Wenner, naaswenner nou spanmaats in Cape Epic

Padfietsry
Vanaf komende Sondag mik Le Court de Billot en Looser beslis na die podium in die agtdaagse bergfietstoer.
Annchen Nel
Sondag was hulle nog geswore mededingers wat mekaar in ’n naelrit opgekeil het na die eindstreep in Kaapstad.

Vanaf komende Sondag is Kim le Court de Billot, die wenner van die Kaapstad-fietstoer, en die Namibiër Vera Looser, die naaswenner, spanmaats in die Cape Epic-bergfietstoer.

Le Court de Billot sê hul voorbereiding was hoofsaaklik gemik op die agtdaagse skofwedren, wat Sondag met ’n proloog buite Durbanville ingelui word.

Dit het haar nie verhoed om voluit te gaan om ’n derde opeenvolgende oorwinning in die Kaapstad-wedren te behaal nie.

Die boorling van Mauritius spog nou met vier titels algeheel.

Le Court de Billot het hiermee Anke Erlank se rekord van vier titels geëwenaar.

Cherise Willeit, wat Sondag vyfde geëindig het, is ’n vyfmalige kampioen saam met Cathy Carstens.

Anriëtte Schoeman bly steeds die koningin van dié wedren met sewe titels wat sy in die 1980’s en 1990’s gewen het.

Sedert 2018 geniet die vroue hul eie wedren oor 79 km vanaf Vishoek na Groenpunt, sodat hulle nie ingebondel word deur die mansryers nie.

Sedertdien kon nog net Le Court de Billot en Willeit die korter roete wen.

Le Court de Billot moes harder werk vir haar vierde titel en het in ’n naelrit in 2 uur, 13 minute 20 sekondes gewen.

Die eerste drie plekke is toegeken aan Le Court de Billot, Looser en Ashleigh Moolman-Pasio.

Teen die voet van Chapmanspiek was 40 vroue nog sterk in die wedren.

Moolman-Pasio het op die klim die groep in twee opgebreek.

Le Court de Billot, Looser, Candice Lill, Hayley Preen, Willeit en Emma Pallant-Browne het haar oor die spits gevolg.

Op die afdraande kon ’n groep ryers die voorlopers inhaal, maar Suikerbossie het weer die kaf van die koring geskei.

Moolman-Pasio, wat in Europa deelneem, het weer aangeval en net Preen, Lill en Le Court de Billot kon haar volg.

Die volgende afdraande het Willeit, Pallant-Browne, S’aanara Grove en Jo van de Winkel toegelaat om weer by die wegbreekgroep aan te sluit.

Lill, ’n bergfietsryer, het in die laaste kilometer ’n aanval geloods en Le Court de Billot moes voet in die hoek sit en ’n naelrit was onafwendbaar.

Sy, Looser, Moolman-Pasio, Preen en Willeit het saam-saam op die eindstreep afgepyl.

Lill het agtste klaargemaak.

Die mededinging verander nou in ’n spandinamika wanneer Le Court de Billot en Looser kragte saamsnoer as die Infinity Efficient Insure-bergfietsspan.

Le Court de Billot het in 2021 saam met Theresa Ralph aan die Epic deelgeneem, maar sê dit was ’n ontspanne een.

Dié keer mik sy en Looser beslis na die podium.

Die senuwees het Sondag maar geknaag, want sy het geweet hulle moes die Kaapstad-wedren ongeskonde en veilig voltooi, sê Le Court de Billot.

“Nou kan ons opgewonde raak oor die volgende taai agt dae wat om die draai is.

“In die Epic gaan alles oor spanwerk en nie wie die beste ryer is nie.

“Dis ’n baie oop Epic. Ons weet nie wat gaan gebeur nie, dit gaan opwindend wees,” sê die ryer van Mauritius.

Nadat Lill nie aan die Epic sou deelneem nie – haar spanmaat, Mariske Strauss, is siek – het sy op die nippertjie wel ’n nuwe vennoot gekry.

Amy Wakefield se Switserse spanmaat, Irina Luetzelschwab, is beseer en Lill neem haar plek.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!