Zambië buit Afcon-prys net-net
Vrouesokker
'n Gelykopuitslag was gister nie genoeg om die Brave Gladiators te laat deurdring nie.
Ondanks ’n eervolle vertoning en onoorwonne veldtog is die Brave Gladiators se harte gebreek toe Zambië gister in die Dobsonville-stadion in Soweto, Suid-Afrika, die tweestryd om kwalifisering vir die 2022 Afrika-Nasiesbeker (Wafcon) in ’n opwindende gelykopwedstryd beklink het.
Die 1-1 uitslag is sekerlik nie te versmaai nie, maar as die besoekers was Zambië se doel deurslaggewend en hulle vorder na die Afrika-toernooi in Marokko, nadat die spanne verlede Woensdag in Lusaka met 0-0 gelykop gespeel het.
Woody Jacobs, hoofafrigter van Namibië, het grootliks sy span behou wat in Lusaka hul kans lewendig gehou het. Behalwe vir posisionele skuiwe, het hy drie veranderinge aan sy beginspan aangebring.
Ivone Kooper, Juliana Blou en Millicent Hikuam het gister in die plek van Anna-Marie Shikusho, Asteria Angula en Thomalina Adams (op plaasvervangerbank) op die veld gestap.
In ’n vinnige, aanskoulike wedstryd het Zambië se Shepolopo (Koperkoninginne) uit die staanspoor die pap duk aangemaak. Melissa Matheus (doelwagter) moes binne die eerste minuut haar keerwerk ken toe Zambië sy eerste doelpoging geloods het.
Hoewel Zambië die eerste helfte die meeste balbesit en gebiedsvoordeel geniet het, was dit die kombinasie van Zenatha Coleman en kaptein Emma Naris wat die telling met ses minute verstreke met 1-0 in Namibië se guns geswaai het. Coleman het die perfekte hoekskop geloods met Naris wat op die regte tyd uitgestyg het om die net met ’n kopstamp te laat bolstaan.
Zambië het egter te maklik besit van Namibië gesteel en Coleman is geen beweegruimte gegun nie.
Beide spanne het ’n handvol kanse verlore laat gaan met hoek- en vryskoppe wat skadeloos oor of verby die doelhokke geseil het.
Die Gladiators het hul harte uitgespeel, maar in ’n onbewaakte oomblik is hul drome verpletter om vir Marokko te kwalifiseer. Namibië se harte is in die tweede helfte (69ste minuut) gebreek toe plaasvrevanger Siomala Mapepa onverwags ’n verspot maklike doel behaal het. Matheus is aan die slaap gevang terwyl die bal aan haar regterkant verby geskop is.
Namibië het nie gaan lê nie en het hul buurland nog ’n paar keer skrik gemaak voor die eindfluitjie die spanne se uiteenlopende emosionele reaksie van vreugde en verplettering.
Jacobs en sy vrouespan kan egter trots wees op hul vordering die laaste 12 maande en dat hulle die kwalifiserende veldtog onoorwonne afgesluit. In die vorige rondte het hulle Tanzanië (die Cosafa-titelhouer) in beide wedstryde geklop.
Namibië se beginspan: Melissa Matheus (doelwagter), Twelikondjele Amutoko, Ndapewa Katuta, Emma Naris (kaptein), Ivone Kooper, Annouscka Kordom, Millicent Hikuam, Juliana Blou, Memory Ngonda, Veve Kotjipati, Zenatha Coleman. Plaasvervangers: Anne-Marie Shikusho, Asteria Angula, Lydiana Nanumus, Meltret Ujamba, Thomalina Adams, Fiola Vliede, Agnes Kauzuu (doelwagters).
• Suid-Afrika, met ’n 2-0 voorsprong, kan ook vandag sy plek bespreek in sy herontmoeting teen Algerië in Algiers. Die gasheer Marokko, Uganda en Burundi het reeds gekwalifiseer.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie