Yanks probeer Saru se beleërde Mzansi-liga red
Rugby
Die San Clemente Rhinos het hul voorneme in die Mzansi-liga die afgelope week duidelik gemaak – ondanks al die drama en omstredenheid rondom dié kompetisie, wil hulle daarin belê, geleenthede skep en bande smee met rugbyklubs en belangegroepe. En natuurlik wil hulle rugby speel.
Hulle het die afgelope week daad by die woord gevoeg deur vir die Keniaanse span, die Simbas, se vlugte te betaal om na Suid-Afrika te reis. Tot en met nou, is al die Simbas se wedstryde uitgestel omdat hulle glo nie die reiskoste kon betaal nie.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se ooreenkoms met die buitelandse spanne is dat hulle hul eie reiskoste, verblyf en bedryfskoste moet dek vir hul verblyftyd in Suid-Afrika.
Daarom het die Simbas en die Goshawks van Zimbabwe van hul wedstryde misgeloop.
Rugby365 het in Maart berig dat die Luiperds se uitvoerende hoof, Eugene Fourie, sy frustrasies oor die omstandighede uitgespreek het.
“Ons het so min geleenthede om blootstelling te gee aan ons borge; die span van Georgië het laasjaar dieselfde gedoen. Ons sal aandag daaraan moet gee om te sorg dat dit nie weer in die toekoms gebeur nie,” het hy gesê oor die Afrika-spanne wat nie hul wedstrydverpligtinge kon nakom nie.
Die wiel het egter nou vir die Simbas gedraai, danksy die Rhinos. Hulle sal tot middel Mei in Suid-Afrika wees en kan hulle wedstrydverpligtinge nakom voordat hulle terugkeer na Nairobi vir hulle drie tuiswedstryde.
’n Boodskap van ’n Keniaanse spanlid aan Andreea Trufasu, die Rhinos se uitvoerende hoof, lui: “Om hier te wees, is ’n wonderwerk, dis te danke aan julle.”
Saru se ondersoek oor die Rhinos se deelname in die Mzansi-liga is nog nie afgehandel nie. Dié ondersoek het twee weke gelede begin nadat die Valke geweier het om teen die Rhinos te speel weens die hoeveelheid Suid-Afrikaanse klubspelers in hul span.
Daarna het Saru ’n beperking ingestel en die Rhinos mag slegs vyf Suid-Afrikaners in hul span hê. Verder tel die Rhinos se wedstryde ook nie meer vir ligapunte nie. Trufasu het egter teen die besluit geappelleer. Sy sê hulle kom die beperkings na en glo daarom dat hul wedstryde vir ligapunte behoort te tel.
Rapport verneem Trufasu het Donderdag met Saru vergader, maar dis nog nie duidelik wat die uitkoms van die gesprek was nie.
Die Rhinos het gister teen die Simbas in die Strand in die Wes-Kaap gespeel. Die Rhinos het met 33-22 gewen.
Die Mzansi-liga is van meet af aan in omstredenheid gedompel toe Saru ter elfder ure onder druk geswig en ’n uitnodiging aan die Israeliese span Tel Aviv Heat onttrek het.
– Netwerk24/Rapport

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie