan die wenspan oorhandig sal word.

Die feit dat die spreiligte in die Hage Geingob-stadion twee keer in die tweede helfte uitgedoof is wat spel vir etlike minute tot stilstand gedwing het, was nogal ’n verleentheid vir die gasheerunie, maar het ook aanleiding gegee tot kwinkslae dat “beurtkrag” die Suid-Afrikaanse besoekers meer tuis sou laat voel.

Die Namibië Rugby-unie se uitvoerende hoof, John Heynes, het gister gesê daar word op terugvoer van elektrisiëns staatgemaak om die presiese oorsaak van die kragonderbreking vas te stel, waarin die onlangse reën moontlik ’n rol kon gespeel het.

Soos die telling laat blyk, was die Pumas feitlik deurentyd ten volle in beheer van elke faset van die spel. Vier drieë het hulle rustyd reeds met 22-0 voor geplaas.

FOKUS OP DIE PROSES

Drie weke bly oor voor die Welwitschias se openingswedstryd in die Mzansi-uitdaagreeks teen die Grens Bulldogs op 25 Maart, terwyl die Pumas reeds op Sondag 12 Maart die verdediging van hul Curriebeker premierliga-titel op Loftus Versfeld in Pretoria teen die Blou Bulle afskop.

“Die eindtelling was nooit ons hooffokus nie, maar eerder om te verseker dat ons al spelers aan hul eerste behoorlike wedstrydsituasie vir die nuwe seisoen blootgestel word,” het Allister Coetzee agterna gesê. Hy is die nasionale afrigter wat tot ná die Wêreldbeker in September en Oktober vanjaar in Frankryk aangestel is, maar dien ook vir die duur van die Mzansi-reeks as verdedigingsafrigter vir Chrysander Botha as hoofafrigter van die plaaslike Welwitschias.

“Dit was ook ’n beginpunt om vir ons kombinasies te bou met die oog op Saterdag en die res van die seisoen.

“Ons het gespeel teen ’n unie wie se span reeds vir ’n lang tyd byeen is en hulle is die Curriebeker-kampioen. Dit is vir ons ’n wonderlike geleentheid. Jy kon sien hoe sterk hulle in die vaste fasette is.

“Ons het nog werk om te doen in die keerwerk teen rolmaalbewegings, asook ons skrumwerk.”

Volgens Coetzee behoort die beste moontlike span “met agt of tien plaasvervangers” uitgesoek te word met die oog op môre se herontmoeting.

Terwyl die meeste spelers in die vergrote Welwitschias-oefengroep net 20 of 40 minute speeltyd gekry het, het nie almal hand opgesteek om te wys dat hulle op hierdie vlak tuis hoort nie.

Met Obert Nortje as ’n groeplid, maar nie in rugbyklere nie, het die ander aanspraakmakers in die deurslaggewende hakerposisie nie noodwendig regmerkies agter hul name geplaas nie. Wikus Jacobs het een keer die bal in ’n duikslag verloor en nog ’n keer aangeslaan, terwyl Gerhard Thirion ’n geel kaart gekry het saam met die Pumas se vyfslot Jeandre Leonard, vir wie hy glo teruggeslaan het.

In die eerste helfte is losskakel Delron Brandt op ’n draagbaar afgedra en is verneem dat hy ’n skouer ontwrig het, terwyl die linkervleuel Gino Wilson in die tweede helfte af is toe sy enkel beseer is in die kontak met medespelers toe die Pumas se binnesenter Ethan Fisher met ’n stormloop deur drie laagvatters gebreek het om sy drie te druk.

Aan die Pumas se kant was die driedrukkers die haker PJ Jacobs (2), senter Ethan Fisher, flank Anele Lungisa, stut Cosmo Zymvragos, skrumskakel Jaco Nell en linkervleuel Etienne Taljaard. Doelskoppe is deur die losskakels Gene Willemse (3) en later Tinus de Beer (1) behaal.

STERKER PUMAS

Die Pumas het gister selfs ’n sterker en meer ervare span vir môre se herontmoeting aangekondig, met die slot Shane Kirkwood as kaptein.

Pumas: 1 Corné Fourie, 2 Llewelyn Classen, 3 Simon Raw, 4 Malembe Mpofu, 5 Shane Kirkwood, 6 Andre Fouché, 7 Francois Kleinhans, 8 Kwanda Dimaza, 9 Chriswill September, 10 Brandon Thomson, 11 Lundi Msenge, 12 Ali Mgijima, 13 Diego Appollis, 14 Sebastian de Klerk, 15 Devon Williams.

Die Welwitschias-span behoort vandag aangekondig te word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!