Wolwe-reeks eindig gelykop
Krieket
Die Ierland-A se kriekettoer in Namibië het gister met ’n knal geëindig toe die toeriste dit reggekry het om ’n gelykopuitslag van 2-2 in die Castle Lite-eendagreeks af te dwing.
Danksy Gareth Delany se geïnspireerde vertoning as speler van die wedstryd met 104 lopies (91 balle) en vyf paaltjies vir 39, het die Ierse Wolwe ’n oorwinning met 22 lopies teen Namibië-A op die Wanderers-veld behaal.
Die toeriste het eerste gekolf en 252/7 bereik, met Murray Commins (28), Stephen Doheny (36), Jeremy Lawlor (30) en kaptein Neil Rock (26) wat benewens Delany se honderdtal bygedra het. Delany het vier viere en agt sesse gemoker, insluitend drie opeenvolgende sesse om sy 100 op die telbord te plaas.
Jan Frylinck (3/50 in 10, 1 leeg) en Ben Shikongo (3/85 in 10, 1 leeg) was Namibië se beste boulers.
Namibië was op 91/5 in die knyp ná 20.4 bb toe Delany die deurslaggewende paaltjies van Gerhard Erasmus (uitgevang vir 28) en JJ Smit (geboul vir 0) met opeenvolgende balle gekry het.
Ruben Trumpelmann (67 van 60 balle) en Dylan Leicher (46 van 76) het die tuisspan met 97-vennootskap tot verby die 200-merk en binne trefafstand gebring, maar Namibië is uiteindelik vir 230 uitgeboul met ses balle oor.
Nicol Loftie-Eaton, wat die tuisspan se mees bestendige kolwer in die reeks was, is vroeër vir 8 uitgevang, terwyl Lohan Louwrens 28 behaal het. Die aanvangskolwers Stephen Baard en Craig Williams het onderskeidelik 14 en 18 bygedra.
SPELERS DEURGEKYK
Pierre de Bruyn, hoofafrigter van Namibië A, het aan Republikein gesê: “Dit was ’n lang toer met drie T20- en vier eendagwedstryde (weens ’n nat buiteveld is een eendagkragmeting nie gespeel nie).
“Ons het die T20-kompetisie met ’n baie jong span, gewen wat natuurlik baie goed vir ons krieket is.
“Ek het sekere opsies op die proef gestel om na die diepte te kyk wat in die sisteem beskikbaar is indien nodig.
“Ek het baie gesien en ons het bruikbare inligting tot ons beskikking. Elke uitslag was nie ideaal nie, maar dit bied steeds data tot my beskikking, wat ons sal bestudeer en kyk hoe ons die spelers kan verbeter sodat ons diepte op nasionale vlak kan groei. Die regte oefenprogramme waar hulle intens deur spesialiste afgerig word, is die enigste oplossing.
“Die spelers wat betrek is, is tegnies ver agter en dit wys hulle word nie afgerig nie. Ek het goeie lesse uit die Ierland-toer geleer, want my mikpunt was om te kyk watter spelers daar is en waar hul vlak is.
“Ek het die antwoorde gekry. Die kwessie nou is wat ons as ’n organisasie daaraan gaan doen.”
UGANDA-TOER
Die Uganda se Kraanvoëls kom vandeesweek in Windhoek aan en sal die Eagles van Vrydag tot Sondag in drie internasionale T20-wedstryde beproef. Volgende week Dinsdag en Woensdag durf die Eagles die Kraanvoëls in twee eendagwedstryde aan.
“Dis internasionale wedstryde en ons sal ons beste span op die veld stuur. Dis belangrik om al drie T20’s te wen, want as Uganda ons klop, kan ons posisie op die ICC-ranglys verswak.
“Dis ’n groot naweek wat voorlê en ons moet die momentum behou. Ek kyk natuurlik na ’n paar opsies en kombinasies, maar die uitslag van die drie T20’s is nie onderhandelbaar nie.
“In die twee eendagwedstryde volgende week sal van die jonger spelers opnuut geleentheid kry. Daar is spelers van die kus na wie ek wil kyk,” het De Bruyn gesê.
• Nog ’n brokkie goeie nuus is dat die 27-jarige kolwer JP Kotzé gister amptelik sy internasionale uittrede wat hy voor verlede jaar se T20 Wêreldbeker aangekondig het, met ’n aankondiging op sosiale media herroep het.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie