Wêreldklas atlete kom na Swakop
Triathlon
Die 30-jarige Matthew Wright van Barbados sal een van die ouer mededingers in die mansresies wees.
Matthew Wright van Barbados is een van ’n stewige aantal gesoute internasionale mededingers wat sal sorg dat die RMB Prosperity Health Afrikabeker-triathlonbyeenkoms ’n ware belewenis sal wees.
Dié skouspel onder die vaandel van Wêreldtriathlon word op Saterdag 25 Maart by die Mole op Swakopmund aangebied.
In ’n onderhoud met ons daaglikse sportprogram Sport Wrap vertel die 30-jarige Wright dat die buitenshuise leefstyl gedurende sy grootwordjare in Barbados deel van hom geword het, te danke aan die eiland se strande en sonskynklimaat die ganse jaar deur.
“Ek het elke sport onder die son beoefen – branderplankry, krieket, sokker, swem, hardloop ... Ek was nog in die laerskool toe ek aan my eerste triathlon deelgeneem het.
“Rondom die ouderdom van 16 jaar moes ek basies kies tussen sokker en triathlon vir ’n professionele loopbaan. Van die beserings wat ek in sokker opgedoen het, het ’n rol in my besluit gespeel om triathlon te kies.
“As 18-jarige het ek na Brittanje verhuis vir studies en om my drome in triathlon na te jaag. Twaalf jaar later het ek die wêreld vol gereis, wat nogal spesiaal is.”
Sy internasionale stamboek sluit drie verskynings by die Statebondspele in – Glasgow in 2014, Gouekus (Australië) in 2018 en verlede jaar in Birmingham.
’n Top-20-posisie (17de) by laasgenoemde is een van die noemenswaardige prestasies waarop hy die trotsste is.
Wright was tevore in die top-100 op die wêreldranglys vir mans (sy hoogste is 93ste gedurende 2017) en hy werk doelgerig daaraan om die punte in te samel om ’n soortgelyke posisie te herwin. Sy verklaarde doelwit vir die einde van die jaar is 75ste.
Die koms na Swakopmund is dus deel van sy internasionale jaagtog na ranglyspunte en sy strewe om vir die Olimpiese Spele van 2024 in Parys te kwalifiseer.
’n Oorwinning in ’n Asiatiese Beker-byeenkoms in Jordanië in die afgelope seisoen was vir hom ’n persoonlike deurbraak op die internasionale reeks.
“Die naweek voor Swakopmund (komende Saterdag in Nelson Mandelabaai) is daar ook ’n Afrikabeker-byeenkoms in Suid-Afrika. Daarom maak dit vir baie van ons sin om beide hierdie byeenkomste gesamentlik op ons reisprogram in te sluit.”
Vir so ’n wêreldreisiger wat tevore in plekke soos Oesbekistan, Uruguay, Chili en Japan (sy gunstelingbestemming sover) meegeding het, is dit ietwat verrassend dat Swakopmund inderdaad sy debuutverskyning op die Afrika-vasteland sal wees.
“Ek het soveel goeie dinge van Namibië gehoor. Ek het ’n familielid in Malawi wat al vir ewig aanhou dat ek moet kom, maar ons kompetisieskedule het dit nou nog nie eintlik toegelaat nie. Die reis na Suid-Afrika en Namibië skakel by mekaar in en ons sien baie daarna uit.”
Wright sê beide die komende byeenkomste het atlete met redelike hoë posisies op die wêreldranglys en puik vorige internasionale prestasies gelok. Hyself sal saam met drie sterk oefenmaats vanaf die Walliese hoofstad Cardiff, waar hy vir sy oefenprogram gebaseer is, die reis aanpak.
“Dit is altyd moeilik aan die begin van ’n nuwe seisoen. Voor jou eerste kompetisie is jy nooit verseker hoe goed jy op dreef sal wees en of die oefenprogram van die vorige maande op die dag vrugte sal afwerp nie. Omtrent vyf maande het verloop sedert my laaste resies en dus weet jy nie presies waar jyself en die res van jou uitdagers nou staan nie.
“Ons het dus alles om voor te speel. Ek reken ek is redelik goed op dreef. Die Sprint-afstande is kort en vinnig en enige fout van vyf of tien sekondes kan jou op hierdie vlak verskeie posisies kos. Ek hoop ek sal (op Swakopmund) my beste voet kan voor sit en ’n goeie vertoning lewer.”
Volgens die lys van ingeskrewe atlete wat op Wêreldtriathlon se webblad gepubliseer is, sal die Afrika-bekerbyeenkoms op Swakopmund deur die volgende lande verteenwoordig word:
Elite mans: Algerië, Barbados, België (3), Bermuda, Brittanje (2), Denemarke (2), Egipte (2), Ierland, Japan, Kazakstan (3), Marokko, Mauritius, Mexiko, Nederland (3), Oostenryk (4), Spanje, Suid-Afrika (4), Togo.
Elite vroue: Algerië, Denemarke, Finland, Guam, Kenia, Mauritius, Namibië (Anri Krugel), Nederland (4), Oekraïne, Oostenryk, Suid-Afrika (5), Slowakye.
Borge van die Afrika-byeenkoms sluit in Prosperity Health, RMB, Mannie’s Bike Mecca, Network Television (NTV), E-Med Rescue 24, MTC The Dome, Kosmos 94.1, Hotline Catering Supplies en ElectroBoost.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie