Wenner Drikus vol lof vir Le Dur

Bergfietsry
Legacy of Love se jaarlikse fietsrybyeenkoms gaan steeds van krag tot krag en verwag 'n verdere groeikurwe.
Andrew Poolman
Die internasionale profiel van die 2023-wenner Drikus Coetzee is maar net een van verskeie pluspunte wat die naweek se Le Dur Adventure bergfietsrit in sy tweede bestaansjaar nog groter, beter en meer gedenkwaardig as verlede jaar se suksesvolle debuut gemaak het.

Le Dur (ook genoem The Tough One) is die langste en taaiste bergfietsrit in Namibië.

Laas jaar se eerste byeenkoms op ’n wye sirkelroete in die sentraalstreek rondom Windhoek was 527 km lank, met 6 500 klimmeters en met November se hitte as ’n faktor.

Vanjaar se afstand was selfs langer – 564 km, wat by Kappsfarm begin en deur Steinhausen, Gobabis, die Leonardville-pad en plase verby Dordabis gestrek het, tot by die eindpunt by Auas Safari Lodge. Vanjaar se toelating van ondersteuningsvoertuie het sake vir die deelnemers én die organiseerders grootliks vergemaklik.

“Ons almal het groot respek vir elkeen wat hierdie uitdaging aangepak en klaargemaak het. Vanjaar se roete was na die oostekant van die land. Met die klimmeters net 1 700 was die roete heelwat platter, maar daar was veral een gedeelte van 36 km deur baie dik sand,” sê die organiseerder Sybrand de Beer.

“Ons beoog op ’n roterende vyfjaargrondslag vyf verskillende roetes – ook na die noorde, suide en weste. Ons sal binne die volgende weke besluit watter een in 2024 volgende sal wees.

“Elke voltooier ontvang ’n kassie waarin vyf medaljes soos ’n legkaart inmekaar pas. Die voltooiers van 2022 en 2023 het dus nou reeds twee daarvan.

“Ons sal die Le Dur voortaan elke jaar in Meimaand aanbied.”

WENNERS

Van die twintig solo-ryers was Drikus Coetzee deurentyd die voorloper en het uiteindelik in 25 ure 14 minute klaargemaak. Sonder enige tydsdruk van prestasie en eerder in die algemene gees van ondersteuning het hy by sommige punte twee of drie ure gerus en gewag vir ryers om weer ’n ent saam met hom te ry, veral deur die nagtelike ure.

Pierre Lambert (wenner in 2022) was tweede in 26 ure 51 minute, met Theo Klein net een minuut later in die derde plek.

Ronel Willemse was 14de algeheel, die eerste vrou oor die eindstreep.

Christo Engelbrecht was die 15de en laaste wat die volle afstand klaargemaak het. Sommige van die vyftal wat nie klaargemaak het nie, het tot so ver as 548 kilometer afgelê, met net nog 16 km oor.

“Nog ’n ryer het ná 490 km geval en seergekry. Nog een het siek geword en teruggedraai na Gobabis vir ’n inspuiting, maar nogtans ’n korter deel klaargemaak omdat hy vir ’n sekere doel per kilometer geborg was.”

Van die vier tweemanspanne was Johan Fourie en André de Jager eerste.

RP Africa van Suid-Afrika (een van die kompetisieborge) se drieman-span het dié kategorie gewen en hul lede het gesê Namibië was ongelooflik mooi op ’n fiets en ’n besonderse toeriste-ervaring.

GROTER DOEL EN SIMBOLIEK

“Die finansiële opbrengs sal meer as verlede jaar se N$80 000 wees en hiermee kan ons nou professionele mense betrek by die kampe wat ons aanbied om mense deur die verwerking van verliese en rou te help.

“Die simboliek tussen die lewe se lekker of die donker tye van verliese, depressie of finansiële swaarkry wanneer jy hulp nodig het of iemand langs jou nodig het om deur te druk tot jy weer die lig sien. Koue, donkernag, dik sand, bulte ... dit bly jou keuse of jy wil moed opgee of nie.

“Die wegspringtyd van 07:15 was die tyd toe ons dogter Lumé in Julie 2017 oorlede is. Haar lewe van elf jaar het ’n impak gehad – en so het elkeen van hierdie ryers ’n impak op meer mense rondom hulle,” sê De Beer.

“Sommige ryers het twee nagte van donkerte ingery en temperature het gewissel tussen -2 en 38 grade. Dis waaroor die lewe gaan – om die ondervindings en lekker stories te deel, wanneer jy met tye alleen was of hulp van ander moes kry.

“Niemand van ons weet wanneer jou tyd op aarde verby is nie, maar ons het ’n geleentheid om deur ons lewe ’n impak op ons medemens te maak.”

VASBYTERS INSPIREER DRIKUS

Die wenner Drikus Coetzee sê die ryers het waardering vir Legacy of Love se reëlings, met veral die waterpunte volgens hom presies op die regte afstande geplaas wanneer jy dit nodig het.

“Die Le Dur se organisasie is op dieselfde standaard, indien nie beter nie, as die bekende langafstandbyeenkomste wat ek al in Suid-Afrika gery het. Om almal veilig te hou, is die belangrikste.

“Ek het meestal my eie tempo gery. Ek moet sê ek het lanklaas so koud gekry op ’n fiets as in die vroeë oggendure van Dordabis na die eindstreep toe. Op ’n manier het my handskoene nat geraak en selfs ek het toe gewonder of ek dit gaan maak.

“Mense dink dalk dis vir my makliker, maar ek het rêrig respek vir die krygers wat 40 of 50 ure geveg het om klaar te maak vir ’n goeie doel. Sulke vasberadenheid inspireer my ook om groter te gaan. Julle is almal oorwinnaars.

“Om na elke ryer se stories en hul motiverings te luister, was baie spesiaal. Vir my is dit ’n Godgegewe talent en die gawe van gesondheid wat ek wil gebruik om ’n positiewe bydrae te maak.

“Die byeenkoms was ’n reuse-sukses en het die potensiaal om ’n toenemend groter verskil te maak en vele mense se lewens aan te raak. Ek is seker ons kan dit volgende jaar uibrei na 100 ryers. Ons is dankbaar teenoor die plaaseienaars asook Sybrand en Ronel de Beer wat alles moontlik help maak het.”

Borge wat bygedra het, sluit in RP Africa (hoofborg), Southgate Shell (brandstof), DeoPharma (aanvullings), Coca-Cola Namibia, Plastic Packaging, Farm Morgan, Sacred Heart Centre, Daneel en Santie van der Walt, Bergzicht en Lambert Software Switch.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!