Woestynfees bevorder eenheid en vriendskap

Skolesport
Volg die aksie regstreeks op NTV, of op die Facebook-blad van My Zone.
Shaldon Johannes
Meer as 1 100 leerders van elf Namibiese skole, asook drie skole van Suid-Afrika en Zimbabwe, spook sake op Walvisbaai uit by die negende weergawe van die Indongo Toyota Woestynsportfees wat gister begin het en tot Saterdag voortduur.

Altesame 20 rugbyspanne, 24 netbalspanne, agt hokkiespanne en 80 boogskutters is dié week in aksie.

Die fees, wat deur Walvisbaai Privaatskool aangebied word, is bedoel om rugby, hokkie en netbal te bevorder en te ontwikkel terwyl Namibiese gasvryheid ten toon gestel word.

Hierbenewens word gesonde verhoudings gekweek en goeie sportmangees onder deelnemers, bestuurspanne en ouers gevestig.

GISTER SE UITSLAE

In een van die groot rugbywedstryd laat gistermiddag het die gasheerskool se eerste rugbyspan, die Naartjies, hul o.19-wedstryd teen die Johannesburgse toerspan Trinity House met 27-17 gewen.

Walvisbaai PHS se o.15-rugbyspan het De Duine, ook van die hawedorp, met 23-0 oorheers.

Tsumeb Gimnasium se eerste netbalspan was met 28-23 aan die wenkant teen Gobabis Gimnasium. Die o.19-netbalspan van Windhoek Hoërskool het vir Duinesig met 28-6 oorskadu.

Op die hokkiebaan is Walvisbaai se seunspan met 1-5 deur ’n buurskool, Flamingo SS, aarde toe gebring.

GENOT IS BELANGRIK

Volgens die gasheerskool se sporthoof, Henry Kemp, groei die geleentheid vinnig.

“Ons het gesien hoe die aantal deelnemers groei namate meer skole en meer ouderdomsgroepe ingeskryf het. Hierdie jaar het ons ’n massiewe aantal deelnemers, en die hoop is groot.

“Dit gaan ’n bedrywige paar dae vir ons wees, maar ons is goed voorbereid en sien daarna uit om al die besoekende skole te huisves, insluitend Hoërskool Swartkop asook Trinity House van Johannesburg, en Zimbabwe se Falcon College.”

Hy reken dit sal ’n “moeilike week” vir die Namibiese seuns en meisies wees, “maar ons sien uit na die uitdaging”.

Kemp het gesê wedstryde sal tot laat gespeel word en toeskouers kan uitsien om bederf te word.

“Die hoofrede hoekom ons aan sport deelneem, is om dit te geniet en dit is die slotsom. As dit nie pret is nie, wel, dan doen ons dit nie.

“Ek is trots op die moeite wat afrigters, onderwysers, ouers en leerders doen om ’n topklas geleentheid te verseker.

“Ek kan die versekering gee dat aksie op die baan en veld, baie toeskouers, lekker kos, ’n fantastiese feestelike atmosfeer en sommer lekker pret aan die orde van die dag sal wees by vanjaar se geleentheid,” het Kemp opgemerk.

DROME BEWAARHEID

Kemp sê die bedryfskoste vir ’n geleentheid soos hierdie beloop meer as N$300 000.

“Ons is gelukkig om Indongo Toyota aan boord te hê, wat die drome van jong atlete ’n werklikheid gemaak deur die geleentheid te borg.”

Namibia Media Holdings saai die Woestynfees op sy sosiale media platforms uit, asook op NTV (kanaal 285 op DStv of 94 op Gotv).

Die eerste Woestynfees is in 2014 gehou, onder die bestuur van Walvisbaai Privaatskool se mnre. Wynand Moolman (2014 en 2015), Henjan van der Hyde (2016 tot 2019) en Henry (sedert 2021).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!