Wiese op stryk in The Hundred

Krieket
Andrew Poolman
Op 37-jarige leeftyd en met die T20 Wêreldbeker in Australië wat in Oktober voorlê, is die einde nog nie in sig van David Wiese se krieketvernuf om die skares te vermaak nie.

Die Namibiër, wat tans in Engeland se The Hundred T20-reeks meeding, is Vrydagaand as speler van die wedstryd aangewys vir sy bydrae tot die Northern Superchargers se oorwinning met 32 lopies teen die Birmingham Phoenix.

As kolwer het Wiese, wie se span deur Faf du Plessis aangevoer word, op 99/5 ingestap en 34 lopies van net 14 balle geslaan, met vier sesse en een vier, om hul kolfbeurt op 169/6 te help afsluit.

Met sy regterarm naatboulwerk het hy daarna drie paaltjies vir 15 lopies laat kantel, wat help verseker het dat sy span met 32 lopies wen.

Sy Superchargers bevind hulle egter in die sesde posisie uit die agt spanne, met twee oorwinnings uit ses wedstryde.

In vyf kolfbeurte sover het Wiese 124 lopies van 50 balle aangeteken (gemiddeld 31.0, kolftempo 203%).

Met sy twaalf sesse sover in die reeks is Wiese gesamentlik in die derde posisie van die kolwers in die reeks, met net sy Engelse spanmaat Adam Lyth (17 sesse) en Dawid Malan van die voorlopers Trent Rockets (15) wat voor hom is. Een van sy onlangse sesse het volgens die TV-uitsaaiers meer as honderd meter deur die lug geseil.

• Nog ’n Namibiër wat tans krieketnuus maak, is die linkerarm snelbouler Ruben Trumpelmann wat as een van die gekontrakteerde spelers vir die Verenigde Arabiese Emirate se nuut gestigte International League T20 bekend gestel is.

Dié reeks met ses spanne sal in Januarie volgende jaar begin. Trumpelmann (24) sal by die Desert Vipers aansluit, wat ook Engeland-spelers soos Sam Billings, Alex Hales en Tom Curran, die Nieu-Seelandse kolwer Colin Munro en Nepal se draaibouler Sandeep Lamichhane se dienste vasgeknoop het.

Trumpelmann het by verlede jaar se T20 Wêreldbeker in Dubai opslae gemaak toe hy drie paaltjies binne die eerste boulbeurt teen Skotland geneem het, wat Namibië gehelp het om sy eerste oorwinning in die Supertwaalf-fase van die toernooi te behaal.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!