Bittereinder Drikus verdien brons in Atlasberge
Bergfietsry
Drikus Coetzee het Dinsdagaand saam met Kevin Benkenstein (38) van Suid-Afrika die Atlas Mountain Race in die algehele derde posisie voltooi, nadat die ultra-resies oor 1 305 kilometer in Marokko Vrydagaand weggespring het.
Die 31-jarige Namibiër en Benkenstein het ná vier dae een uur en 29 minute (97 uur 29 minute) saam oor die eindstreep in Essaquira gery waar hulle ‘n helde-ontvangs gekry het.
Met Alex McCormack (27) van Brittanje eerste oor die eindstreep in 92 ure, en die tweede ryer Benedek Borsos (28) van Hongarye 32 minute later, was die tafel gedek vir ‘n intense tweestryd tussen Die Masjien en die Suid-Afrikaner.
Vanaf die 1 180 kilometer-merk het hulle saam die laaste 124 km gery en alles in hul vermoë gedoen om mekaar af te skud. Nie een van die twee kon dit egter regkry nie.
Beide Drikus en Kevin het met onafgehandelde sake na die 2025-weergawe teruggekeer. Drikus was hoogs gemotiveerd nadat hy verlede jaar net 50 km voor die eindpunt weens ontwatering en wanvoeding moes onttrek. Indien hy toegelaat sou wees om te herstel en verder te ry, wat hy wou doen, kon hy steeds tweede op die podium gestaan het.
Benkenstein, wat in 2023 die vierde posisie gedeel het, was vasbeslote om vanjaar ‘n beter uitslag te bewerkstellig.
Hoewel nie een van die twee enige van die drie beheerpunte in 'n podiumposisie bereik het nie, het hulle deurgaans vasgebyt en gefokus gebly. Albei het 'n moeilike begin aan die wedloop gehad, maar hulle het nooit opgehou glo hulle kan sterk eindig nie.
Drikus het uit Essaquira aan Sport Wrap vertel: “Ek stuur maar ‘n stemboodskap, want ek kan nie tik nie. Ek het geen gevoel in my vingers nie. Ek is nog vodde, soos jy seker kan hoor.
“Die stof en die koue het my lippe en gesig goed bygekom. Die dag ná hierdie resies voel ‘n mens mos of jy ‘n groot babelas het. My hele lyf is seer en ek sukkel om te beweeg.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Ná die eerste dag was ek 90 km agter die voorlopers. Die sneeu teen die bergpas was onrybaar en ek moes daar stap en my fiets stoot. Ek vermoed my beenverwarmers het te veel drukking op my bene geplaas.
“Tussen kilo’s 160 en 200 het ek absoluut geen krag in my bene gehad nie.
“Daarna was daar ‘n gedeelte van 100 km waar geen winkel beskikbaar was om jou proviand aan te vul nie. Ek moes elke vyf minute stop, want my bene het gepyn en was sonder gevoel. Dit was toe dat die eerste vroueryer my ingehaal het. Ek kon nie eens by haar hou nie.”
Laaste gedeelte
“By ongeveer 780 km (sowat 50 km voor die derde beheerpunt) was McCormack omtrent 55 km voor my. Ek het toe nog gereken ek het ‘n kans om die resies te wen. Ek het toe laat waai en sy voorsprong tot 13 km verminder.
“By 1 050 km het die duinesand begin en dit was vanjaar baie droog en los. Ek kon nie daar deur ry nie en het vir twee ure my fiets gestoot. Alex het dit reggekry om die grootste gedeelte deur die duine te ry en hy het weer die gaping tussen ons gerek.
“Daar was toe 250 kilo’s oor en ek het toe besluit om alles in my vermoë te doen om my derde posisie te behou. Maar omrede ek hom so hard gejaag het, het ek my totaal en al uitgeput.
“Ek en Kevin was in ‘n tweestryd gewikkel. Ek het hom in ‘n stadium vir ‘n ruk afgeskud, maar hy het my weer ingehaal en ons is uiteindelik saam deur die eindpunt.”
Alex McCormack van Brittanje het Dinsdagmiddag die afstand 15 minute vinniger afgelê as Robin Gemperle van Switserland in 2023, die vorige keer toe die Telouet Kasbah-pas nog deel van die uitdaging was.
Hierdie bergpas was Vrydagnag met ‘n totale vertikale klimhoogte van meer as 2 500 meter die deelnemers se eerste groot hekkie om oor te kom. Dit is ook die hoogste piek van die hele roete.
Die Atlas Mountain Race het Vrydag in Marrakesj weggespring waar 265 bergfietsryers die tog oor die Atlasberge sonder ondersteuning aangepak het. Lopende riviere, reën, sneeu, ys, temperature ver onder vriespunt en dik sand was deel van die uitdaging.
Elk ryer was tydens dié uitmergelende ultra-marathon vir sy eie kos, water en slaapplek verantwoordelik. Die enigste steun waarop die ryers kon reken, was mediese sorg in ‘n noodgeval, wat ook nie onmiddellik in die gopse beskikbaar sou wees nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie