WHS en Affies trots op hul kampioenspanne

Hokkie
In beide eindstryde was dit die buiteperd wat teen die gunsteling die bordjies verhang het.
Andrew Poolman
Windhoek Hoërskool se eerste meisieshokkiespan se verowering van die NSSU eersteligatitel vir 2022 afgelope Saterdag is behaal ondanks die feit dat hul opponent St. Paul’s College met reg as die gunsteling beskou is.

St. Paul’s beskik oor drie spelers met ervaring en blootstelling in die senior nasionale span – Azalea Philander en die Gillies-suster Jaime en Kaitlyn – wat elkeen ’n baie goeie vertoning gelewer het.

Nogtans het PSG WHS met 2-1 voorgeloop toe die eindfluitjie blaas en kon die ligbloues juig oor hul sesde opeenvolgende titel (met inagneming dat Covid die 2021- en 2020-seisoene onspeelbaar gemaak het), asook die skool se 21ste titel in die 29-jarige bestaan van die eersteliga vir meisies.

Hoewel St. Paul’s grotendeels die druk toegepas het en met hul vaardigheid deurgaans gevaarlik aangeval het, is hulle daarvan weerhou om doele aan te teken – óf omdat hulle die doelkas getref of rakeling gemis het, óf omdat WHS se doelwagter Jaime Henckert in die pad was.

“Jaime Henckert se koelkop spel en hantering van die druk was ’n groot faktor. Ek reken sy sou ’n aanspraakmaker vir die mees waardevolle speler in vanjaar se liga wees, indien so ’n prys toegeken sou word,” sê mnr. Johann Weyhe, die toernooidirekteur vir die NSSU-eindstryde wat by Windhoek Gimnasium se bane afgehandel is.

St. Paul’s se voorafgaande kragmetings teen die WHS-meisies vanjaar het uitgeloop ’n gelykopuitslag (0-0) in die vriendskaplike wedstryd in Maart; gevolg deur oorwinnings in die Kom-en-Haaltoernooi (2-0) asook in beide liga-ontmoetings (1-0 en 2-0).

Nogtans het WHS, wat in sy halfeindstryd vir Windhoek Gimnasium met 1-0 uitgeskakel het, teen die verwagtinge in hul kaarte reg gespeel om ook die 2022-titel agter hul naam te laat skryf.

In die finaal het Azalea Philander vir St. Paul’s laat voorloop, maar voor die einde van die eerste kwart was die telling weer gelykop danksy ’n treffer vir WHS.

“Marlene Coetzee het haar individuele vaardigheid gewys om van bykans die halflyn af die verdedigers af te skud sodat sy net die doelwagter voor haar gehad en geklop het. Met dié doel het sy haar spanmaats die geloof gegee dat hulle wel in staat is om St. Paul’s aan te vat,” sê Weyhe.

WHS se wendoel is in die derde kwart van ’n korthoek af deur Mila Malan behaal. St. Paul’s het in die oorblywende tyd met mag en mening aangeval, maar WHS het koelkop gebly om so ver moontlik balbesit te hou, of met hul verdediging die spel na die kantlyn toe te druk.

TOPKALIBER WEDSTRYDBEAMPTES

Met die betrokkenheid van Michelle Joubert van Suid-Afrika as skeidsregter saam met Willie Serfontein (in die meisies eersteligafinaal) en Pieter van Niekerk (seuns eersteliga) is die vlak van die geleentheid verder gelig.

“Joubert het vorige optredes by die Olimpiese en Statebondspeles en wêreldkampioenskappe agter die blad en is hoog op die FIH-wêreldranglys en ons twee blasers was die wedstryde dus ook goeie blootstelling.

“Om ’n professionele skeidsregter van haar kaliber Windhoek toe te bring, was nie maklik nie, maar Liana du Plessis het vasgetrap en dit moontlik gemaak, terwyl Arebbusch Travel Lodge vir haar verblyf gesorg het,” sê Weyhe.

TRIOMF VIR WAP-SEUNS

PSG Windhoek Afrikaanse Privaatskool het ’n geskiedkundige mylpaal bereik met hul tweede triomf in die nasionale eersteliga vir seunshokkie.

Die oorwinning teen Windhoek Gimnasium is egter eers behaal nadat die gewone speeltyd op 2-2 geëindig het, voor ’n dramatiese valbylstryd.

“Gimnasium het ons reeds twee keer dié seisoen met 3-1 gebê en ons moes dus oor ons hele struktuur en patroon herbesin, om meer aanvallend te speel en nie te verdedigend ingestel te wees nie. Ons moes hulle druk na posisies waar ons die bal kon afvat vir teenaanvalle,” sê Affies se afrigter, Sedtric Makati, wat die skool ook in 2014 nasy eerste seunstriomf gelei het.

Gimnasium se doel deur Matthews Lassen in die eerste kwart het WAP op die agtervoet geplaas en dié agterstand het tot rustyd geduur. Kort daarna het Ludwig van Rooyen egter twee strafhoue ingeslaan, maar met skaars vier minute oor het Gimnasium gelyk gemaak toe Jack Fourie munt geslaan het uit ’n defleksie van ’n aangee na die doelsirkel deur Owen Hatton.

“Vir die valbylstryd (een aanvaller wat agt sekondes tyd het om van die kwartlyn af die doelwagter te klop) was ons vol selfvertroue, want ons weet ons het die beste doelwagter (Richter van Rooyen, ook ’n senior nasionale spanlid) en ons het dit baie geoefen,” sê Makati.

’n Briljante stukkie keerwerk deur Richter het inderdaad die gedugte Owen Hatton uitgehou, wat bygedra het tot Affies se bepalende 2-1 voorsprong in die valbylstryd.

Affies se wenspan was Richter van Rooyen (doelwagter en kaptein), Gerhard Myburgh, Theuns van der Westhuizen, Petri Bruwer, Rudi Prinsloo, Ruben Smith, Anton Myburgh, Giovanne Handura, Christiaan du Raan, Jandre Smit, Philendro Voight, Ludwig van Rooyen, Daan van Rensburg, Xander van Rooyen en die reserwedoelwagter Derrek Retief.

“Ons span het vanjaar vier trofees gewen (ook die Doc Jubbertoernooi, die Napso-liga en die Gravity Cup vyf-aan-’n kant). Ons wil van krag tot kraag gaan. Ek verloor volgende jaar net drie spelers, maar ons tweede seunspan was ook in die finaal en het met 2-1 teen Gimnasium verloor. ’n Puik wedstryd,” sê Makati.

Die Affies-afrigter het sy doelwit verklaar om volgende jaar al vier hierdie trofeë te behou. “Ons sal Donderdag ons oefeninge hervat. Ons wil nie stilsit en wonder wat gebeur volgende nie. Ons beplan ook om volgende jaar die Affies-seuns op ’n toer na Nederland te neem.”

• Trofees is Saterdag ook oorhandig aan die skoolspanne wat die Khomas ligaseisoen in die topposisie afgesluit het. St. Paul’s wen die Bianca Rheeder-trofee vir meisies en Gimnasium behaal die Johann Weyhe-trofee.

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!