Wêreldbrons ontglip jongmanne

Inlynskaatshokkie
Tielman Van Lill
Namibië se junior manspan by die Wêreldbeker van inlynskaatshokkie moes Sondag in Buenos Aires, Argentinië, in die bronsfinaal teen Tsjeggië tweede viool speel.

Howel Namibië met 4-2 uitoorlê is, het die jongmanne hul status as die vierde beste junior manspan ter wêreld bevestig. Dit is die beste posisie wat enige span van Afrika nóg by dié wêreldkampioenskap kon behaal.

Chinese Taipei het die VSA in die finaal met 6-2 oordonder.

Brian Sobel, afrigter van Namibië, som die kampioenskap so op: “Die wedstryd teen Tsjeggië vir die bronsmedalje was nogal ’n opwindende wedstryd. Dit was die eerste keer dat Namibië of enige ander Afrika-land ooit in ’n medaljewedstryd by die wêreldkampioenskap gespeel het.

“Ons het tot die halfeindronde deurgedring deur Italië in bykomende speeltyd te klop, maar het die volgende dag teen die VSA met 5-4 verloor, wat ons aanspraak op die bekerafdeling beëindig het.

“Die Namibiese junior span se sukses by die wêreldkampioenskap is uiters merkwaardig. Aan die begin het ons bloot gehoop om darem ’n wedstryd of twee te wen en ’n bietjie ervaring vir die toekoms op te doen.

“Hierdie seuns verdien al die eer vir die harde werk en opoffering. Die kwaliteit spel wat hulle deurentyd gelewer het op die vlak waarop hulle speel het, is prysenswaardig.

“Ons het in die bronsfinaal eerste voorgeloop toe Keanan Simpson die skyf afgeneem en ’n doel behaal het. Dit was egter net vir ’n paar minute, voor Tsjeggië ons vir ’n fout gestraf het (1-1).

“Laat in die eerste helfte het Theo Borstlap met ’n stormloop begin en die skyf netjies na Henning Schulze aangegee, wat ons rustyd met 2-1 laat voorloop het.

“In die tweede helfte was beide spanne uitstekend en die spel het van een helfte van die baan na die ander gewissel. Beide spanne het gereeld doelkanse geskep en Thomas Kock, ons doelwagter, was elke keer gereed om die Tsjeggiese aanval te keer.

“Hul tweede doel het ongelukkig van ’n Namibiese speler se been gedeflekteer en die druk het toegeneem op beide spanne wat verbete geveg het.

“Met ses minute oor het Tsjeggië voordeel getrek uit die skyf wat vreemd van die planke af opgeskiet het om hul derde doel te verseker.

“Namibië het steeds druk toegepas en het verskeie doelkanse geskep, maar ons kon net nie hul doelwagter klop nie. Ons het Kock as ’n ekstra aanvaller begin gebruik, wat tot twee goeie doelkanse bygedra het. Met net ses sekondes oor toe het Tsjeggië egter toegeslaan en hul vierde doel in ons onbewaakte doelkas geplaas.

“Oor die algemeen is ek tevrede met wat ons die afgelope week hier bereik het. Namibië het uitstekende wedstryde teen die VSA, Tsjeggië, Frankryk en Italië gespeel en gewys ons beskik oor die talent om teen enige land mee te ding.

“Waar ons wel kortkom, is die gebrek aan ervaring om wedstryde ten volle te beheer. Met die tyd sal ons leer om die groot oomblikke beter te hanteer.

“Die span het geskiedenis gemaak. Hopelik sal Namibië se sukses meer belangstelling in dié sportkode aanwakker en ons spelers motiveer om nog harder te werk en te ontwikkel. Eenvoudig gestel, ek is niks anders as trots op hierdie ouens nie.”

Valerik Hilbert, Namibië se kaptein, het gesê: “Om Namibië by ’n wêreldkampioenskap te verteenwoordig, is ’n geweldige groot eer. Ons uitslae is die produk van al die harde werk wat die spelers en afrigters die afgelope paar jaar ingesit het.

“Ons bedank die spelers wat voor ons Namibië verteenwoordig het en die weg vir ons gebaan het. Baie dankie aan die mense van Namibië vir hul ondersteuning.”

JUNIOR VROUE

Die Namibiese junior vrouespan begin ook vandag hul aanslag by die wêreldkampioenskap in Argentinië.

Daar is net een groep en Namibië sal in die rondomtalieformaat teen die VSA (Dinsdag 17:30, Namibiese tyd), Argentinië (Woensdag 19:30), Colombië (Donderdag 13:00), Brasilië (Donderdag 00:00) en Italië (Vrydag 16:00) speel voor die kwarteindstryde aanbreek.

Die junior vrouespan is Lana Bajorat, Ania Borstlap, Leighzené Coetzee, Maike Dedig, Lomarie Fourie, Ieesha Hilukiluah, Bridgit Justinussen, Lea Reiff, Christine Röttcher, Jada Tati en Michelle Wirtz.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!