• Tuisblad
  • Sport
  • Woolmer kap sy boulaksie, maar toe wys Rudie hom

Woolmer kap sy boulaksie, maar toe wys Rudie hom

Krieket, rugby
Albert Heenop
2003 was ’n besonderse jaar vir die Namibiër Rudie van Vuuren. So uitsonderlik dat sy naam sedertdien op Guinness World Records pronk: Die eerste persoon wat in dieselfde jaar aan ’n Wêreldbeker-toernooi in krieket én rugby deelneem.

Dit wil gedoen wees. Tog is Van Vuuren, deesdae ’n mediese dokter en natuurbewaarder, nederig oor sy dubbele prestasie van 20 jaar gelede.

“Ek was moontlik nie so talentvol as ’n sportman nie, maar ek het my grind op die veld uitgeleef,” vertel hy aan Rapport.

“Dit het basies begin toe ek as seuntjie die eerste keer rugby gespeel het saam met die plaaswerkers se kinders in die sand op my oupa se plaas naby Nina, sowat 150 km oos van Windhoek.”

Daardie “grind” het die krieketskouspel van 2003 in Suid-Afrika gestalte gevind toe hy Waqar Younis, wêreldberoemde snelbouler van Pakistan, in die hitte van ’n spannende wedstryd uitgetart het.

Rudolf Jansen van Vuuren is op 20 September 1972 in Windhoek gebore. Sy pa, Zachie, wat getrou vir hom balle teruggeskop en balle in die nette gegooi het tot pikdonker, was ’n bankbestuurder. Die gesin het dus taamlik rondbeweeg. Dit was dus by die Laerskool Doringkloof, in Pretoria, waar ’n besoek deur die destydse Noord-Transvaal-skrumskakel Tommy du Plessis ’n blywende indruk op Van Vuuren gelaat het.

“In sy praatjie het Tommy gesê, en dit sal my altyd bybly: ‘Jy kan altyd harder oefen as die outjie langs jou.’ ”

Daardie harder werk het uiteindelik belangrike deure oopgemaak vir Van Vuuren, wat sy hoërskooljare op Oudtshoorn deurgebring het.

“Ek was bevoorreg om deel te kon uitmaak van ’n SWD-Skolespan wat nie oorheers is deur tradisioneel groter skole soos Oakdale en Outeniqua nie, maar heelwat spelers bevat het van kleiner plekkies soos Beaufort-Wes, Bonnievale, Ladismith en Swellendam.

“Dat ons WP se skolespan kon klop, in ’n voorwedstryd vir WP teen Noord-Transvaal op Nuweland in 1990, staan steeds uit as ’n hoogtepunt van my rugbyloopbaan. Ek wou altyd medies gaan swot, maar my punte was weens al my deelname aan sport nooit watwonders nie.

“Die Maandag ná ons oorwinning oor WP het die Universiteit Stellenbosch egter laat weet dat ek daar kon gaan studeer. Ek is dus vir ewig dankbaar vir die bietjie rugbytalent wat ek wel gekry het.”

STUDENT

Op Stellenbosch het Van Vuuren die o.19- en o.20-spanne gehaal en selfs ’n keer of wat vir Maties uitgedraf.

“Dit was egter moeilik om smiddae van Tygerberg-hospitaal betyds by oefeninge uit te kom. Toe Dawie Snyman (afrigter) hom in ’n stadium goed vererg het vir die mediese studente wat altyd laat was, het ons besluit om slegs koshuisrugby te speel daardie jaar, en die Sauerbeker-liga gewen.

“Toe ek my studie voltooi en my huisdokterjaar by die Katutura-staatshospitaal in Windhoek afgelê het, het ek meer tyd gehad om aan sport aandag te skenk.

“Ek het meer krieket begin speel en by die Polisie-klub in Windhoek ingeval. Daar het die Namibië-keurders my raakgesien en ingesluit in ’n span wat aan ’n WB-kwalifiserende toernooi in Maleisië moes deelneem.

“Die destydse Protea-afrigter Bob Woolmer het in daardie stadium uitgehelp by Namibië. Toe hy my die eerste keer in die nette sien boul – ek het nie juis oor ’n perfekte boulaksie beskik nie – het Woolie droogweg opgemerk: ‘Doc, stick to rugby, man!’

“Dit was wonderlike tye en ek het sowat ’n derde van my huisdokterjaar op toer deurgebring, totdat die superintendent van die hospitaal my gewaarsku het: ‘Dokter, jy sal ’n bietjie meer moet werk.’ ”

TOETSDEBUUT

Dit was in 1997, en daardie jaar het Van Vuuren ook sy rugbydebuut vir Namibië gemaak – teen Tonga in Windhoek.

“Ek het die vorige aand regdeur die nag by ongevalle gewerk, en het die middag op die reserwebank aan die slaap geraak,” onthou hy.

Ek het behoorlik ’n ‘droomdebuut’ gehad – eers het ek wakker geword op die reserwebank en toe weer in die kleedkamer!

“Ons heelagter het seergekry, en hulle het my wakker gemaak om op te draf. Die eerste beweging wat geroep is, het behels dat die heelagter in die agterlyn inkom. Maar toe tref ’n Tongaan my en ek was so uit soos ’n kers.

“Ek het behoorlik ’n ‘droomdebuut’ gehad – eers het ek wakker geword op die reserwebank en toe weer in die kleedkamer!”

Beserings het gereeld Van Vuuren se loopbaan, wat sowel krieket as rugby betref, in die wiele gery.

“Namibië se rugbyspan het gekwalifiseer vir die WB-toernooi in 1999, maar kort voor die toernooi het ek my kruisligamente geskeur. Toe, in 2003, net toe dit aan die lig kom dat ek moontlik geskiedenis sou maak deur in dieselfde jaar aan beide die krieket- en rugby-toernooi deel te neem, het ek my kuitspier geskeur in die kapteinsoefening voor ons WB-kragmeting met die Wallabies. Dit was ’n bedekte seën, want Namibië het ’n drag slae van 142-0 op die lyf geloop.

“Ek het darem betyds herstel om in die laaste toets teen Roemenië te speel.”

PAKISTAN-BLITSE

Dit was tydens die krieket-toernooi vroeër daardie jaar in Suid-Afrika dat Van Vuuren en Pakistan gebots het.

“Namibië het 13 wedstryde agtereenvolgens gewen om te kwalifiseer, wat op sigself ’n prestasie was. Ek was ietwat teleurgesteld om as twaalfdeman aangewys te word vir die eerste wedstryd teen Zimbabwe, maar toe word ek gekies vir die wedstryd teen Pakistan in Kimberley.

“Ek het 11de gekolf en toe ek inkom, was ons reeds op 49/9. Die rekord vir die laagste totaal in ’n WB-toernooi was 68. Soos ek opgestap het, het ons bestuurder, Francois Erasmus, gemaan: ‘Dok, hou ons net uit die rekordboeke uit.’ Pakistan se twee boulers in daardie stadium was Waqar Younis en Wasim Akram. No pressure! Kort daarna het Shoaib Akhtar ook begin boul en in een aflewering ’n bal teen 169 km/h op my afgevuur.

“Ek het egter agtergekom dat daar skielik geen veldwerkers agter Akhtar geplaas is nie, en slaan toe ’n vier oor sy kop. Ons het 68 verbygesteek en tydens drankies, met ons telling op 80, het ek vol bravade na Waqar Younis oorgestap en vir hom gesê: ‘Jy beter die draaiboulers inspan, anders gaan julle my nooit uitkry nie!’ Hy was uiteraard nie beïndruk nie. Akhtar nog minder.”

Namibië is uiteindelik almal uitgehaal vir 84, maar in die wedstryd teen Engeland het Van Vuuren naam vir homself gemaak met indrukwekkende boulsyfers van 5/43, wat die paaltjie van Michael Vaughan ingesluit het.

Ewe indrukwekkend is die feit dat dr. Van Vuuren, tussen die krieket- en rugby-toernooi van 2003, ook nog 70 babas “gevang” het.

BEWARINGSPROJEKTE

In 2008 was die president van Namibië, dr. Hage Geingob, ’n pasiënt van hom en het Van Vuuren daarna die Presidensiële Mediese Eenheid op die been gebring, waarvan hy steeds aan die hoof staan.

Die meeste van sy tyd deesdae word egter in beslag geneem deur die N/a’an ku se wildreservaat, wat hy en sy natuurbewaarder-wederhelfte van die afgelope 22 jaar, Marlice, saam bedryf.

“Marlice het met diere grootgeword en is ’n wonderlike mens. Sy en ons seuns praat die taal van die San-mense vlot, en ons help hulle met die oprig van skole en klinieke.

“Ons organisasie fokus hoofsaaklik op konflik tussen mens en dier, en dus werk ons met mense, soos boere, wat probleme met wilde diere het. Die projek moet egter gefinansier word, en dus het ons ook betrokke geraak by toerisme, wat die sosiale en bewaringsprojekte finansieel ondersteun.”

Rudie en Marlice van Vuuren het twee seuns, Zacheo (17) en Nicklai (12), wat ook kranige krieket- en rugbyspelers is.

– Netwerk24/Rapport

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!