Zanté se span in eindstryd gestuit

Netbal
Andrew Poolman
Andrew Poolman

Zanté Farmer, oudskolier van Windhoek Gimnasium, was een van net twee Namibiërs in aksie by Suid-Afrika se Spar nasionale netbalkampioenskap die afgelope week op Potchefstroom.

In die nasionale o.21 A-kampioen­skap moes Farmer en haar spanmaats van Dr. Kenneth Kaunda (Noordwes-provinsie) die titel verdedig wat hulle verlede jaar verower het.

Die 20-jarige Farmer, ’n aanvallende speler as senter of vleuel, het nie laas jaar deelgeneem nie, omdat sy vanweë Covid-19 haar studies aanlyn vanuit Windhoek aangepak het.

Vanjaar was sy egter dié provinsiale span se kaptein. Die Noordwesters het opnuut tot in die eindstryd gevorder, waar Tshwane hulle egter met 38-27 geklop het. Tot in die derde kwart was hulle met net een punt agter.

• Annette van Staden, tevore in Windhoek Hoërskool, was lid van Kenneth Kaunda se tweede span wat in die senior B-kampioenskap deelgeneem het. Van Staden en Farmer het op o.12-, o.13-, o.15- en o.17-vlak saam vir Namibiese skolespanne gespeel.

• Namibië se voetspoor by vorige Spar nasionale kampioenskappe was ietwat groter, maar spelers soos Jaumbuaije Zauana (Bytjie) vir die Wes-Kaap het intussen uit netbal getree en Juzelri Garbers van Tuks se intensiewe werk- en studieverpligtinge in die regsgebied hou haar ook weg van die netbalbaan.

Die twee spanmaats by die Universiteit Johannesburg, Monica Gomases en Cornelia Mupenda, was ook in Potchefstroom afwesig omdat hulle tans die Namibiese nasionale oefenkamp in Windhoek bywoon. Die Desert Jewels begin speel komende Sondag in die Afrika-kampioenskap, wat ook vir Wêreldbeker-kwalifisering dien, met groepwedstryde teen Botswana, Zimbabwe, Suid-Afrika en Tanzanië as hul eerste uitdaging.

Farmer was tydens Juniemaand se driehoekige toernooi in Blantyre teen Malawi en Zimbabwe in aksie, maar was vanweë haar derdejaarstudies in sakebestuur nie vir die komende toernooi beskikbaar nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer